top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


VERGELDING

Matt 5:38-42 – “Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘ ‘n Oog vir ‘n oog en ‘n tand vir ‘n tand.’ Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle nie teen ‘n kwaadwillige mens verset nie. As iemand jou op die regterwang slaan, draai ook die ander wang na hom toe. As iemand jou hof toe wil vat om jou onderklere te eis, gee hom ook jou boklere. As iemand jou dwing om sy goed een kilometer ver te dra, dra dit vir hom twee kilometer. Gee aan hom wat iets van jou vra, en moet hom wat van jou wil leen, nie afwys nie.”

Vergelyk ook Lev 19:18 – “Jy mag nie wraak neem of ‘n grief koester teenoor jou volksgenoot nie, jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Ek is die Here.”


Jesus se vyfde teenstelling is glad nie maklik om toe te pas nie. “Julle het gehoor dat daar gesê is:..... ‘Maar Ek sê vir julle: .....” is nie net radikaal nie maar hier word ons dissipelskap tot op die uiterste beproef. In die geweldskultuur wat tans feitlik wêreldwyd heers, moet kwaad met hand en tand geveg word en indien dit nodig is, sommer met die voete ook!


Die Ou-Testamentiese vergeldingsreël, – “ ‘n oog vir ‘n oog, ‘n tand vir ‘n tand,” en verder (Eks 21:24), was bedoel vir die hof om grense te stel aan onbeperkte persoonlike vergeldingsaksies. In die gees van Lev 19:18, wys Jesus nou die skrifgeleerdes en Fariseërs se toepassing van die vergeldingsreël, af en benadruk dat ‘n mens in persoonlike verhoudinge, nie wraakgierig moet wees nie.


Jesus roep ons op om die inisiatief te neem om allerlei kreatiewe maniere te bedink en in werking te stel om geweld met liefde teen te staan. Geweld kweek geweld terwyl liefde en respek, wedersydse liefde en respek kweek. Paulus voeg by dat ons “nie eiewys moet wees nie, goedgesind moet wees teenoor alle mense en as dit moontlik is, sover dit van ons afhang, in vrede moet leef met alle mense. Ons moenie self wraak neem nie maar die oordeel oorlaat aan God” (Rom 12:16b-19).


Alles wat verganklik is sal tot niet gaan, selfs dit wat deur die smet van die sondeval aangetas is, sal tot niet gaan. Mense wat gedurig vergelding soek se menslikheid word stelselmatig afgebreek. Die ou spreekwoord: “Hy wat ‘n ander jaag, staan self nie stil nie”, getuig daarvan.


Maar God is nie ‘n Vernietiger nie, Hy is ‘n Herskepper. Hy maak nuut. Daar wag ‘n nuwe bedeling op ons waar alles nuut sal wees en waar die wil van God sal heers. “Maar ons leef in die verwagting van ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde wat God belowe het en waar die wil van God sal heers” (2 Pet 3:13).


Gebed: Dankie Here dat U onderskei tussen die regverdige en die goddelose. Dankie dat U geweld haat en mense liefhet wat regverdig en opreg handel (Ps 11). Skenk ons die wysheid om te strewe na selfbeheersing sodat ons geweld met liefde kan weerstaan, dat ons nie vergelding sal soek elke keer wanneer daar ‘n drif in ons ontstaan om wraak te neem nie. Laat ons U liefde openbaar.

Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page