top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


EEDSWERING – ‘n CHRISTEN PRAAT DIE WAARHEID


Matt 5:33-37 – “Verder het julle gehoor dat daar van die ou tyd af aan die mense gesê is: ‘Jy mag nie jou eed verbreek nie, en ‘n eed in die Naam van die Here moet jy nakom.’ Maar Ek sê vir julle: Moet glad nie ‘n eed aflê nie, ..........”

Vergelyk ook Lev 19:16 – “Jy mag nie loop en skinder nie, jy mag nie jou medemens se lewe in gevaar stel nie. Ek is die Here.”


‘n Sondige tong het ‘n gewillige oor nodig om die gemene bedrog te versprei. In die negende Gebod sê God vir ons uitdruklik dat ons nie vals getuienis teenoor ‘n ander mag gee nie. Dit gaan gewoonlik gepaard met ‘n voorafgaande “Die Vader weet, ek bedoel dit goed, maar......” Dit is inderwaarheid om onder eed, en nogal met God as getuie, te skinder. Die leuen word so maklik gebruik om die lewe van ‘n medemens, gewoonlik ‘n medegelowige, skepsel van die Here, te versuur.


Valse getuienis het al verskriklike gevolge gehad vir die liggaam van Christus. Deur die sonde het die gawe van verkeerde woorde ‘n vorm van haat tussen mense geword. Met dieselfde tong wat ons die Vader loof, vloek ons die mense wat as die beeld van die Vader gemaak is (Jak 3:9). Dit is so erg dat selfs Dawid al destyds beklemtoon het dat net dié wat onberispelik wandel en doen wat reg is, wat met sy hele hart die waarheid praat, nie kwaad praat nie, sy medemens nie kwaad aandoen nie en niemand beledig nie, die reg het om in die tempel in te gaan (Ps 15:1-3).


God het ons die gawe van spraak gegee sodat ons ons liefde vir Hom en ons naaste onder woorde kan bring. Om skinderstories te versprei, is om in dieselfde liga as leuenaars te speel. Ons behoort onsself in ‘n posisie te plaas waar dit nie nodig is om onsself daaruit te probeer lieg nie, soms nog ‘n eed ook byvoeg om dit te bekragtig. Die gevolg daarvan is om sonde by te voeg by sonde. Vermy dinge wat jou sal laat skaam kry indien dit rugbaar word. God eis dat ons ons woord reg sal gebruik teenoor Hom (derde gebod) en teenoor ons naaste (negende gebod).


Gebed: Here, hoe is dit moontlik dat ons met dieselfde tong waarmee ons U loof, ons naaste beledig en beskinder? Sit ‘n wag voor ons mond, Here, hou tog wag oor wat ons sê (Ps 141:3). Laat U waarheid ons lei en onderrig ons daarin, want U is God, ons redder (Ps 25:5).

Amen


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page