top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


Egskeiding


Matt 5:31-32 – “Daar is gesê: ‘Elkeen wat van sy vrou skei, moet aan haar ‘n skeibrief gee.’ Maar Ek sê vir julle: Elkeen wat van sy vrou skei behalwe oor owerspel, maak dat sy egbreuk pleeg, en iemand wat met die geskeide vrou trou, pleeg ook egbreuk.

Vergelyk ook Matt 19:4-6 – “Het julle nie gelees dat die Skepper hulle van die begin af man en vrou gemaak het nie? Daarom sal ‘n man sy pa en ma verlaat en saam met sy vrou lewe en hulle twee sal een wees. Hulle is dus nie meer twee nie, maar een. Wat God dan saamgevoeg het, mag ‘n mens nie skei nie.”


Jesus verklaar dat die huwelik deur God ingestel is. God maak die reëls, nie mense nie. Dit was God wat hierdie verbinding tussen een man en een vrou moontlik gemaak het (Gen 2:18). Dit was God wat Eva na Adam gebring het (Gen 2:22). Maak nie saak hoe mense redeneer en God se instelling afmaak as ‘n eenvoudige romantiese uitvindsel, of metode van sosiale beheer nie. Dit kan nie na willekeur afgemaak word as “outyds” of redenasies van “dit werk nie meer so in die nuwe millennium nie.” Dit is redenasies TEEN GOD SE WIL!


Die huwelik is ook ingestel tussen een man en een vrou “en hulle twee sal een wees.” Poligamie, homoseksualiteit of enigiets anders wat teen God se instelling van één man en één vrou, indruis, is die gevolg van sonde. Die huwelik is en bly ‘n heilige instelling van God en daarom is egskeiding slegs in uitsonderlike gevalle toelaatbaar maar nie noodwendig noodsaaklik nie.


Soms slaan ruwe storms teen ons huweliksbootjies vas en voel dit asof alles uitmekaar gaan breek. Ons Christene ken mos die Man wat op water kan loop! Moenie dat die son oor jou “storm,” oor jou woede, ondergaan nie. “As julle kwaad word, moenie sondig nie, en moenie ‘n dag kwaad afsluit nie. Moenie die duiwel ‘n vatkans gee nie” (Ef 4:26). Om kwaad bed toe te gaan beteken satan het sy sin gekry. Dit beteken nie om te wag totdat die “storm” eers uitwoed voordat jy gaan slaap nie. Na vier dae begin mens nogal vaak raak. “Wees geduldig met mekaar en vergewe mekaar as die een iets teen die ander het. Soos die Here julle vergewe het, moet julle mekaar ook vergewe. Bo dit alles moet julle mekaar liefhê. Dit is die band wat julle tot volmaakte eenheid saambind” (Kol 3:13).


“As jy vrede in jou huis wil hê, maak soos jou vrou sê.”


Gebed: Almagtige Vader, Laat U verheerlik word in ons huwelik. Voorkom dat die tragiese gebrokenheid wat deur sonde veroorsaak word, skade aan ons huwelike aanrig. Help ons om nie op ons eie kragteloosheid staat te maak op die herstelpoging wanneer onenigheid in ons huwelik plaasvind nie, maar dat ons vashou aan U as ons reddingsboei.

Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page