top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


Matt 5:14-16 – “Julle is die lig vir die wêreld. ‘n Stad wat op ‘n berg lê, kan nie weggesteek word nie; ook steek ‘n mens nie ‘n lamp op en sit dit onder ‘n emmer nie maar op ‘n lampstaander, en dit gee lig vir almal in die huis. Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik.”

Vergelyk ook Joh 1:4-5 – “In Hom was daar lewe, en dié lewe was die lig vir die mense. Die lig skyn in die duisternis, die duisternis kon dit nie uitdoof nie.”


"Die volk wat in donkerte geleef het, het 'n groot lig gesien, oor dié wat in die donker land was, het 'n lig geskyn" (Jes 9:1). Jesaja beskryf hoe God as die Lig in die donkerte van die volk geskyn het. Net so het Jesus as die Lig van die evangelie na ons gekom wat in die donkerte van sonde gehul was. Instede van donkerte van verderf het ons die lig van vrede en seën; instede dat die donkerte van die dood ons tref, ontvang ons die lig van die lewe; instede van die donkerte van onkunde, die lig van kennis; instede van die donkerte van die sonde, die lig van genade en redding en hierdie redding het ‘n totale ommekeer in ons lewe veroorsaak.


Al is die donkerte so dig dat dit spreekwoordelik “voelbaar” is, kan dit nie eers ‘n klein kersvlammetjie uitdoof nie – wat nog te sê van die lig wat Christus aangesteek het. Daardie lig skyn aanmekaar in die duisternis Sommige het egter die duisternis liewer as die lig – “en so kom die skeiding: die lig het na die wêreld toe gekom, en tog het die mense eerder die duisternis as die lig liefgehad, want hulle dade was sleg. Elkeen wat kwaad doen, haat immers die lig en kom nie na die lig toe nie, sodat sy dade nie aan die kaak gestel moet word nie” (Joh 3:19-20).


‘n Lewe in Jesus se Lig is ‘n keuse by elke mens, dit is nie vanselfsprekend nie. Dit is ‘n keuse wat ons telkens moet herhaal. Satan en sy bose magte se hoofdoel is om ons buite die ligkring van God se genade te kry en as hy eers sy voet in die deur gekry het, hou hy nie op met sy pogings nie. As ons in die lig wil bly moet ons die deur gesluit hou en as mense van die lig lewe. “Die pad van die regverdiges is soos helder oggendlig wat groei en sterker word tot dit heeltemal dag is” (Spr 4:18).


Gebed: Here, maak ons bereid om die sonde wat donkerte bring, te vermy. “Close the door to temptation” klink die liedjie, maar in werklikheid is dit veel meer as dit. Dit is asof die donkerte ons so maklik oorheers terwyl ons eintlik in die lig wil wees. U is die skeiding tussen lig en donker en waar U is, is daar lig en ewigdurende lewe. Help ons asseblief om in U lig te bly en dat die duisternis ons nooit oorwin nie.

Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page