top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


Matt 5:13 – “Julle is die sout vir die aarde. Maar as sout verslaan het, hoe kry ‘n mens dit weer sout? Dit is niks meer werd nie. Dit word buitekant weggegooi, en die mense vertrap dit.”

Vergelyk ook Kol 4:6 – “Wat julle sê, moet altyd vriendelik wees en van goeie smaak getuig; en julle moet weet hoe julle elkeen behoort te antwoord.”


‘n Christen wat sout vir die aarde is, het ‘n soort antiseptiese invloed in ‘n korrupte en besmette wêreld. Dit is bekend in wie se geselskap mens kan ontspan en wie se geselskap standaarde verlaag. Party mense raak die mooiste woorde kwyt as hulle in godsdienstige kringe is maar elders praat hulle ‘n soort taal wat nooit enige beskaafde woordeboek sal haal nie.


Die Christen is die antiseptiese sout wat ook as skoonmaakmiddel dien in enige geselskap waar hy hom bevind. Hy is nie ‘n toneelspeler of skynheilige wat God dien net wanneer dit hom pas nie. Hy dien die Here volspoed selfs wanneer niemand anders hom sien nie. Hy is die persoon wat selfs net met sy teenwoordigheid dit makliker maak vir ander om reg op te tree.


Sout se beste kwaliteit is natuurlik om geur aan kos te gee. Voedsel sonder sout is smaakloos. Christenskap is vir die lewe wat sout vir kos is. Christenskap gee smaak aan die lewe. Ongelukkig is daar diegene wat Christenskap juis aan die teenoorgestelde konnekteer – Christenskap neem die smaak uit die lewe uit. Dit verwyder die opgewondenheid daarvan, maak dit oninteressant, depressief! Waar bevind jy jou? Is jy sáám met die bederf of téén die bederf? ‘n Ware Christen is nie skaam vir sy andersheid nie, hy ís sout vir die wêreld en “getuig van goeie smaak!


Gebed: Dankie hemelse Vader, dat U juis vir ons daardie keuse laat of ons vir U wil wees of teen U. Gee ons ‘n fyn aanvoeling sodat ons in elke omstandigheid sal kan onderskei wat die regte ding is om te sê en te doen, sodat ons die regte “geur” kan gee aan almal rondom ons. Van U kom die wil om die goeie te doen, en dít maak ons anders. Dankie dat ons nie skaam is oor ons andersheid nie.

Amen

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page