top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


Matt 5:6 – “Geseënd is dié wat honger en dors na wat reg is, want hulle sal versadig word.”

Vergelyk ook die aanhalings in die Dagstukkie.

Jesus skryf Sy perfekte regverdigheid toe aan ons sodat die geskenk van die ewige lewe ons s’n is. Om met God te versoen en God se vrede te ervaar is Christus die antwoord. Hy kan dit gee want “Hy is die weg, die waarheid en die lewe. Niemand gaan na die Vader toe behalwe deur Hom nie” (Joh 14:6).


Vir hulle wat ‘n behoefte het om vergifnis van sonde te ontvang en vrede met God wil ervaar, moet Jesus omhels in die geloof en sal versadig word “en die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor hulle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus” (Fil 4:7).


Net Jesus kan dit doen. Hy is die Verlosser “en wie van die water drink wat Jesus gee, sal in alle ewigheid nooit dors kry nie. Die water wat Jesus gee, sal in hom ‘n fontein wees wat opborrel en vir hom die ewige lewe gee.” (Joh 4:14).


Jesus sê ook “Ek is die brood wat lewe gee. Wie na My toe kom, sal nooit weer honger kry nie, en wie in My glo, sal nooit weer dors kry nie” (Joh 6:35). Die wêreld met sy aardse dinge is nie die antwoord om versadig te word nie.


“THE WORLD IS FADING, NOT FEEDING.” (Lloyd-Jones)


Geregtigheid is vullend. Dit vul só dit maak tevrede. Mens mag gevul word met aardse dinge, maar dit is tydelike en menslike tevredenheid. Al hierdie wêreldse dinge is van verbygaande aard. Jesus lei ons na fonteine van lewende water wat ewigheidswaarde het. Daar is ook die satisfaksie dat niks onheiligs daar sal inkom nie : “Niks onreins en niemand wat iets losbandigs en vals doen, sal ooit daarin kom nie, maar net dié wie se name in die boek van die lewe, die boek van die Lam geskrywe staan.” (Op 21:27)


Gebed: Here, hier staan ons voor U. Dit is Vrydag, Ons is moeg gespartel en gespook. Tot stilstand geruk deur ons eie pogings – uiteindelik gereed om na U te luister. Help ons om deur die krag van die kruis by God uit te kom, vullend en versadig van die brood wat lewe gee en die water van ewigheidswaarde waar ons nooit weer dors sal kry nie.

Amen


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page