Gedagte vir Vandag
Maandag, 10 Maart 2025
Koos Espach
Dood vir die sonde, maar lewend vir God (4)
Ons is deel van Jesus se opstandingsgeskiedenis
Rom. 6:5-6 – “Aangesien ons met Hom een geword het in sy dood, sal ons sekerlik ook met Hom een wees in sy opstanding. 6 Ons weet tog dat die sondige mens wat ons was, saam met Christus gekruisig is sodat ons sondige bestaan beëindig kon word. Ons is dus nie langer slawe van die sonde nie.”
Vergelyk ook Gal. 2:19b-20 – “Ek is saam met Christus gekruisig, 20 en nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe.”
Paulus gaan voort met sy argument en noem nou die reeks ervarings van Christus op. Hy bevestig hiermee dat ons as gedooptes aan hierdie ervarings ‘deelneem’: Gekruisig, gesterwe, begrawe en opgestaan. Dit hou in dat, soos Christus deur die wonderbaarlike magsdaad van die Vader hierdie ervarings beleef het, ons dit ook beleef om ’n nuwe lewe te kan lei. Paulus wil beklemtoon dat ons as gedooptes absoluut vry is van die sonde. As dopelinge is ons klaar “saam met Christus” aan die kruis gespyker, ons het klaar “saam met Hom” gesterf, ons is klaar “saam met Hom” begrawe, daarom sal ons “saam met Hom” opstaan en “saam met Hom” lewe.
Vanweë ons eenheid met Christus geld sy “opstanding”, as die waarborg daarvan dat ook ons vry is van die sonde en ’n nuwe lewe kan lei. Paulus sien dus nie net die kruis van Christus nie, maar ook sy opstanding as gebeurtenisse waarby ons as gelowiges en gedooptes deel van is.
Billy Graham sê Golgota is die toppunt van liefde, en ons kan nie anders as om met hom saam te stem nie! Ons erfsonde van Adam, het veroorsaak dat die doodsvonnis oor ons uitgespreek is en eintlik die dood en hel verdien. Die kruis egter, waar Christus in ons plek die wêreld se sonde op Hom geneem het en daarvoor moes sterf, is die enigste plek waar ons vergifnis kan vind en ook die enigste plek waarheen ons kan vlug. “Ons weet tog”, of liewer, “glo dit tog”, sê Paulus, “... ons is nie meer slawe van die sonde nie.”
Hoekom nie? Ons is “saam met Christus gekruisig en ons sal sekerlik ook een wees in sy opstanding.” Die vraag is dan: Kon God sy Seun na die wêreld stuur en ons sterf saam met Hom en staan saam met Hom op, en dan voortleef of dit alles net eenvoudig nie gebeur het nie? Dit is dan nodig om weer by Christus se Kruis te gaan staan en Christus se ervaring daar te beleef.
Jesus is gekruisig tussen twee rowers aan ‘n ruwe kruishout net buite Jerusalem op Golgota. Vir ons het Hy sy hoof aangebied vir ‘n doringkroon. Vir ons het Hy sy gesig aangebied om geklap en op gespuug te word. Vir ons het Hy sy rug aangebied om gegesel te word sodat met elke hou van die nege en dertig, stukke vleis daaruit geruk word. Vir ons het Hy die Via Dolorosa in bespotting voortgesukkel. Vir ons het Hy sy hande en voete vir die spykers aangebied. Vir ons het Hy sy sy vir die spies aangebied. Vir ons het Hy sy bloed en liggaam aangebied. Vir ons was Hy bereid om ons sonde op Hom te neem en te sterf. Alles vir ons, sodat ons kan leef!
Maar dis nie die einde van die verhaal nie. As ons mooi kyk, sal ons sien die graf waar hulle Hom gaan neerlê het, is leeg. Jesus leef, Hy is die lewende Christus! As Hy nie leef nie, is daar geen hoop vir ons nie. Maar Hy leef! Paulus sê: “Ons weet tog”, die sondige mens wat ons was, letterlik, “die ou mens wat deur die sonde beheers is”, die gevalle mens met sy of haar verdorwe aard. Christus het Homself met daardie ou sondige mens vereenselwig en daarom die dood gesterf en die straf gedra wat daardie ou mens verdien het. “Die ou, sondige mens” is in Hom aan die kruis geslaan. Daardeur is die ou sondige bestaan waaraan die gelowiges van nature deelgehad het, tot niet gemaak. Letterlik: “die ou liggaam van die sonde is tot niet gemaak”.
Wat beteken dit vir jou en my as gelowiges in Christus? Dit beteken dat Christus leef, en ek en jy leef ook as ons in Hom is en Hy in ons. En die lewe wat ek en jy nou hier lewe, leef ons in die geloof in die Seun van God wat ons só liefgehad het en sy lewe vir ons afgelê het. “En nou is dit nie meer (ons) wat lewe nie, maar Christus wat in (ons) lewe.” Ons sondige self lê daar by die houtkruis begrawe. Ons sonde is daar vir ewig agtergelaat. Ek en jy is nou deel van ‘n splinternuwe geskiedenis – Jesus se opstandingsgeskiedenis! Halleluja!
“Christus het opgestaan, maar nie ons sonde nie; dié het saam met Hom gesterf. Die straf op daardie sonde is vir ewig in Christus se leë graf begrawe” (Thomas Brooks).
Gebed: Onse Vader, ek bedek my gesig in skaamte dat my sondes veroorsaak het dat u Seun aan die kruis moes sterf. Maar ek juig oor sy opstanding! En ek eien my verlossing toe deur Hom. Dankie liewe Vader, vir die wonderlike geskenk van verlossing in Christus. Dankie Jesus, vir alles! U is my alles! Amen.
Comentários