top of page

Gedagte vir Vandag

Dinsdag, 8 Maart 2022

Koos Espach


Jesus se opdrag aan die dissipels (3)


My Here en my God


Matt. 28:17 – “Toe die dissipels Hom sien, het hulle Hom aanbid, hoewel party getwyfel het.”


Vergelyk ook Joh. 20:24-28 – “Tomas, wat ook Didimus genoem is, een van die twaalf, was nie by die dissipels toe Jesus gekom het nie. Die ander dissipels sê toe vir hom: ‘Ons het die Here gesien!’ Maar hy sê vir hulle: ‘As ek nie die merke van die spykers in sy hande sien en my vinger in die merke van die spykers steek en my hand in sy sy nie, sal ek nooit glo nie.’ Ag dae later was Jesus se dissipels weer bymekaar, en Tomas was by hulle. Hoewel die deure gesluit was, het Jesus gekom en tussen hulle gaan staan en gesê: ‘Vrede vir julle!’ Daarna sê Hy vir Tomas: ‘Bring jou vinger hier en kyk na My hande; en bring jou hand en steek hom in My sy; en moenie langer ongelowig wees nie, maar wees gelowig.’ En Tomas sê vir Hom: ‘My Here en my God!”


Arme Tomas, hy mis toe uit wanneer Jesus in Jerusalem op Opstandingsondag aan die ander dissipels verskyn. Opstandingsondag was vir hulle die begin van ‘n nuwe lewe en opgewonde vertel hulle aan hom dat hulle “die Here gesien het.” Maar selfs die besielende opgewondenheid van die ander dissipels, sal hy nie alles vir soetkoek opeet nie. Hy sal slegs kan glo as hy met sy eie sintuie hom van die waarheid daarvan oortuig het – Tomas soek tasbare, onwrikbare feite. Hy was ‘n “sien is glo” kêrel. Só het ou “ongelowige Tomas” ‘n minder goeie bydrae gemaak tot die skat van Afrikaanse spreekwoorde.


“Ag dae later” na Opstandingsondag, staan Jesus weer in die dissipels se midde, met dieselfde woorde van hoop en “vrede vir julle!” Heeltemal bewus van Tomas se twyfel, is dit amper asof Jesus spesiaal teruggekom het om Tomas tevrede te stel. Jesus het hom nie veroordeel of verwyt omdat hy nie dadelik geglo het nie, want Hy het geweet dat dit Tomas se begeerte was om hierdie twyfel uit die weg te ruim. Daarom is dit so wonderlik om te sien hoeveel begrip Jesus het vir Tomas se aanvanklike twyfel. Jesus los hom nie met sy “sien is glo” benadering nie. Hy steek sy hand na Tomas toe uit om hom as’t ware uit sy vertwyfeling te lei en sy geloof te bevestig. Ons kan aanvaar dat Tomas Jesus ook nie dadelik herken het nie maar ten spyte daarvan, Jesus dadelik aangespreek het as “my Here en my God.”


Daar is vandag nog baie Tomasse in die wêreld, mense met “sien is glo” benaderinge. Daar is iets aan hierdie “ongelowige Tomasse” wat maak dat hulle nie sommer sal glo nie. Daardie “iets” is omdat ek en jy mens is. Die mens se geaardheid veroorsaak ongeloof. Selfs die kleinste negatiewe gebeurtenis verander by menigte twyfel in God se bestaan. Die gevolg van die geloofskrisis veroorsaak dat die kerk of enigiets wat daarmee gepaard gaan, dan vermy word; dit is mos God se skuld dat dit so sleg gaan. Mense wil altyd eers self sien, self ervaar, self verstaan voor hulle dit glo. By baie pas geloof nie meer in by die een en twintigste eeu nie. Die wetenskap het dit vir die mens moontlik gemaak dat God se hand nie meer in alles gesien of ervaar word nie; dit is nie meer God wat in hulle behoeftes voorsien nie, hulle kan vir hulself sorg.


Die pad uit ongeloof uit, loop deur ‘n ontmoeting met die opgestane Jesus. Wanneer Hy sy hand na my en jou uitsteek, wanneer Hy ons lewe betree, verander alle twyfel in sekerheid. Saam met mede-gelowiges en deur Sy lewende Woord, dwing dit ons op ons knieë en word my en jou ongeloof, verander in “my Here en my God!” Ja, ek weet, dis nie maklik nie want ons probleme dwing ons in ‘n donker gat in. Dan is dit éérs nodig om saam te wees waar die gemeenskap van gelowiges bymekaar kom; God te soek in sy Woord; hande uit te reik na die opgestane Jesus en Hom aan te roep in gebed. Ons kan nie dan wegkruip in ons dop en bewyse soek om te kan glo nie. Die Jode het Jesus in lewende lywe gesien en steeds nie geglo nie – Jesus nooi ons uit om self die hand na Hom uit te steek, Hy is by ons in Sy Woord en sy Gees. Ek en jy kán niks anders doen as om in kinderlike geloof God se hand styf vas te hou en saam met Tomas te bely: “My Here en my God!”


“Kyk na jouself en jy sal op die lange duur net haat, eensaamheid, wanhoop, woede en verrotting vind. Maar kyk na Christus en jy sal Hom vind en saam met Hom, alle ander goeie dinge” (C.S. Lewis).


Gebed: Here Jesus, dankie vir genadetyd. Dankie vir onvoorwaardelike geloof in U. Dankie dat U deur die geslote deur van my hart kan dring en met U sagte voetstappe van vrede my onstuimige gemoed vul met antwoorde op al my verwagtinge. Al voel ek soms eensaam en al twyfel ek ook soms in ongeloof, wéét ek U is altyd by my, in U hande is ek veilig. Saam met Tomas bely ek:My Here en my God!” Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page