top of page

Gedagte vir Vandag

Maandag, 7 Junie 2021

Koos Espach


JESUS ONDERWEG NA SY LYDING, DOOD EN OPSTANDING (102)

(Matt. 16:21–25:46)


Jesus se vyfde toespraak: Ellende-aankondigings teen die skrifgeleerdes en Fariseërs (3)

(Matt. 23:1-36)


Jesus waarsku teen die skrifgeleerdes en die Fariseërs (3)

(Mark. 12:38-39; Luk. 11:43-46; 20:45-46)


God se boekhouding werk anders!


Matt. 23:5-7 – “Alles wat hulle doen, doen hulle net om deur mense gesien te word. Hulle maak die gebedsband om hulle voorkop breed, en die tossels aan hulle klere groot. Hulle hou van die ereplekke by die feesmaaltye, en van die voorste plekke in die sinagoges en om op straat deur die mense begroet en as ‘rabbi’ aangespreek te word.”


Jesus is besig om Sy dissipels en almal wat Hom gevolg het, te waarsku teen die volksleiers. Juis hulle wat die wil en beloftes van God uit sy Woord aan die volk bekend moet maak, het weens die onopregtheid van hulle godsdiens ’n gevaar vir die volk geword. Die gevaar skuil daarin dat hulle liewer hul eie eer soek as dié van God, en sodoende hulleself meer laat vereer as God. Deur hulle formele kleredrag by alle geleenthede, hulle toeëiening van vereringe op die markte en in sinagoges en by feesmaaltye, het hulle die skyn gewek dat hul innerlike deugsaamheid so ’n verering regverdig. “Alles wat hulle doen, doen hulle net om deur mense gesien te word” en om mense te beïndruk.


Die probleem met die volksleiers was dat hulle manier om liefdadigheid toe te pas, gedoen is om iets te verdién by God en deur mense geëer te word, en nié om “ons Vader wat in die hemel is, te verheerlik nie” (Matt. 5:16b). Hulle het al die regte godsdienstige bewegings gemaak, maar hulle het vergeet om op die regte plek erkenning te gaan soek, hulle wou hulle eie eer by mense ingestel kry!


Hulle het hulself deur hulle vroomheid voorgehou as modelmense. Dit was vir hulle belangrik dat die gewone man op straat hulle komplimenteer, hulle het hul “godsdienstige pligte in die openbaar nagekom om deur mense gesien te word” (Matt. 6:1). Mense wat sê: “Ai broer, ek wens ek was so godsdienstig soos jy, jy doen só baie vir die armes; jou liefdadigheid ken geen perke nie!”


Net soos in die geval van hulle toepassing van liefdadigheid, waarsku Jesus ons hier teen vroomheidsvertoon wanneer ons bid. Tydens die vaste gebedstye van die Jode destyds (Hand. 3:1), kon hulle behalwe in die tempel, ook “in die sinagoges en op die straathoeke” (Matt. 6:5) bid. Die Jode het drie keer per dag, sekere tye afgesonder om te bid. Maak nie saak waar hulle hul bevind het nie, op daardie spesifieke tye het hulle gestop, met uitgestrekte arms na bo gerig, hoof geboë en gebid dat almal om hulle kon sien en hoor. God was beperk tot hulle tye. Gebedsvoorskrifte was aan die orde van die dag as deel van hulle tempeldiens. Ongelukkig het dit algaande ‘n wettiese voorskriftelike handeling geword in plaas van ‘n innige persoonlike gemeenskap met God.


Jesus kom stel die orde reg. Hy verbied nie openbare gebed nie, is ook nie teen lang gebede of gebede in die openbaar nie (Jesus self het ‘n hele nag in gebed deurgebring [Luk. 6:12]), Hy waarsku teen gebede wat gebid word om ander mense te beïndruk. Hy kyk, luister en weet wat die motief van die gebed is en as dit bedoel is om God te probeer oorreed, of Sy arm te probeer draai om die gebed te verhoor, het “hulle hulle beloning klaar weg” (Matt. 6:5).


Jesus was geensins beïndruk nie. Hy het tot in hulle harte ingekyk en wat Hy daar gesien het, was die “self” wat erkenning gesoek het, en dit het Hom nie opgewonde gemaak nie. Wat Hy daar gesien het was ‘n spul godsdienstiges wat verslaaf was aan mense se erkenning. Die mens wat gedurig bereken hoeveel hy gaan ontvang in ruil vir wat hy aan ander gee en doen; die mens wat God “gebruik” as sy rekenmeester. As ek sóveel doen sal ek sóveel terug ontvang – ‘n balanstaat van debiete en krediete. God, ek het nou soveel gedoen, dit is nou U beurt!


Wat is ons gelowiges in Christus, se beloning? Doen ons godsdienstige dinge om God én mense te beïndruk, of om Hom te verheerlik? Ons Vader se liefde en genade is eindeloos want dit is nie materialisties nie, dit is gevul met ongelooflike seën. Die pad wat ons loop is nie altyd maklik nie, maar die satisfaksie wat daaruit verkry word omdat ons gehoorsaamheid aan Jesus openbaar, is vreugdevol. Die ewigheidsbeloning kan nie in geld bereken word nie, want God is ook daar. Hy deel Sy goedheid en krag uit aan elkeen wat saam met Hom dit waag en Hy voeg daagliks meer en meer by, sodat ons meer en meer diensbaar kan wees aan ander.


Dit is die moeite werd om ewige beleggings te maak in ‘n hemelse bankrekening. God word dan nie aangewend as ons “Rekenmeester” nie, Hy doen dan Sélf die berekeninge want ek en jy het ons lewe by die regte “Bank” belê. Om op Jesus se pad te loop is om tyd en energie te spandeer aan ander, om diens te lewer, betrokke te raak by die Here van die dinge. Om net besorg te wees oor onsself is vervelig en buitendien laat ons al die kanse wat die Here ons bied om te dien, deur ons vingers glip. Bewys aandag, deernis en ontferming aan ander, dis wat Jesus vir ons gedoen het. Deur onsself te gee as dienaars, is die beste belegging by God, by Hom is gewaarborgde ewige wins!


“Wie hom oor ‘n arm mens ontferm, gee ‘n lening aan die Here, en Hy sal hom ten volle vergoed”

(Spr. 19:17).


Gebed: Hemelse Here, laat my lig só skyn dat mense my goeie werke kan sien. Nie om te sien hoe goed of oulik ek is nie, want dit is nie so nie. Laat dit egter wees om my Christenskap te openbaar en God te verheerlik, nié ‘n motivering om my eie populariteit te bevorder, of roem daarin, of om ander se goedkeuring te verkry nie, maar in die Naam van Jesus Christus, my Here. Want wanneer ek iets goeds doen, is dit vir ‘n gehoor van dié Een, en dis méér as genoeg. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page