top of page

Gedagte vir Vandag

JESUS WORD TEENGESTAAN EN BELY. SY DADE VAN BARMHARTIGHEID TEENOOR JOOD EN HEIDEN.

(Matt. 13:54–16:20)

DIE KANAÄNITIESE VROU (4)

(Mark. 7:24-30)

DIE HEILIGE GEES LEER ONS OM GOD SE ANTWOORDE TE KEN!

Matt. 15:28 – “Mevrou,’ sê Jesus vir haar, ‘jou geloof is groot. Jou wens word vervul.’ Van daardie oomblik af was die dogter gesond.”

Vergelyk ook Luk. 18:7-8 – “Sal God dan nie aan sy uitverkorenes, wat dag en nag tot Hom roep, reg doen nie? Sal Hy hulle lank laat wag? Ek sê vir julle: Hy sal hulle help, en gou ook!”

Hierdie heidense vrou kom met onbuigbare volharding na Jesus toe, nie omdat sy gedink het Hy haar moontlik sal kan help nie, maar omdat sy geweet het, Hy was haar enigste hoop. Sy het as’t ware haar siel voor Jesus kom uitstort in gebed: “Here, help my!” – Hoe groter die nood, hoe korter die gebed! Sy het in haar desperaatheid besef, sy kon nie, sy wil nie, sy gaan nie, sy hoef nie, néé, vir ‘n antwoord te aanvaar nie! Aangrypend!!!

Jesus vertrek nie toevallig na die streke van Tirus en Sidon nie, Hy “MÓÉS” daarheen gaan – volgens God se tydskedule móés Hy! En Hy móés 'n Kanaänitiese vrou kry wat onverwags by Hom aangekom het (v. 22). Hy móés met haar, ‘n vrou, nogal ‘n heidense vrou, ten spyte van Joodse reëls, in die openbaar praat. Jesus verbreek letterlik elke reël en elke muur van skeiding. Hy móés dit doen want in God se koninkryk is daar nie plek vir diskriminasie nie, Hy veroordeel dit; Hy verbrysel vyandskap en haat vooroordele. Die grootste van álles: Hy het onvoorwaardelik lief. Menslike liefde sê: “Ek het jou lief want ek hou van wie en wat jy is.” God se liefde sê: “Ek het jou lief op grond van wie en wat ÉK IS.”

Hierdie vrou ken haar plek voor Jesus, maar sy is ook ’n ma, en sonder om die kinders se brood te eis, bly sy volhardend aan die Here vashou in die geloof dat daar vir die heidene dan minstens krummels van sy oorvloedige voorsiening kan wees. Menslik gesproke en met respek, dink ek sy het reggekry om Jesus se arm te draai. Jesus reageer hierop met ’n uitspraak oor haar “groot geloof” wat in skrille kontras staan met Petrus terwyl hy in die water sink (14:31), asook met die Jode in Nasaret (13:53-58) én deurgaans die Joodse godsdiensleiers.

Haar geloof hou haar in haar krisis vas aan die Here se Woord, en die Here van die Woord. Haar geloof behels ook ’n aanvaarding van die spesifieke situasie waarin Jesus optree, met die geloof dat daar in hierdie situasie tog ook genade vir haar en haar kind sal wees. En haar geloof kry die onmoontlike reg, daarom is die genesing van haar dogter, so half terloops, reeds iets van die verlede. Vir haar is dit ’n nuwe toets van haar geloof om op die woord van Jesus te gaan en te aanvaar, sonder dat sy enige uiterlike teken van Hom ontvang, dat die duiwel klaar uit haar dogter gegaan het. Met kinderlike vertroue aanvaar sy Jesus se woord, gaan huis toe en tuis vind sy haar dogtertjie uitgeput op die bed lê, maar genees (Mark. 7:30).

Die vraag is nou onverwyld: “Hoekom antwoord die Here nie op mý roep nie?” Baie van ons sal onmiddellik reageer en sê dat dit waarvoor hulle op die Here vertrou en waarvoor hulle “Hom aanroep in benoudheid” (Ps. 50:15) – genesing, of vir ‘n werk of ander voorsiening – gebeur net nie! ‘n Vriendin vertel onlangs aan ons dat sy die afgelope paar maande aanhoudend gebid het dat God haar man asseblief moet genees, en niks het gebeur nie, inteendeel, die teenoorgestelde van dit wat sy God mee vertrou het en in opregte geloof gevra het, het gebeur. Ons het nie die regte antwoord nie, ons weet egter “die ewige God is ‘n skuilplek, sy arms is altyd onder jou” (Deut. 33:27). God bly steeds vir ons God, al bly Hy soms stil en beantwoord Hy nie ons gebede soos ons dit graag wil hoor nie. God waarborg nie dat ons vry sal wees van alle droefheid nie. God is immers nie nét ons God omdat Hy ons gebede beantwoord of nie beantwoord nie. Hy sal wel die gebroke hart weer heel en vrede en vertroosting in haar hart bring.

As “God se uitverkorenes behoort ons dag en nag tot God te roep”, nie omdat Hy ons nie hoor nie, maar juis omdat ons seker is dat Hy ons sal verhoor. Wanneer ons in diepe afhanklikheid aanhou om Hom aan te roep, sal God Sy genade aan ons skenk wat Hom met hartlike versugtinge sonder ophou, daarvoor bid en daarvoor dank. Ons het ʼn belofte uit die mond van Jesus self. Hy sê: “Vra, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal kry; klop, en vir julle sal oopgemaak word” (Matt. 7:7). Daarby het ons 'n Voorspraak by God wat verklaar het: "As julle in My bly en my woorde in julle, sal julle vra net wat julle wil hê, en julle sal dit kry" (Joh. 15:7). Bedes wat nie dadelik vervul word nie of selfs onvervuld bly, mag dus nie tot moedeloosheid lei nie. God verhoor op Sy tyd en volgens Sy wil.

Gebed bring ons in pas met God en nie God in pas met ons nie. Hoofsaak is dat daar volharding sal wees in die gebed om God te verheerlik, en 'n onwankelbare geloof in Jesus Christus, wat ons geleer het hoe om te bid (Matt. 6:5-14). Dit sou baie onverskillig wees om op te hou glo in God, of op te hou vra omdat ons nie verlos is van die situasie waarin ek en jy ons soms bevind nie.

Ons glo mos nie in die Here en voldoen mos nie aan Sy versoeke sodat ons Hom tevrede wil hou dat Hy kan doen wat ons verwag nie. Dis nie God wat ons moet dien nie, ons moet Hóm dien. Die grootste toets van aanbidding is om te sê: “Here, ek sal U aanbid as my Here en my God, al beantwoord U nooit een van my gebede nie!” As nederige en afhanklike sondaarmens, kan en mag ek nie aan God eise stel nie. Wat Hy vir my doen, is nie ‘n voorwaarde oor hoekom ek Hom aanbid en in Hom glo nie. Ek aanbid en glo in Jesus Christus want Hy is God! Al verstaan ons nie altyd God se besluite nie, kan ons steeds vashou aan die belofte dat “God aan sy uitverkorenes, wat dag en nag tot Hom roep, reg sal doen, en hulle sal help!”

“God wil hê ons aanbidding moet deur liefde, danksegging en vreugde gemotiveer word; nie deur ‘n pligsbesef nie” (Rick Warren).

Gebed: Dankie Here vir die verhaal van hierdie besondere vrou, en dat sy my herinner aan U liefde en genade wat die sterkste helende krag in die wêreld is. Ek dra aan U soveel mense op wat bedroef is, soveel mense wat honger is, siek of verslaaf. Laat u Gees nuwe lewe bring waar mense sonder hoop en uitsig is, en tot die dood toe moeg van sukkel. Stort asseblief U verkwikkende seën uit in ons harte en huise, in U kerk, en oor ons wye land en oor ons grense. Versterk my geloof asseblief o Heer, dat ek nooit sal twyfel nie maar standvastig daarin sal bly. Dankie o Gees, dat U my Voorspraak is by God en my daaraan herinner dat “U my hoor as ek na U roep” (Ps. 4:4b). Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page