top of page

Gedagte vir Vandag


JESUS SE EERSTE TOESPRAAK : DIE BERGREDE – DIE GESEËNDES!

(Matt. 5-7)


SEWENDE SALIGSPREKING (1) : MAAK VREDE!


Matt. 5:9 – “Geseënd is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word.”


Hierdie woorde is skokkend! Weet hierdie Leermeester niks van ons swaarkry onder die Romeinse oorheersing nie? Ons het gedroom van ‘n Messias wat met militêre mag die volk van die Romeinse juk sal bevry en nou praat hierdie Man, waarna Johannes die Doper verwys het as die “Lam van God”, dat ons makers van vrede moet wees. Sy opdrag is kort en kragtig – “Geseënd is die vredemakers,” maar besef Hy dat die uitvoering daarvan, ʼn lang, pynbesaaide pad is. Want dit is pynlik om jou trots en woede in jou sak te steek en te gaan vrede maak met diegene wat jou te na kom – veral wanneer hulle nie eers berou het oor wat hulle aan jou gedoen het nie, selfs nie eers met jou wil praat nie. Jesus heg nie eers ‘n voorwaarde aan nie, net dat ons vredemakers moet wees, ongeag van wie die oorlogmakers is.


Waar kom hierdie vrede vandaan? Waar en wat is die oorsprong daarvan? Jesaja het ongeveer 700 jaar voor Jesus se geboorte al profeteer dat ‘n “Seun gebore sal word, ‘n Vredevors wie se heerskappy sal uitbrei en vir altyd vrede en voorspoed sal bring” (Jes. 9:5-6). Kort voor Jesus se geboorte, het Johannes die Doper se pa, Sagaria, voorspel dat die “Kindjie ons voetstappe sal rig op die pad van vrede” (Luk. 1:79b). Met Jesus se geboorte het ‘n menigte engele aan skaapwagters verskyn en God geprys: “Eer aan God in die hoogste hemel, en vrede op aarde vir die mense in wie Hy ‘n welbehae het” (Luk. 2:14).


Gedurende die Ou Testamentiese tyd, het die Hebreeuse woord ‘shalom’ beteken, dit gaan goed met jou totale welsyn. Die Jode het mekaar met die woord ‘shalom’ gegroet wat God se vrede gekoppel het aan fisiese seën – goeie oeste en baie kinders. Vandag beteken vrede vir meeste van ons – die beëindiging van ’n konfliksituasie of oorlog. Maar hierdie vrede waarna Jesus hier verwys, is iets meer – dit is om vrede te maak waar daar nie vrede is nie. Ons Christene erken dat ons in ’n gebroke, sondige wêreld leef, en dus kan die Here se vrede nie net aan fisiese seën gekoppel wees nie, dit is iets diepers.


Jesus neem die begrip ‘vrede’ nog ’n stap verder, Hy seën ons om vredemakers te wees. Dit behoort eintlik deel te wees van ons identiteit as kinders van God – vredemakers wat die werk van die Vredevors voortsit – wat die boodskap van versoening uitdra. Wat vir mense God se vrede bring, ’n vrede wat kom uit ’n lewe wat saam met die Here geleef word. ’n Vrede wat nie iets wegneem uit die lewe nie, maar iets daaraan toevoeg. ‘n Vredemaker wat kies om anders te wees, om met my ingesteldheid, my woorde en dade anders as my kultuur te wees en op te tree.


Indien ons verstaan wat by die kruis en met Christus se opstanding gebeur het, kan ons verstaan wie Jesus is. Deur in Jesus te glo, ervaar ons God en Sy vrede. Jesus se kruisdood vorm die fondament van die waarheid en ewigdurende vrede. Nou kan ons verstaan hoekom Petrus verkondig het dat “God die evangelie van vrede gestuur het, wat Jesus Christus gebring het” (Hand. 10:36), en Paulus beklemtoon dat “Jesus die goeie boodskap van vrede gebring het aan almal wat ver van God af was en ook vir dié naby God” (Efes. 2:17).


Om egter vrede te hê met God en die vrede van God in ons harte te hê, is nie genoeg nie – dit is soos twee pole van ‘n battery, tensy albei pole nie gekoppel is nie, het ons geen krag nie – die vrede ‘met’ God en die vrede ‘van’ God, moet hierdie vertikale verhouding tussen God en ons, in ‘n horisontale verhouding tussen ons en ons naaste word. Christus het ons met God kom versoen! Omdat die Heilige Gees ons harte verander het en nuut gemaak het, het Hy vrede bewerkstellig tussen God en ons en tussen mens teenoor mens en behoort ons, nee, moet ons die vrede van God versprei na ander.


"Die when I may, I would like it to be said of me, that I always pulled up a weed and planted a flower where I thought a flower would grow" (Abraham Lincoln).


Gebed: Dankie Jesus dat U my met God versoen het en daarom is daar nou vrede tussen God en my en kan ek Hom met vrymoedigheid my Vader noem. Ek wil egter só graag daardie vrede uitbrei na my naaste toe, vrede bewerk daar waar ‘n innerlike stryd gevoer word, om ander te troos en nie soseer self getroos te word nie. Maak my ‘n werktuig van U vrede sodat ek liefde sal beoefen, al is dit soms baie moeilik. Amen.



Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page