top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


AAN GOD DIE EER (3) – DIE STABILITEIT VAN ONS ENIGSTE GOD!


Rom. 11:35-36 – “Wie bewys Hom ‘n guns, sodat Hy verplig is om iets terug te doen?’ Uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Aan Hom behoort die heerlikheid tot in ewigheid! Amen.”


Vergelyk ook Judas:24-25 – “Aan Hom wat magtig is om julle van struikeling te bewaar en julle onbevlek en met vreugde sy heerlikheid te laat aanskou, aan die enigste God, ons Verlosser deur Jesus Christus ons Here, aan Hom behoort die heerlikheid en die majesteit, die krag en die mag, van alle ewigheid af, ook nou en tot in alle ewigheid! Amen.”


Paulus se aangrypende lofprysing van hoe God die gang van die wêreldgeskiedenis en die lewensgang van elke mens beheer, kom tot ‘n einde in hierdie laaste paar verse, en dan kan hy nie anders as om tot aanbidding oor te gaan nie. God se plan vir die redding van die wêreld is nie net bedoel vir ‘n eksklusiewe groepie mense, soos wat baie godsdienste dit aan hulle wil toeëien nie, dis belowe vir alle mense: “Die genade van God wat verlossing bring, het immers aan alle mense verskyn” (Titus 2:11). Saam, as gemeenskap van gelowiges, kan ons dan in aanbidding en lofprysing voor God jubel.


Wanneer God ons Sy genade bewys, is dit geen terugbetaling vir wat ons eers aan Hom gegee het nie, dit is louter ‘n geskenk uit liefde uit! Aangrypend! Gee dit ons nie gemoedsrus sodat ons dit in lofprysing voor God behoort uit te jubel nie? “Uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge” – “Uit” God is die grondslag van die uitverkiesing gelê; Hy het nie geskroom om Sy eie Seun te gee om ons weer met Hom te versoen en “deur” Hom het die Heilige Gees die verlossing vervolmaak. Niemand, geen mens het enige hand bygesit om God te help met Sy verlossingswerk nie, alles is “tot Hom” gerig, God alleen het alles beskik soos dit geskied het. Ons kan maar net saam met Paulus dit bevestig met ‘n lofprysende “amen”.


Ons staan stil voor ‘n hoog heerlike Wese! Ons besing so Sy lof omdat ons as gelowiges die vaste vertroue het dat God die Verhoorder van ons gebede is en daarop sê ons “amen”. Dit is nie maar net ‘n stopwoordjie wat wys dat ons gebed klaar is nie, maar ‘n vastigheid dat dit wat ons gebid het, waar en verseker sal wees. Amen is ‘n bewys van absolute vertroue en ware berusting in die wil en beloftes van God. Dit is kragtig en rotsvas want Jesus Christus ís die “Amen” (Op. 3:14).


Ongelukkig leef ons in die post moderne eeu van veranderinge. In hierdie veranderde tye lyk dit asof die wêreld ‘n platform geword het waar mense verkondig dat hulle die finale antwoorde het op al die vrae van die lewe. Politici en self verklaarde profete wat hulleself ‘bevorder’ het tot godsdienstige leiers, is gedurig besig om mense te bombardeer met hulle godsdienstige ‘formules en medisyne’ vir ‘n sogenaamde volmaakte lewe. En dan kry jy werklik mense wat hulle naarstigtelik soos dissipels volg! As hulle maar net besef dat wanneer jy van Jesus Christus af wegkyk en jou oë op mense vestig, verloor jy jou sin van God se roeping; jou geloof in Jesus Christus verloor krag en die lewe verloor sy sin en betekenis. Wanneer Jesus deur iets of iemand vervang word, kwyn en sterf jou geestelike lewe uiteindelik, want dan is “alle dinge nie meer uit Hom en deur Hom en tot Hom nie”.


Nog ‘n jammerte is dat die mees misbruikte gawe wat God aan ons gegee het, die reg tot eie keuse is. Al is ons van nature geneig tot sonde, sondig ons net wanneer óns kies om dit te doen; volg ons vals leraars of sogenaamde profete, omdat omdat óns kies om weg te draai van God af – die keuse bly ons verantwoordelikheid, maar dan moet ons ook besef, daarmee saam gaan die gevolge van ons keuse. Mense wat nie in Jesus Christus glo nie, wandel op die pad wat hulle eie blinde hart beplan het. Hulle gee hulle eie interpretasie aan die lewe. Hulle vergeet “aan Hom behoort die heerlikheid tot in ewigheid.” “Jy mag miskien die bopunt van die leer bereik en dan uitvind dat die leer teen die verkeerde muur aanleun” (A. Raine).


Die toppunt van dwaasheid is om die standaarde van Christus te ken, maar dit te ignoreer (my eie opinie). Paulus het in Romeine 9 tot 11 ons diep onder die besef gebring hoe God die wêreldgeskiedenis en die lewensgang van elke mens beheer. Vir gemoedsrus en kalmte van gees in hierdie onstuimige wêreld waarin ons leef, kán ons nie anders as om net op ons lewende Verlosser te fokus nie. Daar was, en is en sal altyd net een ware pad tot die lewe wees – God se pad, want “uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge.” Ten spyte van al die verklarings en verskillende teorieë van die mens, is Jesus Christus, die vleesgeworde Woord van God, nog steeds die enigste “Weg, die Waarheid en die Lewe. Niemand kom na die Vader behalwe deur Hom nie” (Joh. 14:6). Wie is God vir jou?


“Mense verwerp nie die Bybel omdat dit homself weerspreek nie, maar omdat dit hulle weerspreek” (E Paul Hovey).


Gebed: Vleesgeworde Woord, help my om onlosmaaklik vas te hou aan U Woord sodat ek in U, die lewe kan vind. Gees van God, help my om die gedagtes wat my verstand binnedring, te selekteer na U goedkeuring. O Here, help my dat ek nooit ophou begryp hoe wyd en ver en hoog en diep U liefde strek nie, ‘n liefde wat alle verstand te bowe gaan. Uit U, ewige Koning, en deur U, onverganklike en onsienlike God, enigste God van alle dinge, aan U, kom toe die eer en die heerlikheid tot in alle ewigheid! Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page