top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


NIEMAND IS REGVERDIG NIE (6) – SKULDIG!


Rom. 3:19-20 – “Dit weet ons: alles wat Moses se wet sê, sê hy vir dié wat die wet het. Niemand sal hom dus kan verweer nie, en die hele wêreld is strafwaardig voor God. Daarom sal geen mens op grond van wetsonderhouding deur God vrygespreek word nie; inteendeel, deur die wet leer ‘n mens wat sonde is.”


Vergelyk ook Matt. 5:17 en 20 – “Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete ongeldig te maak nie. Ek het nie gekom om hulle ongeldig te maak nie maar om hulle hulle volle betekenis te laat kry ... . Ek sê vir julle: As julle getrouheid aan die wet nie meer inhou as dié van die skrifgeleerdes en Fariseërs nie, sal julle nooit in die koninkryk van die hemel ingaan nie.”


Paulus rond sy argument, sy “klagstaat” af met ‘n toepassing dat die getuienis teen die hele mensdom verdoemend is. Die Regter kan net één uitspraak lewer: “Ek vind jou skuldig!” Niémand kan hom verweer nie, elke mond moet voor God swyg in die erkenning van skuld. “Geen mens kan op grond van wetsonderhouding, regverdig of onskuldig verklaar, en deur God vrygespreek word nie”, inteendeel, “deur die wet leer ’n mens wat sonde is.” Die wet ontdek as’t ware die sonde en lê dit bloot. Dit verdoem mense en oortuig hulle van sonde, dit ontbloot die verkeerdheid van die hart en lewe!


Vir die Jode van daardie tyd was hierdie uitspraak oor die wet seker ‘n groot skok want geen mens kan op grond van sy eie voortreflike lewe voor God se regbank onskuldig pleit nie. Vir hulle was die Pentateug (eerste 5 boeke van die Bybel) wat die tien gebooie ingesluit het, en die uitsprake van die profete, dié mees belangrikste van hulle godsdiens. Die skrifgeleerdes wat verantwoordelik was vir die opstel van al die reëls en regulasies het verder gegaan en aan die Tien Gebooie meer reëls bygevoeg, terwyl die Fariseërs hulle afgesonder het van gewone daaglikse aktiwiteite, om hierdie reëls en regulasies toe te pas en te verseker dat dit deur die volk toegepas word. Dit was vir hulle die wese, die kern van godsdiens. ‘n Godsdiens wat bestaan het uit ‘n magdom moets en moenies en behoorts.


Die Jode, (skrifgeleerdes en Fariseërs), het één beginsel onvolmaak aangegryp: God se wil moes in alles gesoek word en Sy volgelinge, (gelowiges), moet hulle hele lewe daaraan toewy om dit toe te pas. Die Jode se keuse was die regte een maar waar hulle verkeerd gegaan het was om die wil van God tussen hulle magdom mensgemaakte reëls en regulasies te vind.


Wat is dan die regte beginsel? Is die wet van Moses, die wet van God, nog nodig in ons moderne tyd? Het Christus dan nie vir ons die wet vervul nie? Waarom al die reëls as dit nie vir ons die saligheid inhou nie? Nee, die saligheid het ons reeds in Christus. Die regte beginsel is vir ons die reël van ons dankbaarheidslewe – dié een wat Jesus voor gekom het om “volle betekenis te laat kry.” Daarom kan die Tien Gebooie as ‘n blye boodskap gesien word en die bedoeling daarvan eerbiedig word: Eerbied vir God; eerbied vir God se dag; eerbied vir ouers – vir lewe – vir eiendom – vir ander mense – vir die waarheid – vir onsself sodat verkeerde begeertes nie beheer van ons neem nie en ons sondebesef, ons in God se arms indryf. Hiérdie eerbied en respek het Jesus kom vervul. Dit is nie die eer en respek wat aan ‘n magdom reëls en regulasies, moets en moenies en behoorts, gekoppel is nie, maar liefde, liefde vir God en liefde vir ons naaste.


God se wet is nie bedoel om neerdrukkend en knellend of selfs beperkend te wees nie. Die wet van God is die ‘padkaart’ wat ons help om die lewe met vreugde te geniet, ‘n riglyn vir ‘n lewe wat vir God aanneemlik is en wat tot voordeel en geluk van ons as Sy verbondskinders is. Daarom sal ons lewenswandel op aarde, (praat en doen), volgens die wet beoordeel word. Die oordeel gaan oor die wet wat ons lewensruimte wil gee en of ons optree volgens God se wil. Die probleem is egter dat ons nie tydens ons aardse lewe die wet ten volle kán onderhou nie: “As ons beweer dat ons nie sonde het nie, bedrieg ons onsself en is die waarheid nie in ons nie” (1 Joh. 1:8).


Om getrou te bly aan die wet is nie so maklik nie! Ons worstel telkens opnuut om in geloof na al die gebooie van God te leef. Maar God ken ons harte en ons bedoelings en daarom het ons as Christene ‘n groot verantwoordelikheid. As nuwe mense moet ons leef met ‘n nuwe styl. As ons die wet as spieël voor ons hou sal ons ál ons ellende waarneem en na God toe vlug: “Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is” (Matt. 5:3). Die wet is nie meer ‘n aanklaer nie maar ‘n herder wat ons lei op ‘n pad van liefde. Dit beteken om ‘n “bedelaar” te wees as gevolg van algehele geestelike bankrotskap, om afskeid te neem van selfgesentreerdheid, selfvoldaanheid en selfsugtige optrede. Sondige gewoontetjies is soos om op ‘n afdraande van ‘n heuwel te stap – elke tree verder afwaarts maak dit moeiliker om terug te draai sodat die kruin weer bereik kan word. Om ‘n onafhanklike lewenswyse weg van God af te probeer handhaaf, is ‘n gevaarlike eksperiment.


Wat ons ook al is en wat ons besit, is God se wil. Daarom sal ons gelukkiger wees as ons in nederige en afhanklike gesindheid God bedank vir al Sy gawes. Om van God afhanklik te wees is ‘n lewenshouding – hoe ons dink, praat, optree en doen. Dit is om af te klim van ons privaat troontjies van hoogmoed na totale afhanklikheid van God. Afhanklikheid van God is deel daarvan om beter te voel wanneer ons die kerk uitstap as toe ons dit binne gestap het. Ons gedagtes is gereinig deur die musiek en aanbidding. Ons stem saam met die heilige waarhede van die evangelie soos dit deur die leraar gelees en uitgespreek is. Ons soek God se lof as diens ná die erediens. Ons soek God se lof as lewe in die gebed ná die kerkgebede. Ons soek God se lof as lied in praktyk ná die lied in die kerk. Ons soek God in ons alledaagse bestaan – dit is dáár waar ons Hom sal vind! Daar waar Jesus vir ons ‘n versekering bied – ‘n lewenspolis: “ ... want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel” (Matt. 5:3b).


“Totdat die mens niks is nie, kan God niks met hom doen nie.” (Martin Luther).


Gebed: Hemel Vader, U het my geskape om hier op aarde as U verteenwoordiger op te tree. As gelowige is ek geroep om my gedragskodes op al die terreine van die samelewing toe te pas volgens die eise van U Woord. Ek behoort anders te wees, maar Here, ek staan skuldig voor U. Vergewe my my valse vertroue in my eggosentriese selfvoldaanheid, ek het werklik niks om oor hoogmoedig te wees nie. Here, ek het U nodig in my hele menswees. Ek erken my geestelike bankrotskap voor U. Ek kan U niks aanbied nie behalwe my sondige self. Help my om in nederige afhanklikheid só te leef dat U geëer word. Dankie dat ek uit genade aan U kan behoort en afhanklik van U te mag wees. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page