top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


SAAM MET JESUS IN DIE WINGERD (7) – ONS KAN GOD DIEN IN OORVLOED!


Joh. 16:12-15 – “Ek het nog baie dinge om te sê, maar julle sal dit nie nou kan begryp nie. Wanneer Hy kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei. Wat Hy sal sê, sal nie van Homself kom nie: Hy sal net sê wat Hy hoor, en Hy sal die dinge wat gaan kom, aan julle verkondig. Hy sal My verheerlik, want wat Hy van My ontvang, sal Hy aan julle verkondig. Alles wat aan die Vader behoort, behoort ook aan My; daarom dat Ek gesê het: Wat Hy van My ontvang, sal Hy aan julle verkondig.”


Vergelyk ook Jak. 1:2-4 – “My broers (en susters), julle moet baie bly wees wanneer allerlei beproewings oor julle kom, want, soos julle weet, as julle geloof die toets deurstaan het, stel dit julle in staat om te volhard. En die volharding moet end-uit volgehou word sodat julle tot volle geestelike rypheid kan kom, sonder enige tekortkoming.”


Deur beproewing word ons geloof gelouter en sterker gemaak! “What a statement” om mee te begin! Tydens beproewing en lyding kan ons wel bly en vol moed wees. Ons moet steeds bid, aanhoudend bid, dat ons tot die einde toe standvastig sal bly in die geloof, om uiteindelik die kroon van oorwinning te kry. Om Christen te wees is nie altyd maklik nie. Wie nie gewillig is om homself te verloën en seggenskap oor sy of haar wil en lewe prys te gee nie, kruis op te neem nie en saam met die doemprofete hulle hande nie in wanhoop die lug ingooi nie, kan nie ‘n dissipel van Christus wees nie. Op aarde is ons Christene kruisdraers – maar dan tog ook ‘n kruisdra wat vreugde meebring – geen kruis, geen kroon!


Hierdie kontras – vreugde te midde van pyn en lyding – is vir die wêreld onverstaanbaar. Dit is so omdat die wêreld nie vir Jesus Christus ken nie. Hulle is die pessimiste wat geen goed in die wêreld kan sien nie en soos doemprofete verkondig dat die toekoms omsluier is in verdoemenis en hulpeloosheid. Dit is hulle wat nie wil aanvaar dat Jesus Christus, die vol kruis en gruwel van “Donker Vrydag” in “Goeie Vrydag” omskep het nie en daardeur God se almag soos nog nooit tevore, in ‘n kaal kruis van Paassondag verander het nie. God het juis vir Jesus uit die dood opgewek om die sonde en die dood te oorwin en toe die Heilige Gees vir ons gestuur om ons lewe as oorwinnaars in Christus te kan leef!


Ons het die afgelope tien dae saam met Jesus in die wingerd vertoef en as’t ware na Sy sterwenswoorde geluister. ‘n Paar uur later is Hy gevange geneem en later die dag gekruisig. Ons kan egter nie by die kruis vertoef nie, maar wel anderkant die leë graf van die opgestane Jesus. Gister was dit Pinkster-Sondag, ons vier fees want ten spyte van al hierdie negatiewe dinge wat gebeur in ‘n stukkende wêreld, is ons meer as oorwinnaars want ons is God se kinders, Jesus se vriend en broer, deel van die wingerdstok wat versorg word deur die Beste Boer!


Geestelike groei ontwikkel wanneer uitdagings met vreugde aangepak word. Vir ons geestelike groei is beproewing belangrik omdat dit ons leer om in die geloof te volhard. Geloofsvolharding volg wanneer versoeking nie meer ‘n houvas op ‘n mens het nie en dit kweek hoop.


Dit is teen die grein van ons menswees om “bly te wees wanneer allerlei beproewings oor ons kom.” Dit gaan egter nie oor die blydskap as sodanig nie, maar die positiewe gevolge daarvan. Christus het reeds alle beproewings weerstaan en oorwin, ons moet net aan Jesus se belofte vashou en glo dat die “die Gees van die waarheid, ons in die hele waarheid sal lei.” In alle omstandighede gaan dit egter net oor ons geloof daarvan – word ons verhouding met God geraak wanneer dit sleg gaan met ons? Raak ons moedeloos? Twyfel ons in God se bestaan? Wend ons ons toe tot wêreldsdinge en bronne? Gee ons m.a.w. toe aan die druk van omstandighede?


Die antwoord lê daarin dat “die volharding moet end-uit volgehou word sodat ons tot volle geestelike rypheid kan kom, sonder enige tekortkoming.” Ons moet dus geestelik groei in geloof, sodat versoekings nie meer ‘n houvas op ons kan kry nie. Énige verhouding groei deur interaksie, interaksie met die Gees. In ons swaarkry ervaar ons die werklike betekenis van gemeenskap met God en namate ons in ons omgang met God volhard, dra ons meer vrugte, raak ons ryper Christene om die oes-mandjies tot oorlopens toe te vul en dan kan ons God dien in oorvloed.


Dit is die Gees van God wat aan ons, deur Jesus Christus, die geloofsoorwinning gee sodat ons ook saam met Paulus, die geloofsmaraton met sukses kan voltooi en kan sê: “Ek het die goeie wedloop afgelê; ek het die wenstreep bereik; ek het gelowig end-uit volgehou” (2 Tim. 4:7). Ons Christene moet net vasbyt in die geloof soos die atleet van die Hebreërs skrywer “... laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop, die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof” (Heb. 12:1).


“Christus gebruik ons soos ‘n pen om mee te skryf – of nog beter: Hy maak ons een van Sy vingers” (Charles Trumbul).


Gebed: Here, ek verheug my ook in my swaarkry, want ek weet: “swaarkry kweek volharding, en volharding kweek egtheid van geloof, en egtheid van geloof kweek hoop; en die hoop beskaam nie, want God het Sy liefde in my hart uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan my gegee het” (Rom. 5:3-5). Help my daarom om te volhard in Bybelstudie, gebed, gemeenskap met ander gelowiges, in die uitdra van die evangelie, die aflê van sondes en die vervulling van die Gees. Dankie dat ek as “oorwinnaar alles sal erf en drink uit die fontein van lewenswater, heerlik, rein, en God oor my sal skyn” (Liedboek 602:5). Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page