top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


SAAM IN DIE WINGERD – GOEIE NUUS WAT EK NIE WOU HOOR NIE!


Joh. 15:1-3 – “Ek is die ware wingerdstok en my Vader is die boer. Elke loot aan My wat nie vrugte dra nie, sny Hy af; maar elkeen wat vrugte dra, snoei Hy reg, sodat dit nog meer vrugte kan dra. Julle is alreeds reg gesnoei deur die woorde wat Ek vir julle gesê het.”


Vergelyk ook Jes. 5:4 – “Wat kan Ek nog vir my wingerd doen wat Ek nie reeds gedoen het nie? Wat is dan die rede dat dit suur druiwe voortgebring het terwyl Ek verwag het dat dit goeie druiwe sou dra?”


Dit is die aand voor Jesus se kruisiging. Ons stap saam met Jesus vanaf die “Bovertrek” waar Hy onder andere die Nagmaal ingestel het en Sy dissipels se voete gewas het, na die Tuin van Getsemane. Dit was volmaan want dit was die tyd van die Pasgafees in Jerusalem, daarom kon Jesus duidelik op pad ‘n wingerd sien en eers stop om vir Sy dissipels, (sonder Judas), verder kon leer.


Jesus wys na die sterk basis van die wingerd, die stewige wingerdstok, vat daaraan en sê vir Sy dissipels: “Ek is die ware wingerdstok en my Vader is die boer”. Enige goeie boer het net een enkele doelwit – sy lote moet vrug dra. Elke loot aan daardie wingerstok moet vrugdra want dit is die onderskeidende kenmerk van ‘n ware loot. Om te sorg dat hy maksimum produksie kry uit die onderskeie lote, is die boer altyd besig om die wingerd reg te snoei, lote op te tel uit die sand en modder, skoon te maak en reg te draai sodat dit maksimum vrug kan dra. God se omgee en snoeiskêr bring groeikrag!


Die boer is baie intiem betrokke by die lote wat uit die wingerdstok groei. Die waterlote wat net groeikrag en plek en sonlig opneem en wat nie eers die intensie het om vrug te dra nie, sny die boer summier af. Die waterlote is totaal waardeloos. Aan die wingerd het hulle geen nut en doel nie, en selfs nadat dit afgesny is, kan hulle nie eers gebruik word om vuur te maak nie, want hulle maak net 'n klomp rook.


God is die groot Tuinier, “die boer” wat met Sy allesomvattende liefde aan ons snoei, gedurig besig om “nog meer vir Sy wingerd te doen wat Hy nie reeds gedoen het nie.” Al die oortollige en onvrugbare lote, al die slegte gewoontes, gedagtes en onvrugbare gawes, snoei Hy weg. Alhoewel die behandeling soms pynlik is, bring dit genesing en herstel. Die behandelde loot bring mettertyd vrugte voort wat ryp word, mits dit steeds deur die wingerdstok gevoed word. Ons moet só innig aan Christus gebonde wees dat ons geestelike lewe kan groei tot volwassenheid en kwaliteite voortbring wat die gevolg is van lewenskrag wat uit die Bron, die wingerdstok, gevoed word.


Die behandeling van “die Boer” is soms pynlik, maar as ons God se snoeiskêr in die regte gesindheid aanvaar, dwing die pyn en hartseer ons terug na die Groot Geneesheer. Onder die tere sorg van die Heilige Gees genees die pynlike wonde wat die snoeiskêr veroorsaak het. Die gevolg is dat “die goeie boom nie slegte vrugte dra nie ...; van die doringbos word nie druiwe ge-oes nie. Die goeie mens bring die goeie te voorskyn uit die oorvloed goeie dinge in sy hart” (Luk. 6:43-45).


“Ons moet gedurig verander, vernuwe en verjong, anders verstok ons”

(Johan Wolfgang von Goethe).


Gebed: Liefdevolle Vader, ek besef dat die goeie vrug die duidelikste bewys is van wat in die kern van my lewe aan die gang is. Die vrug, en nie leë woorde en sinnelose gebruike nie, is wat aan U die eer en die lof bring waarna U verlang. Al ondervind ek soms pyn weens U snoeiwerk in my lewe, wéét ek dit sal alles ten goede meewerk. Tel my op uit die modder en maak my skoon sodat my lewe aan U gewy kan wees en ek goeie vrugte kan dra. Amen.



Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page