top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


JESUS SE LYDENSTYD : SEWE DAE WAT DIE WÊRELD VIR ALTYD VERANDER HET!


JESUS SE PAD NA GLORIE (14) – JESUS WYS SY VERRAAIER AAN!

(Vergelyk ook Matt. 26:21-25; Mark. 14:18-21; Luk. 22:21-23)


Joh. 13:21; 26, 27, 30 – “Jesus het hewig ontsteld geword en openlik verklaar: ‘Dit verseker Ek julle: Een van julle sal My verraai. Dit is die een vir wie Ek ‘n stukkie brood wat Ek in die sous ingesteek het, sal gee.’ Hy vat toe ‘n stukkie brood, steek dit in die sous en gee dit vir Judas, seun van Simon Iskariot. En nadat Judas die stukkie brood gevat het, het die Satan in hom ingevaar. Toe sê Jesus vir hom: ‘Wat jy wil doen, moet jy baie gou doen!’ Judas het dadelik uitgegaan. Dit was nag.”


Vergelyk ook Ps. 41:10 – “Selfs my boesemvriend op wie ek vertrou het, wat altyd by my geëet het, het my in die rug gesteek.”


Jesus kondig 'n verskriklike tragedie tydens die Donderdagaand se paasfees ete aan: Een van Sy vertrouelinge gaan Hom verraai! Die nagmaalstafel word inderwaarheid in hierdie geval, ‘n skeidingstafel, ‘n skeiding tussen geloof en ongeloof.


Jesus noem nie die naam van Sy verraaier nie, maar wys hom aan met ’n plegtige handeling, deur ’n stukkie brood in die sous te doop en aan Judas te gee. Volgens Joodse gebruik word gesê dat die aangee van die stukkie brood by ’n Joodse maaltyd ’n teken van verering is. Daarvolgens sou Jesus Judas vereer het en sodoende nog eens op sy gewete ’n beroep gedoen het om van sy bose voorneme af te sien. Jesus weet wat die toedrag in die lewe van Judas is, maar sluit hom steeds in by die “bevrydingsmaaltyd.” Hy vier mét Judas die verlossingsfees terwyl Hy die implikasies van sy sonde aan hom bekend maak: “Wat jy wil doen, moet jy baie gou doen!”


Judas aanvaar die stukkie brood uit die hand van Jesus en daarmee word die keerpunt in die lewe van Judas bereik. Judas kies finaal: die Satan neem die beheer van sy lewe oor. Dít nadat Jesus vyf keer vir hom die geleentheid gegee het om sy moordplanne te laat vaar (Joh. 13:11; Matt. 26:21, 23, 25). Ongelooflike enorme stuk onvermoeide, en verkwiste liefde vir ‘n verraaier! Dit laat ‘n mens sprakeloos wanneer ons aan Jesus se liefde vir Judas dink. Dit is hoe ons God van liefde lyk en hoe Hy optree! Hy het ons sondaars lief maar haat ons sondes!


“Nadat Judas dan die stukkie brood gevat het, het hy dadelik uitgegaan. Dit was nag.” Dit was letterlik en figuurlik nag! Dit was nag vir Jesus – Die verraad teen Hom het hier begin, Sy lydenspad begin na die kruis toe draai! Die hele proses wat sou lei tot Sy arrestasie; die klug van getuienisse teen Hom; verraad van verhore wat Jesus sou beleef; verloëning van Petrus wat Hy moes aanhoor en aanskou; die vreeslikste vernederings; die skandelike onskuldigbevinding en tog ’n doodsvonnis; ‘n jillende skare van Sý mense, Sý volk wat hulleself finaal afsny van die Koning van die Jode en só van God af met die verdoemende uitroepe: “Kruisig Hom”!; die onbeskryflike liggaamlike lyding, eers van geseling en dan die ironie van ‘n Koning wat gekruisig word! Die daaropvolgende diepste geestelike nag wat daar vir enigiemand kan wees: om deur God verlaat te word. Dit was nag vir Jesus!


Dit was nag vir Judas – Hy het besluit om die Ewige Lig te verlaat waar hy gekoester was, liefde ontvang het, ‘n vertroueling was, die een wat die beursie gedra het, die penningmeester! Hy het al die wonders van Jesus gesien en al Sy wonderlike onderrig gehoor! Hy stap uit die teenwoordigheid van die Lig van die wêreld uit, in die donker nag in waarin hy deur die vors van die duisternis gebruik gaan word om die magte van die duisternis op Jesus los te laat. Hy verruil Jesus vir die ewige duisternis! Sy lewe word nag, sy lewe het verander deur die verkeerde keuse, ‘n sondige keuse te maak om die Lig te verruil vir die ewige donkerte – ‘n VERSKRIKLIKE VERKEERDE KEUSE! Dit was nag vir Judas!


Dit is altyd nag wanneer ‘n mens Christus verlaat om sy eie keuses te volg; dit is altyd nag wanneer haat, die Lig van die liefde vervang; dit is altyd nag wanneer ‘n mens sy rug op Jesus draai! Maar vir mense wat na Jesus toe kom is daar hoop – “Alles het deur Hom tot stand gekom: ja, nie ‘n enkele ding wat bestaan, het sonder Hom tot stand gekom nie. In Hom was daar lewe, en dié lewe was die lig vir die mense. Die lig skyn in die duisternis, die duisternis kon dit nie uitdoof nie” (Joh. 1:3-5). Selfs in die skadukolle van ons gelowiges se reis na ons eindbestemming toe, is daar altyd die lig van Sy krag wat help, van Sy beloftes wat hoop gee, van Sy troos wat vrede bring. Instede van donkerte van verderf het ons die lig van vrede en seën; instede dat die donkerte van die dood ons tref, ontvang ons die lig van die lewe; instede van die donkerte van onkunde, die lig van kennis; instede van die donkerte van die sonde, die lig van genade en redding en hierdie redding veroorsaak ‘n totale ommekeer in ons lewe!


“Mense van God is hulle wat deur die donker wêreld stap – en in hulleself ‘n Lig dra”

(Felix Adler).


Gebed: Here, wanneer ek saam met “vriende” beweeg wat die dinge van die wêreld liefhet, is ek geneig om ook so te word, te praat en te handel. Dit is asof die donkerte my so maklik oorheers terwyl ek eintlik in die lig wil wees. Maak my bereid om die sonde wat donkerte bring, te vermy. Neem my weg van die duisternis en laat my toe om in U ewige Lig te wandel want U is die skeiding tussen lig en donker en waar U is, is daar ewige lig en ewigdurende lewe. Help my asseblief om in U lig te bly sodat die duisternis my nooit oorwin nie. Dankie dat U genade só groot is dat U soos ‘n wagtende Vader U arms uitstrek na my, om my terug by U te verwelkom, sonder enige verwyte. Amen.



Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page