top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


DIE WERK VAN DIE HEILIGE GEES (5) – DIE VOORSPRAAK MAAK ONS BEWUS VAN GOD BY ONS!


Joh. 16:12-15 – “Ek het nog baie dinge om te sê, maar julle sal dit nie nou kan begryp nie. Wanneer Hy kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei. Wat Hy sal sê, sal nie van Homself kom nie: Hy sal net sê wat Hy hoor, en Hy sal die dinge wat gaan kom, aan julle verkondig. Hy sal My verheerlik, want wat Hy van My ontvang, sal Hy aan julle verkondig. Alles wat aan die Vader behoort, behoort ook aan My; daarom dat Ek gesê het: Wat Hy van My ontvang, sal Hy aan julle verkondig.”


Vergelyk ook 1 Joh. 4:13 – “Hiéraan weet ons dat ons in Hom bly en hy in ons: Hy het sy Gees gegee.”


Dit is ‘n oorweldigende gedagte om te dink dat Jesus ons nie as weeskinders agtergelaat het toe Hy opgevaar het hemel toe nie. Hy het “die Gees van die waarheid, wat ons in die hele waarheid sal lei,” na ons gestuur. Daarom is dit miskien nodig dat ons besef dat die Gees nie ondergeskik is aan God of Jesus nie, dan sou dit beteken dat God in Homself ʼn rangorde het en dit is beslis nie hoe God Homself aan ons bekend gemaak het nie. Dat die Heilige Gees die derde Persoon in die orde is, beteken eenvoudig dat ons die Vader eerste leer ken in die Bybel, daarna leer ons die Seun beter ken en uiteindelik leer ons ook die Heilige Gees beter ken.


Om aan hierdie geopenbaarde waarheid gelowig vas te hou en deur die Heilige Gees die troos en die vreugde in die Here te vind, bely ons dat GOD EEN IS IN WESE EN ONDERSKEIE IS IN DRIE PERSONE (Art. 8, Nederlandse Geloofs belydenis.) Dit is nie die kerk wat ons beveel om hieraan vas te hou nie, maar God self beveel ons. Hy wil immers hê dat ons Hom sal ken en in Hom glo soos wat Hy vir ons sê Hy is: “Alles wat aan die Vader behoort, behoort ook aan My; daarom dat Ek gesê het: Wat Hy van My ontvang, sal Hy aan julle verkondig.”


NGB Art 8 : "Ons glo volgens hierdie waarheid en hierdie Woord van God in 'n enige God, een enige Wese, in wie drie Persone is, naamlik die Vader en die Seun en die Heilige Gees, wat in werklikheid en in waarheid en van ewigheid af onderskeie is volgens die eienskappe wat hulle nie met mekaar deel nie. Die Vader is die oorsaak, oorsprong en begin van alle sigbare en onsigbare dinge. Die Seun is die Woord, die Wysheid en die Beeld van die Vader. Die Heilige Gees is die ewige Krag en Mag wat van die Vader en die Seun uitgaan. Nogtans volg uit hierdie onderskeiding nie dat God in drie gedeel is nie, aangesien die Heilige Skrif ons leer dat die Vader en die Seun en die Heilige Gees elkeen Sy eie selfstandigheid het, deur Sy eienskappe op so 'n wyse onderskei dat hierdie drie Persone slegs een enige God is.


Dit is dus duidelik dat die Vader nie die Seun en die Seun nie die Vader is nie; eweneens dat die Heilige Gees nie die Vader en ook nie die Seun is nie. Nogtans is hierdie Persone, wat so onderskeie is, nie gedeel nie en ook nie onderling vermeng nie. Want die Vader en die Heilige Gees het nie vlees aangeneem nie, maar slegs die Seun. Die Vader was nooit sonder sy Seun of sy Heilige Gees nie, want al drie is van gelyke ewigheid in een en dieselfde Wese. Daar is nie 'n eerste of 'n laaste nie, want al drie is een in waarheid, mag, goedheid en barmhartigheid.”


Daarom is die enigste uitweg om vas te hou aan die waarheid wat God aan ons openbaar. Ons kan en mag nie maak asof die Heilige Gees nie bestaan nie, want dan ontken ons God se bestaan! Een van die groot waarhede van ons Christelike geloof is dat God deur Sy Gees in ons woon – Immanuel, God met ons! Ons kan dit nie verdien of koop of daarvoor werk nie, dit is deur God aan ons as ‘n genadegawe geskenk, in Jesus Christus ons Here (Rom. 6:23). Ons kan dus in hierdie tyd waarin ons leef, in die “donker dieptes van terneergedruktheid” soos iemand tydens die vlaag van plaasmoorde en misdaad kwyt geraak het, staat maak op ‘n krag wat groot genoeg is om ons denkkrag te beïnvloed, die krag van die Heilige Gees van God en Christus in ons lewe! Die Gees verseker ons van God se liefde en dit oorwin die aftakelende vrese en bekommernisse van die lewe.


“Die beste en hoogste doelwit van hierdie lewe is om stil te wees en toe te laat dat God deur die Heilige Gees in jou lewe werk en praat” (Meester Eckhart – Duitse Teoloog: 1260-1326)


Gebed: Here Gees, deur U krag is ek in staat om elke dag met vertroue tegemoet te gaan. Bewerk in my die liefde wat die teenmiddel is vir vrees en bekommernis. U is ver verhewe bo die storms van die wêreld daarom bid ek vir almal wat slagoffers geword het van vrees en bekommernis. Help hulle om op U te vertrou, help ons om te onthou dat U die sleutel is om die boeie van angs oop te sluit. Amen.



Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page