top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


DIE WERK VAN DIE HEILIGE GEES (2) – DIE VOORSPRAAK TROOS ONS IN ‘N STUKKENDE WÊRELD!


Joh. 16:12-15 – “Ek het nog baie dinge om te sê, maar julle sal dit nie nou kan begryp nie. Wanneer Hy kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei. Wat Hy sal sê, sal nie van Homself kom nie: Hy sal net sê wat Hy hoor, en Hy sal die dinge wat gaan kom, aan julle verkondig. Hy sal My verheerlik, want wat Hy van My ontvang, sal Hy aan julle verkondig. Alles wat aan die Vader behoort, behoort ook aan My; daarom dat Ek gesê het: Wat Hy van My ontvang, sal Hy aan julle verkondig.”


Vergelyk ook 2 Kron. 7:14 – “As my volk, oor wie My Naam uitgeroep is, hulle verootmoedig en bid en my aangesig soek en hulle bekeer van hulle verkeerde weë, dan sal Ék uit die hemel hoor en hulle sonde vergewe en hulle land genees.”


Ons leef vandag in moeilike en gevaarlike tye, tye wat nie Christen-vriendelik is nie! Talle mense voel asof al die sprankel uit hulle lewe verdwyn het. Dit blyk asof neerslagtigheid die mense beroof van alle sin en waardes en hulle bestaan, oorgeneem is deur vrees en wanhoop. Ons leef in ‘n tyd waar goeie nuus net nie meer bestaan nie. Talle mense huiwer op die grens van wanhoop en die redes daarvoor is legio. Die vraag kom onvermydelik: “Is dit nie omdat die evangelie van Jesus goedkoop geword het nie?” Alles word verdra – waarheid, leuen, goed, kwaad, satanisme, towery, moord, misdaad, afgodery – daar is ruimte vir alles en almal mag praat, al is dit met geweld! Almal het ‘n reg en almal is reg. Die waarheid het ‘n relatiewe begrip geword en die grens tussen reg en verkeerd het vervaag.


Die fokus het van God na die mens verskuif – die self het “god” geword wat sy eie ding doen op sy eie manier en volgens sy eie wil en gewete – die klem van Jesus wat die Weg, Waarheid en Lewe is (Joh. 14:6), is verskuif na die persoonlike “ekkigheid”. Om Jesus te volg in hierdie tyd het feitlik onmoontlik geword. Het dit nie miskien tyd geword om terug te draai na die God van die hemel toe nie? Het dit nie tyd geword dat ons weer die “Gees van die waarheid, moet toelaat dat Hy ons in die hele (en enigste) waarheid lei” nie?


Ons kan egter dan nie bly waar ons is as ons saam met die Gees wil gaan nie, ons moet in gehoorsaamheid volg. Ons moet bereid wees om ons oor te gee aan God se planne en aanpas by Sy metodes. Abraham kon nie in Ur bly én die geloofsvader van almal word nie; Moses moes alles net so los om die Farao te konfronteer; Dawid moes sy skape los om koning te kon word; baie van die dissipels moes hulle vissersbedryf verlaat om apostels te word; Paulus se vervolging van gelowiges het verander na volgeling as gelowige! God vra van elkeen van Sy kinders om aanpassings te maak, Hy het selfs van Jesus ‘n aanpassing gevra: “Julle ken die genade van ons Here Jesus Christus: hoewel Hy ryk was, het Hy ter wille van ons arm geword, sodat ons deur Sy armoede ryk kon word” (2 Kor. 8:9).


As mens is ons gedurig op soek na iets. Die antwoord is eenvoudig: Kom ons soek weer standvastigheid in die lewe – geestelike standvastigheid – kom ons laat die Heilige Gees toe om ons te laat besef dat Jesus GENOEG is. Jesus Christus is die behoefte wat ons het, nie net baniere wat dit uitskree "GENOEG IS GENOEG” nie en na ‘n regering gerig is wat buitendien niks gaan doen nie!! Jesus Christus is die Krag vir ons lewe, vir die stryd teen die bose – Jesus is die Noodkreet vir ons sekuriteit, ons veiligheid en Voorsiener van ons behoeftes! Hy is die Krag van God (1 Kor. 1:24); die Goeie Herder (Joh. 10:11); ons Toevlug (Ps. 27:1); Hulp in benoudheid (Ps. 46:2); ons Beskermer (Jes. 12:2); ons Redder (Ps. 38:23); ons Veilige Vesting (Ps. 144:2); die Brood wat lewe gee (Joh. 6:35); die Fontein van Lewende Water (Jer. 17:13); die Reën vir die grasveld (Ps. 72:6); die Stroom water in ons dorre land (Jes. 32:2). Jesus is die antwoord – die Bron van Ewige Saligheid (Heb 5:9); die Opstanding en die Lewe (Joh. 11:25). Hy is my Verlosser (2 Sam. 22:3)!


Kom ons keer terug en rig ons lewe weer in, tot afhanklikheid van ons Hemelse Vader! Kom ons dink terug na Martin Luther se opvattinge tydens “Die Hervorming” op 31 Oktober 1517 en wat ons nou vir die 500ste jaar kon vier. Kom ons soek weer die vergiffenis en vrede van God deur opreg te glo dat verlossing alleen kan geskied deur die genade van God (Sola Gratia) en dit alleen deur geloof ontvang kan word (Sola Fide), dat hierdie geloof alleenlik in Christus is, wat behels dat Hy die Enigste Middelaar tussen God en ons is (Solus Christus); die Bybel alleen die oppergesag is oor geloofsake en gedrag (Sola Scriptura) en al die eer en heerlikheid daarvoor aan God is (Soli Deo Gloria). “n Sterk vesting is ons God, nog steeds ‘n Troue skild en wapen; Hy sal ons uit ellende hef wat ons nou oorweldig”(Martin Luther). Dit is tog die Enigste waar ons ewigheidswaardes vind!


“Jy hoef nooit baie hard na God te roep nie. Hy is baie nader aan jou as wat jy dink”

(Broer Lawrence – 1611-1691).


Gebed: Hemelse Vader, neem asseblief weer die inisiatief in ons lewe. Openbaar weer Uself en U werk aan ons dat ons U uitnodiging sal herken en terugkeer na U toe. Neem al ons selfsugtige en selfgerigte planne weg en vervang hulle weer met U planne en doelstellings. U nooi ons opnuut uit: “Kom terug na My toe, skeur julle harte en huil, kom terug, Ek is genadig, barmhartig, lankmoedig en vol liefde. U is bereid om ons straf te herroep en weer voorspoed te gee in ons mooi land” (Joël 2:12-14). Here, ons moet net luister, daarom pleit ons by U: Bring ons terug om in ‘n verhouding met U te wees, sodat dit moontlik is om te hoor en reg te reageer wanneer U praat. Gee vir ons geopende ore om te kan hoor, harte om te kan vertrou en hande om vir U te werk. die Reën vir die grasveld (Ps. 72:6); die Stroom water in ons dorre land (Jes. 32:2).Werk in ons lewe deur U Gees, maak ons gehoorsaam aan U roepstem. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page