top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


DIE WÊRELD SAL JULLE HAAT (2) – VERVOLGING VAN REGVERDIGES!


Joh. 15:20-21 – “0nthou wat Ek vir julle gesê het: ‘n Slaaf is nie belangriker as sy eienaar nie. As hulle My vervolg het, sal hulle julle ook vervolg. As hulle my woorde ter harte geneem het, sal hulle julle s’n ook ter harte neem. Maar hulle sal dit alles aan julle doen omdat julle my Naam bely en hulle Hom nie ken wat My gestuur het nie.”


Vergelyk ook Matt. 5:10-12 – “Geseënd is dié wat vervolg word omdat hulle doen wat reg is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel. Geseënd is julle wanneer die mense julle ter wille van My beledig en vervolg en valslik al wat sleg is van julle sê. Wees bly en verheug, want jul loon is groot in die hemel. Hulle het immers die profete voor julle net so vervolg.”


Hierdie vervolging waarna Jesus verwys is nie vervolging en belediging van mense a.g.v. sekulêre humanistiese redes, of Christene wat verkeerd optree nie, of selfs Christene wat die evangelie versprei op ‘n aanstootlike manier nie. “As een van julle ly, moet dit nie wees omdat hy ‘n moordenaar is of ‘n dief of ‘n misdadiger of ‘n kwaadstoker nie. Maar wanneer iemand ly omdat hy ‘n Christen is, moet hy hom nie daaroor skaam nie. Inteendeel, as draer van daardie naam moet hy God verheerlik” (1 Pet. 4:15-16).


Die vervolging en belediging waarna Jesus verwys is spesifiek Christene wat probeer om regverdig te lewe; mense met wedergebore harte wat in diens van die Here staan; dissipels wat afhanklik is van God, sagmoedig is en wat die waarheid van die evangelie suiwer verkondig. Die Christus wat ons volg word verwerp, gehaat deur die wêreld wat in konflik is met die verkondiging van die evangelie. Om vervolg te word vir regverdigheid, is om vervolg te word vir Christus!


Gelowiges se oë is gevestig op God se toekomsbelofte, nie op korttermyn resultate nie. Ons kyk verby “die profete wat voor ons vervolg is.” Hulle wat doodgemartel is, bespotting en lyfstraf verduur het, gevangenskap, gestenig, in stukke gesaag (Jesaja), met die swaard vermoor (Heb. 11:36-37). Selfs hulle wat huidiglik steeds ly in hierdie deurmekaar wêreld omdat hulle Christene is. Die Hebreërskrywer sluit hoofstuk 11 af oor Bybelse geloofshelde met die veelseggende stelling dat al die helde oor wie soveel lof betuig kon word, tog nie die belofte van God volledig in besit geneem het nie. Die belofte is egter ‘n ewige erfenis: God het vir ons iets beters beloof.


Die keuse lê by elke mens. Al wat Jesus vra is dat ons ons lewe vir Hom moet gee: “As die wêreld julle haat, onthou: hy het My voor julle gehaat. As julle aan die wêreld behoort het, sou die wêreld julle as sy eiendom liefgehad het. Omdat julle egter nie aan die wêreld behoort nie, maar Ek julle uit die wêreld uitgekies het, daarom haat die wêreld julle” (Joh. 15:18-19). Jesus sal vir die res sorg. Hy sal die regte vrugte op die regte tyd voortbring. Wees Godsdienstig en Godvrugtig. “God het ons die voorreg gegee om Christus te dien, nie alleen deur in Hom te glo nie, maar ook deur vir Hom te ly” (Fil. 1:29).


“Daar is net twee soorte mense: dié wat vir God sê: ‘Laat U wil geskied’, en dié wat dit nie wil doen nie en vir wie God uiteindelik sê: ‘Laat jou wil geskied’ (CS Lewis).


Gebed: Dankie God van hemel en aarde, dat ek kan vashou aan ‘n belofte wat ewigheidswaarde het. Dankie Jesus dat ek ‘n lewe saam met U kan hê al is dit nie ‘n probleemlose aardse lewe nie. U maak egter die lewe vir my ‘n oorwinning, ten spyte van my probleme. Dankie o Gees dat U in my woon, nie om my van ‘n gemaklike lewe te verseker nie, maar juis om my in moeilike tye by te staan, dat U magtiger is as die gees van die wêreld. Laat my stil word voor U en my opnuut toewy aan U. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page