top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


DIE VADER GETUIG OOK OOR JESUS (1) – EK IS DIE LIG VIR DIE WÊRELD (1)


Joh. 8:2; 12 en 20 – “Die volgende môre vroeg was Hy weer in die tempel en die hele volk het na Hom toe gekom. Hy het gaan sit en hulle geleer. Op ‘n ander keer het Jesus vir die mense gesê: ‘Ek is die lig vir die wêreld. Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee. Hierdie dinge het Hy gesê in die vertrek waar die offergawekiste gestaan het. Hy was toe besig om die mense in die tempel te leer.”


Vergelyk ook Jes. 49:6b – “Ek maak jou (Israel) ‘n lig vir die nasies, sodat die redding wat Ek bewerk, die uithoeke van die aarde sal bereik.”


Die tempel in Jerusalem het bestaan uit verskillende vertrekke. Vóór die ingang tot die heiligdom, is die “Binnehof vir die Priesters” en vóór dit was 'n verdere binnehof genoem die “Binnehof vir die Vroue”. Dit was weer die enigste area waar vroue toegelaat was. Dit was in die “Binnehof vir Vroue” waar die 13-voudige tempelskatkis gemonteer was. Die aand van die 7de dag van die Loofhuttefees, ná afloop van die water-seremonie, is 'n seremonie in die “Binnehof vir Vroue” gehou wat genoem is die “Verligting van die Tempel.” Dit was 'n herdenking van die vuurkolom of verligte wolk wat gedurende Israel se woestyntog, voor hulle uit gegaan het om hulle te lei en om die omgewing te verlig.


Tydens hierdie “Verligting van die Tempel” seremonie is 'n reuse kandelaar in die “Binnehof vir Vroue” opgerig en die lig daarvan het letterlik Jerusalem verlig – die hele nag lank. Omdat die binnehof nie 'n dak gehad het nie, het die ligglans die hemelruim verlig. Die volgende dag was Jesus dus nou in die “Binnehof vir die Vroue” by die offergawekiste waar Hy weer besig was om die mense te leer. Die reuse kandelaar wat net die vorige nag gebruik is vir die “Verligting van die Tempel” seremonie, het nog lewensgroot daar gestaan. Die ligglans was nog in almal se gedagte. Al die toegewyde Jode het nog tydens die “lig-seremonie”, Jes. 49:6, die Messiaanse profesie waar God beloof dat Hy 'n lig wat dui op die Messias wat sou kom, in hulle gedagtes gehad.


Dit is teen hierdie agtergrond wat Jesus dan sê: “Ek is die lig vir die wêreld. Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee.” Dink aan die geweldige impak wat dit moes gemaak het – juis op daardie spesifieke plek waar Hy gestaan het toe Hy dit gesê het en op die spesifieke tyd wat Hy dit gesê het. Hýself is die vervulling van die “verligting-seremonie”. Hý is die vervulling van Jesaja se profesie. Hý is die langverwagte Messias. Dit is 'n verstommende aanspraak om van jouself te maak!


Dit is die radikale keuse wat ons elkeen moet maak wanneer ons met Jesus gekonfronteer word. Sy aansprake laat eenvoudig geen ruimte vir neutraliteit nie. Ís Hy die lig van die wêreld of is Hy nie? Net soos die geweldige lig van die kandelaar tydens die “Verligting van die Tempel” seremonie die nagtelike hemelruim bo Jerusalem verlig het, só is hierdie Man – Jesus van Nasaret – die lig wat die duisternis van die mens se bestaan op aarde verlig! Dis ontsettend!


Daar kan nie baie twyfel wees dat die wêreld waarin ons leef nag-donker is nie as gevolg van die duisternis wat om die gees van die mensdom saampak. 'n Moreel-geestelike duisternis, die nagevolge van die sondeval, waarin elke mens wat op aarde onwillekeurig vasgevang is. Daar heers by sommige om ‘n lewenstyl van sonde te handhaaf en hulself sodoende meer en meer van God te vervreem. Gedurigdeur dryf hulle innerlike aptyte en luste hul meer en meer in dieper duisternis in. Sonder om dit ooit te vind, soek die mens die “goeie lewe” dáár waar dit nie te vinde is nie. Dis asof die mens die duisternis probeer ontvlug deur in dieper duisternis in te gaan.


Die Lig is dáár vir almal, Jesus sê self so. Instede om onverwyld na Hom toe te hardloop, het die mens die duisternis méér lief as die lig (Joh. 3:19). Onbegryplik, maar dit is wat die sonde aan die mens gedoen het. Hy haat die duisternis, maar in stede van na die lig te kom, vlug hy dieper die duisternis in. Dít terwyl Jesus se belofte die oplossing is: “Ek is die lig vir die wêreld. Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee”. Die oplossing vir die chaotiese duisternis is nie iets nie, dit is Iemand! Dit is 'n Persoon! Dit is Christus. En Hy is aan die beweeg. Hy is nie 'n lig wat stilstaan op een plek nie. Net soos die vuurkolom voor die volk Israel uit beweeg het en hulle dit gevolg het, beweeg die Here Jesus – dag en nag. Die mens wat Hom volg, moet ook bereid wees om te beweeg en te volg waar Hy lei. En as jy Hom volg, sal jy nóóit weer in die duisternis leef soos die tyd voordat jy 'n volgeling van Jesus geword het nie. Nooit weer nie. Dit is Sy belofte. Inteendeel, jy sal léwe hê. Die duisternis is vir ewig verby. Sy lig is die lig van die léwe. Wat 'n verskil!


“Vroeër was julle die ene duisternis, maar nou in die Here is julle lig. Leef dan as mense van die lig” (Ef. 5:8).


Gebed: Here, hierdie kersie wat ek aanbied, is ‘n stukkie van myself. Vroeër was ek die ene duisternis, maar nou in U is ek lig. Laat ek dan leef as ‘n mens van die lig (Ef. 5:8) en weerhou my dat ek nie meedoen aan die vrugtelose praktyke van die duisternis nie. Maak my bereid om die sonde wat donkerte bring, te vermy. Dit is asof die donkerte my so maklik oorheers terwyl ek eintlik in die lig wil wees. U is die skeiding tussen lig en donker en waar U is, is daar lig en ewigdurende lewe. Help my asseblief om in U lig te bly en dat die duisternis my nooit oorwin nie. Verlig my lewe met U Woord en Gees. Amen.



Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page