top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


Gevaarpunt 4 : Diskriminasie (1)


Jak 2:1-4 – “My broers (en susters), julle wat glo in ons Here Jesus Christus, die Here van die heerlikheid, moet mense nie volgens hulle uiterlike beoordeel nie. Sê nou daar kom in julle samekoms ‘n man (vrou) in met goue ringe aan sy (haar) vingers en met deftige klere aan en daar kom ook ‘n brandarm man (vrou) in met ou klere aan, en sê nou julle maak ‘n ophef van die man (vrou) met die deftige klere en julle sê vir hom (haar): ‘Kom sit u hier gemaklik,’ maar vir die arm man (vrou) sê julle: ‘Gaan staan jy daar anderkant’ of: ‘Kom sit hier by my voete,’ het julle dan nie onder mekaar onderskeid gemaak en mense op grond van verkeerde oorwegings beoordeel nie?”


Vergelyk ook Fil 2:7 – “Maar Hy (Jesus) het Homself verneder deur die gestalte van ‘n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word.”


Jakobus was waarskynlik bekommerd dat snobisme die vroeë kerk infiltreer. Hy beskryf dan ook hier die verskil in behandeling wat die ryke teenoor die arme ontvang, en dit nogal in die “samekoms” – die kerk – waar hulle, almal Christene, saam die God van liefde gaan aanbid. Jakobus veroordeel dit dat daar diegene is wat deur genade tot geloof in Jesus Christus gekom het maar terselfdertyd mense meermale “op-sigwaarde-aanneem.”


Slegs die flenterjas, en moontlik die verweerde bedelaarshande sonder ringe, is raakgesien en dit het vir hulle slegs één boodskap oorgedra: dat dié mens arm en gering is en geen vriendelikheid of agting verdien nie. En die woord van Jesus is vergete: “Vir sover julle dit aan een van die geringste van hierdie broers van My gedoen het, het julle dit aan My gedoen” (Matt 25:40b). Geld dit nie dalk vir vandag se kerk ook nie? “Het ons dan nie onder mekaar onderskeid gemaak en mense op grond van verkeerde oorwegings beoordeel nie?”


Ons wat in dieselfde erediens gaan bely dat ons in Jesus Christus glo, wat opgevaar het na die hemel … van waar Hy sal kom om te oordeel … Ons wat in die aanbidding Jesus in sy heerlikheid aan die regterhand van die Vader aanskou, nadat Hy op aarde daardie heerlikheid afgelê en die “gestalte van ’n slaaf (dienskneg) aangeneem het" (Fil 2:7), — wat sien ons nou in die twee aspirant-aanbidders? Kan ons geestelik oordeel en ’n godsdienstige maatstaf aanlê — hier waar dit immers om geloof en godsdiens gaan? Of dra ons die oppervlakkige, uiterlike maatstawwe van die wêreld daarbuite nou ook in die gemeente van Christus in? Die mens se sosiale waardes is buitendien nie gelykstaande aan God se waardes nie. “God trek buitendien niemand voor nie” (Rom 2:11).


As die geloofsaandag werklik op Hóm gevestig is, val al die onderskeid ten opsigte van menslike glorie, (die uiterlike kenmerke waaraan ’n mens se aansien en “gewigtigheid” onmiddellik herkenbaar is), gewoon weg en word armes en rykes, geringes en aansienlikes, magteloses en magtiges gelykgeskakel op die vlak van gelowiges in die oneindig verhewe Goddelike Here.


“Aanbidding is suiwer of minderwaardig na gelang van die aanbidder se verhewe of geringe gedagtes omtrent God” (A.W. Tozer).


Gebed: Jesus Christus ons Here, laat ons asseblief altyd besef dat ons geloof in U, die aard en kwaliteit van ons verhouding teenoor ander bepaal. Ons is almal die eiendom van geloof van die Here in die hemel. Ons voorkeure mag nie toelaat dat mense afgekeur word nie. Materiële waardes en kultuur moet nie ‘n rol speel op ons gradering van mense nie. Materiële oorwegings mag nie ons verhouding met God vervang nie. Help ons dat ons in geloof aan U bly vasklem. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page