top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


GEBED


Matt 6:10b – “Laat U wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel.”


Vergelyk ook Matt 26:39b – “My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie lydensbeker by My verby gaan. Moet nogtans nie doen soos Ek wil nie, maar soos U wil.”


Hierdie derde bede onderstreep en versterk die tweede bede. Ons sien nie graag af van ons eie wil nie en dus bots die sondige wil van die mens met God se onveranderlike en volmaakte wil. Wanneer ons dus bid dat U wil geskied, moet ons onsself verloën. Dit stel ons voor ‘n keuse: óf te buig voor God en Sý wil te gehoorsaam, óf in verset teen God ons eie wil te doen. “Loof die Here, alle hemelwesens wat Hom dien en sy wil doen” (Ps 103:21).


Geen wonder Luther het gesê hierdie bede is ‘n gevreesde bede. Jesus leer ons bid teen eiewilligheid. In die hemel is daar geen teenspraak, daar is volkome harmonie tussen ons Vader en Sy hemelse dienaars. Die hemelwesens voer God se opdragte met ywer en sonder dwarstrekkery uit, en gehoorsaam Sy wil. Hier op aarde is dit anders. Waar ons woon is dit nie hemel op aarde nie, maar soms ”hel op aarde,” soos sommiges dit noem. Hier moet ons versigtig wees om vir ons Vader te vra “Laat U wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel.” So word die hemel kriterium vir die aarde. Hy daag ons dalk net uit om teen ons wil op te tree. So moet almal wat deur God geskep is sy wil uitvoer, in die hemel en op aarde. “Laat u wil geskied” is dus ‘n gebed wat ons vra dat ons Vader ons, soos vir die engele, gehoorsaam maak aan Sy wil.


“PRAYER – PROCEED WITH CAUTION AND HANDLE WITH CARE”


Die bede is heel eerste ‘n Getsemane-gebed. Ons ken Jesus se woorde in Getsemane (Matt 26:39b). Jesus leer ons daar in Getsemane dat ons Vader se wil pynlike gevolge kan hê, pyn en lyding wat ‘n kruisweg kan meebring! ‘n Weg waar ons ons kruis moet opneem en self dra. “Jesus se Getsemane gebed was ‘n gebed van self-oorgawe. Eers ná Getsemane kon Jesus Sy kruisweg voltooi. Eers ná ons Getsemane kan ons lewe werklik ‘n offer in diens van ons Vader word” (Ds. Johan Smit). Tog bid ons nie dat ons Vader se wil moet geskied nie. Ons eis dat Hy ons s’n moet goedkeur. Ons probleem is dat ons weet wat God se wil is, maar ons weier om dit te doen.


Hoe kom die mens sover dat sy eie wil vervang word met die voorbeeld van Jesus? Om Hom te volg in gehoorsaamheid aan die wil van ons Vader, deur die genade van God alleen. Om by God te pleit dat ons ons eie wil prysgee om aan Sy wil wat goed is, sonder enige teëpratery, gehoorsaam te wees. “Wat julle ook al doen, doen dit van harte soos vir die Here en nie vir mense nie” (Kol 3:23).


Gebed: Ons Vader in die hemel, U allesomvattende en allesdeurdringende liefde is sigbaar in U Seun se uitgestrekte arms aan die kruis wat die pad na die hel toe versper. Ons is so geneig om verby Sy uitgestrekte arms te beur omdat U wíl, teen ons mensgemaakte plannetjies indruis en ons lewe “omvergooi.” Ons wil getuig o Heer, U wil vir ons is om die veilige pad te vind – met ons kruise op die rug soos donkies, op die moeilike pad, Jesus te volg. Lei ons daarheen o Vader. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page