top of page

E-Kerk - Gedagte vir die Dag


Matt 5:5“Geseënd is die sagmoediges, want hulle sal die nuwe aarde ontvang.”

Vergelyk ook 2 Tim 2:24-26 “ ‘n Dienaar van die Here moenie rusie maak nie. Inteendeel, hy moet vriendelik wees teenoor almal, bekwaam om ander te leer en iemand wat onreg kan dra. Met vriendelikheid moet hy teenstanders teregwys. Dit kan wees dat God hulle bekeer en hulle tot kennis van die waarheid bring. .......”


“Ek dink jy sal met my saamstem. Terwyl hierdie timmerman se Seun praat oor sagmoedigheid, maak dit my kwaad. Kyk bietjie rond, ek is nie die enigste wat so voel nie. Hier is ‘n hele klompie ou manne wat al rooi in die gesig is van woede.” Ek fluister vir die man hier langs my op die heuwel, maar hy hoor my nie. Sy oë is vol trane. Wel, in daardie geval, praat ek maar met myself.


Ek hoor wat U sê Vriend maar ek het baklei vir wat ek het. My plekkie in die son het nie verniet in my skoot geval nie. Ek meen, as ek nou sagmoedig deur die lewe gegaan het, sou ek nie daardie mooi huis gehad het nie. Ek het nie daardie nuwe aarde wat U na verwys, eintlik nodig nie. Ek het tans genoeg en ek maak buitendien nog steeds bymekaar. As ek soms nie op mense getrap het om bo uit te kom nie, sou ek nie my huidige posisie by die werk en in die samelewing beklee het nie. Pêl, dis ‘n harde wêreld hierdie en nou wil U my kom vertel ek moet sagmoedig wees. Hier is elke man vir homself. Jy moet kan slae vat, slae uitdeel, kul met belasting, korrup wees en saam met die stroom beweeg, anders bly jy agter. Álmal doen dit. En as dit sonde is, ek het medisyne vir my sondepyne en het niemand nodig om my reg te help nie.


Maar wat my ‘n bietjie pla is dat U gesê het: ”Geseënd is die.......”. Die “betraande oë” man langs my het seker my gedagtes gelees. In ‘n fluisterstem sê hy: “Ek kan nie, ek mag nie kwaad wees nie. My God leef en Sy Seun sê ek moet ‘n sagte hart hê – ‘n omgee hart. Want sien, eendag gaan staan daardie hardvogtige hart van jou. Jou ongenaakbare en selfsugtige gedrag het gemaak dat jou hart anders is as wat God dit wou hê. Jy het nou wel hier op aarde bo uitgekom in alles wat jy gedoen het, maar jy het jou hart verloor. Dit gaan dalk beteken jy gaan nie BO uitkom nie. Dit is hulle wat BO uitkom wat die nuwe aarde ontvang. Jesus is besig om met lewende woorde aan te kondig dat God se nuwe wêreld aangebreek het. Wees net naby, dan hoor jy dit!"


God gee deur Sy wonderlike genade wat niemand van ons af kan wegneem nie. Op die nuwe aarde sal ons mede erfgename wees van Jesus. Glo dit! Vertrou dit! Dit is nie nodig om “met mag en krag” in jou doel te slaag nie want “deur die Gees” van God sal jy baie meer vermag (Sag 4:6). ‘n Dienaar van die Here moenie rusie maak nie. Inteendeel, hy moet vriendelik wees teenoor almal, bekwaam om ander te leer en geduldig wees met moeilike mense. Met vriendelikheid moet hy teenstanders teregwys. Miskien sal God daardie mense se harte verander, en sal hulle die waarheid leer ken. Ons het dus ‘n nuwe karakter. Ons glo ons sal die nuwe aarde ontvang. Ons laat ons nie onderkry deur hardvogtiges nie. Ons doen en dink anders oor aardse dinge. Ons is sagmoediges.


Gebed: Hemel Vader. Ons bely dat ons ook soms baklei om bo uit te kom en in die proses trapmerke en wonde agterlaat wat in stryd is met U opdrag van naasteliefde. Skenk ons krag dat ons verhouding met U en met mense ons skatryk sal maak. Haal ons voete van vertrapping van ander af en plaas hulle op pad na U toe, daar waar dit saak maak! Daardie pad is nie rigtingloos, koersloos of donker nie. Ons kan nie verdwaal nie. Help ons en skenk ons genade dat ons poging om BO uit te kom, met hoofletters is. Ons is tot alles in staat deur U wat ons krag gee.

Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page