Gedagte vir Vandag
- ngfochvillenoord
- Mar 2, 2021
- 5 min read
2 Maart 2021
Koos Espach
JESUS ONDERWEG NA SY LYDING, DOOD EN OPSTANDING (60)
(Matt. 16:21–25:46)
Jesus se gesag in Jerusalem bevraagteken (6).
(Matt. 21:1–22:46)
Die intog van Jesus in Jerusalem (6)
(Mark. 11:1-11; Luk. 19:28-38; Joh. 12:12-19)
Die besonderse Jesus – die laaste skuif!
Matt. 21:10-11 – “Toe Jesus in Jerusalem ingaan, het die hele stad in beroering gekom en gevra: ‘Wie is hierdie man?’ Die skare het geantwoord: ‘Dit is die profeet Jesus van Nasaret in Galilea!”
Vergelyk ook Heb. 1:5-6 – “Immers, aan wie van die engele het God ooit gesê: ‘Jy is my Seun, vandag het Ek jou Vader geword, en ook: Ek sal sy Vader wees en Hy sal my Seun wees. En wanneer God die Eersgeborene in die wêreld inbring, sê Hy: ‘Al die engele van God moet Hom aanbid.”
Tydens Jesus se intog in Jerusalem die Sondag voor Sy kruisiging, bring Hy die hele stad in beroering. Die skare sing lofliedere, ander wil weet wie hierdie man is. Weet ek en jy werklik nog “wie hierdie man is” in vandag se post-moderne eeu. Indien ons dalk net ‘n visie het van wie Jesus is, behoort ons weer agter die skerms van God se wêreld gaan kyk om dalk weer, of opnuut, onder die besef te kan kom van Sy grootheid, almag en liefde. Die Hebreërskrywer fokus veral op Jesus se grootheid en hy skryf Jesus is só groot dat Hy die ewebeeld van God self is. Hy weerkaats ál Sy Vader se heerlikheid en krag en hou alles, hoor julle, álles op aarde deur Sy magswoord in stand.
Daar was mense tussen die skare wat geweet het Hy is die timmermanseun van Josef uit Nasaret. Ander het gesien Hy het baie wonderwerke gedoen en mense gesond gemaak, feitlik oral waar Hy gekom het, maar inderwaarheid, het hulle nie baie van Hom geweet nie. Selfs die Joodse kerkleiers wou weet op wie se gesag Hy optree (Matt. 21:23). “Wie is hierdie man?” Jesus het baie meer waarde as enige ander skepsel; Jesus is wonderlik spesiaal in God se oë. Daar is ’n spesiale band tussen God en Jesus: “Immers, aan wie van die engele het God ooit gesê: ‘Jy is my Seun, vandag het Ek jou Vader geword?” Jesus is God se enigste ware Seun of kan ’n mens sê Bloedseun? Ja, die enigste seun wat kon sterf, Wie se bloed kon loop om die mensdom se straf te dra. “Hy het die mag van die dood gebreek en deur die evangelie die onverganklike lewe aan die lig gebring” (2 Tim. 1:10). Lees dit asseblief weer.
Kyk mooi na wat hier staan. Jesus se rol word baie duidelik beskryf. Hy is die een wat alles op Hom geneem het om die mens se saak met God reg te maak. Hy het aarde toe gekom en nou kan ons almal duidelik sien hoe goed God vir ons is. Christus Jesus het die dood wat so ’n houvas op ons almal gehad het, se mag kom breek. Hy het die pad na die ware lewe vir ons oopgemaak sodat ons geestelik vir ewig kan lewe. Dit is alles waaroor die evangelie gaan. Dit is die goeie nuus wat Jesus vir ons gebring het.
Jesus is die een wat die timmer en herstelwerk self kom doen het. Is dit nie wonderlik nie? God se “herstelplan” is uniek! Nie dat die mens geskep is met ’n foutiewe komponent nie. Daarvoor het ons self gekies. Maar tog, op Sy koste, stel God ’n herstelplan saam en op Sy koste voer Hy dit ook uit. Hy laat die herstelwerk nie aan ’n ander party oor wat namens Hom die werk moet doen nie. Nee, die herstelwerk is vir God té belangrik. Daarom, toe Hy begin dink het aan wie Hy kon stuur om die herstelwerk te doen, was daar net een persoon wat Hy in gedagte gehad het – Jesus. God het geweet Hy was die regte en enigste persoon wat Hy totaal en al kon vertrou om die opdrag 100% uit te voer, tót die dood toe.
En God doen toe presies dit! Wat was die oplossing? Dit is eenvoudig: Die bande wat die mens vashou en hulle verhoed om vry te wees, wat eintlik deel was van God se aanvanklike plan met ons, moet losgesny word. Die vyand satan het al hoe meer veld gewen en die mens kon net nie meer die aanvalle teenstaan nie. Daarom die “Emergency Repairplan” van God. Maar in plaas daarvan dat Hy almal terugroep na Hom toe, soos die motormaatskappye deesdae doen wanneer daar ‘n fabrieksfout ontdek word, gaan Hy na die mens. Sy Seun is die een wat op die ou end na die aarde gaan (Joh. 1:14) om aan die kruis die dood te oorwin sodat die mens verlos kon word uit die gevangenis van die dood. Die herstelplan is 100% suksesvol!
Iemand vertel die legende oor die “Skaakmat” skildery van Friedrich A.M. Retzsch. In die skildery sit daar twee spelers om die skaakbord. Die een is die duiwel, baie selfversekerd en die ander ’n gewone man wat baie bekommerd lyk. Die prys vir die wenner is die siel van die man – aldus die opskrif: “Skaakmat!”. Eendag het ’n skaakkampioen by die museum ingestap en lank by die skildery stilgestaan. Skielik skree hy uit: “Dis ’n leuen! Dis ’n leuen!” Die kampioen was hewig ontsteld en op ‘n vraag van die kurator waaroor hy so ontsteld is, antwoord die kampioen: "Die skilder sal die skildery moet verander, of hy sal die titel moet verander. Kyk, die spel is nie oor nie, dit is 'n leuen, dit is nie skaakmat nie, die koning het nog 'n skuif!"
Net toe dit lyk of ons alles verloor het, toe dit lyk of die mens glad nie meer ’n kans het op die lewe nie, toe dit lyk na skaakmat, is daar nog een skuif oor, die Koning van konings het nóg ‘n skuif, en met daardie skuif, het “Hy die mag van die dood gebreek.” God het deur Jesus Sy laaste skuif gemaak en as wenner uit die stryd getree. Hierdie houvas wat die satan op die mens gehad het, het Jesus aan die kruis kom los maak. Die kettings wat die mens vasgehou het, het Jesus kom los breek. Die swaar bagasie wat ons agter ons aansleep, het Jesus afgepak. Met Jesus se laaste skuif het Hy as wenner uitgetree, die mens verlos en satan meer as net ’n bloedneus gegee. Hy het hom ’n behóórlike goeie pak slae gegee én sy angel getrek.
Dit is die prys wat ons ontvang as gevolg van Jesus se laaste skuif. Mense moet kan sien wat die impak van Jesus se laaste skuif in ons lewe het. Hulle moet so nuuskierig wees dat hulle sommer sal vra wat met my en jou aangaan. “Wie is hierdie man?” Hoe sien ons vir Jesus? Wat sê ek en jy vir God oor Sy herstelplan? Wat sê ons vir ander oor God se herstelplan? Verstaan ons Jesus se laaste skuif? Wat is die impak van Jesus se laaste skuif op my en jou lewe? Sien ander dit raak?
“As alles verlore is en niks maak meer sin; weet dan God se planne het nog maar skaars begin”
(Ester Guyot).
Gebed: Hemel Vader, hoe kan ek U bedank vir U wonderlike herstelplan? ’n Plan wat U Seun se lewe gekos het. En dit net vir my, sodat die sonde wat ek doen nie vir altyd tussen my en U kom staan nie. Jesus, dankie dat U die pad na die ware lewe vir my oopgemaak het. Dankie dat ek kan weet dat die bekommernisse en pyn van die lewe op aarde nie vir altyd gaan aanhou nie. Help my om my oë op die dinge daar bo te rig sodat ek vol hoop elke dag kan aanpak. Jesus, ek wil U loof, liefhê en dien! My dankie woorde is te min. Heilige Gees, help my dat my manier van lewe dit eerder sê. Amen.
Recent Posts
See AllDinsdag, 22 April 2025 Koos Espach As E-Kerk familie reis ons van vandag af verder saam met Paulus in sy Brief aan die Romeine. Bevry van...
Sondag, 20 April 2025 Koos Espach Jesus se pad na glorie Die leë graf – Jesus het werklik opgestaan en lewe vandag Joh. 20:1-2 – “Die...
Saterdag, 19 April 2025 Koos Espach As E-Kerk familie reis ons hierdie week saam met Jesus na Opstandingsondag, 20 April 2025. Jesus se...
Comments