top of page

Gedagte vir Vandag

Donderdag, 23 Mei 2024

Koos Espach


Paulus verdedig hom voor Feliks (4)

 

Wat sê die Bybel?

 

Hand. 24:14b – “Ek glo nog steeds alles wat in die wet en die profete geskrywe staan.” (2)

 

Gister het ons gevra hoe ek en jy ook soos Paulus “nog steeds kan glo in alles wat in die wet en die profete geskrywe staan?” Ons het ook bygevoeg wat Rick Warren in sy bekende boek, “Doelgerigte Lewe”, sê wat dit behels om ‘n dissipel van Jesus te wil wees: ons eerste prioriteit moet wees om God se Woord in te kry. En toe het ons gekyk in watter konteks Jesus gesê het: “As julle aan my woorde getrou bly, is julle waarlik my dissipels ...” (Joh. 8:31). Hoe doen ons dit? Hoe bly ons getrou aan God se Woord sodat ons soos Paulus, “nog steeds alles glo wat in die wet en die profete geskrywe staan?”

 

Die slim mense sê ons moet eerstens Paulus se verklaring as ons persoonlike bevestiging van ons geloof aanvaar. Wanneer ek en jy enige besluite neem, ondanks kultuur, tradisie of emosie, moet ons die God van die Bybel as ons Oppergesag kies. Met ander woorde, elke keer wanneer ons besluite neem, moet ons God se Woord vertrou. Ons moet elke keer vra: “Wat sê die Bybel?” Wat sê God vir ons in sy Woord? Of dit nou sin maak of nie, en of ons nou lus voel om dit te doen of nie, ons sal God se Woord vertrou en soos Paulus ons bevestiging van ons geloof verklaar: “Ek glo nog steeds alles wat in die wet en die profete geskrywe staan.”

 

Dit is egter nie net genoeg om ons geloof te verklaar of om te sê ons glo in die Bybel nie. Ons moet ons kop daarmee vol maak sodat die Heilige Gees ons met die waarheid kan verander. Sjoe! Dis ‘n mond vol, maar hoe doen ons dit? Rick Warren sê daar is vyf maniere om ons kop daarmee vol te maak: Ons kan dit ontvang, lees, navors, onthou en oordenk. Kortom, wat sê die Bybel?

 

Ons ontvang God se Woord wanneer ons daarna luister. Die beste plek om dit te ontvang is om kerk toe te gaan sodat ons na sy Woord kan luister. Jakobus gee dié raad: “Daarom moet julle ... ootmoedig die woord aanneem wat God in julle geplant het, want dié woord kan julle red” (Jak. 1:21). Ons moet ook oppas hoe ons daarna luister. Jesus se gelykenis van die saaier byvoorbeeld (Luk. 8:4-14), bepaal hoe God se Woord in ons lewens posvat en of dit enigsins vrug dra, of nie. Hoe ontvang ons die Woord? Met ‘n geslote verstand (harde grond); oppervlakkige verstand (vlak grond) of ‘n afgetrokke verstand (grond met onkruid). Ons moet ook seker maak dis nie valse leermeesters of vals profete (Matt. 7:15) en dwaalleraars wat die verkeerde Woord bring nie.

 

Tweedens moet ons die Bybel lees. Dit behels om die Bybel volgens ‘n daaglikse leesplan te lees. Dit help nie om rond te spring, net oor ons geliefde gedeeltes te ‘vee’ en dan te dink ons gaan verstaan wat God vir ons wil sê nie. Ons kán nie geestelik groei as ons drie ure lank televisie kyk en ons Bybel drie minute lank lees nie. Nog minder as ons eerder die koerant met al die slegte nuus getrouer lees as om die goeie nuus wat die Bybel bied, in te neem nie. Om elke dag die Bybel deeglik te lees, bly ons binne hoorafstand van God se stem!

 

Rick Warren sê dan moet ons navorsing doen, kortom Bybelstudie. Bybelstudie verskil van Bybellees want nou vra ons vrae oor die teks en ons skryf ons insigte neer (of tik dit). Ons vra ook elke keer dat die Here ons die nodige wysheid en insig gee op die gelese gedeelte te verstaan. Gun my ‘n opmerking t.o.v. hierdie gedagte. Miskien is my geheue dalk nie so goed nie, maar ek onthou die gedagtes wat ek op papier of rekenaar neergeskryf het, beter as om dit net te probeer onthou. En om dit nóg beter te onthou, deel ek dit met ander (julle) wat dit ook graag wil ontvang. Die Bybel sê ons gaan veel meer ontdek wanneer ons eenvoudige vrae vra soos wie, wat, wanneer, waar, waarom en hoe? “Maar iemand wat hom of haar verdiep in die volmaakte wet wat ‘n mens vry maak, en hom of haar daaraan hou en nie vergeet wat hy of sy hoor nie, maar dit doen, sal gelukkig wees in wat hy of sy doen” (Jak. 1:25).

 

Vierdens praat Warren van die onthou gedeelte. Om te onthou is ‘n Godgegewe gawe – ons onthou makliker dinge wat belangrik is – en God se Woord is mos belangrik! Behalwe om ons insigte neer te skryf, help dit om Bybelverse wat ons beïndruk te memoriseer en dit te herhaal, herhaal, herhaal. Wat sê die Bybel? Paulus sê “Die boodskap van Christus moet in sy volle rykdom in ons bly. Leer en onderrig mekaar met alle wysheid” (Kol. 3:16).

 

Die vyfde manier om aan God se Woord getrou te bly is om dit te oordenk. Om na te dink oor die gelese gedeelte, is beslis beter as om oor al die slegte dinge wat oor ons pad kom te tob. ‘n Getob beteken dat ons brein geneig is om ons op negatiewe dinge te laat fokus. Dit is miskien wys om Dawid se voorbeeld te volg. Hy het gesê: “Hoe lief het ek U wet, dit bly my elke oomblik by” (Ps. 119:97).

 

Dit was die maklike gedeelte om getrou te bly aan God se Woord en “nog steeds alles wat in die wet en die profete geskrywe staan, te glo.” Ons as mense is geneig om vas te skop teen verandering. En dis presies wat gebeur, God se Woord verander ons! Ons kán nie dieselfde wees nadat ons intens God se Woord bestudeer het nie, ons moet dit toepas. Elke toepassing wat ek en jy op onsself neem, gaan ons verhouding met God en ander mense, en selfs onsself, verander. Is dit nie die moeite werd om te probeer nie? Wat het God vir my en jou in Sy Woord vertel, wat ons nog nie vandag begin doen het nie? Wat sê die Bybel?

 

“Die Bybel is nie gegee om ons kennis uit te brei nie, maar om ons koppe met die Waarheid te vul en ons lewens te verander” (Dwight L Moody).

 

Gebed: Hemel Vader, laat ek elke keer besef wanneer ek U woord lees, dit is Ú wat met my hier praat. Wat hier staan, gaan oor mý. Wat, waar en wanneer moet ek dit gaan toepas? Dankie Gees van Waarheid, dat U my daarmee help. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page