top of page

Gedagte vir Vandag

Woensdag, 20 Maart 2024

Koos Espach


Paulus vertel van sy bekering (3)

 

God binne ons

 

Hand. 22:8-9 – “Wie is U, Here?’ het ek gevra. ‘Ek is Jesus van Nasaret, het Hy my geantwoord. ‘Dit is vir My wat jy vervolg.’ 9 Die mense wat saam met my was, het wel die lig gesien maar nie die stem verstaan van Hom wat met my gepraat het nie.”

 

Paulus reageer terwyl hy op die grond lê deur te vra: ‘Wie is U Here?’ Hy kon nie dink dat dit dié Jesus is wie se volgelinge hy vervolg, wat uit die hemel met hom praat en voor wie hy rekenskap moes gee oor sy misplaaste ywer vir God nie. Met sy aanspreek van Jesus as ‘Here’ erken hy die man wat uit die hemel met hom praat as God en dit word dan ook so bevestig. ‘Jesus van Nasaret’ is vir die skare belangrik, omdat daar destyds baie mense met die naam Jesus was, die Griekse vorm van Josua. Die meeste Jode het egter van ‘Jesus van Nasaret’ geweet.

 

Paulus vertel verder dat sy reisgenote wel die stem gehoor het, maar nie verstaan het wat gesê is nie. Hulle het nie besef dat dit ’n openbaring van Jesus se heerlikheid was nie. Hulle het wel die lig gesien, maar nie die stem van Hom wat met Paulus gepraat het, gehoor en verstaan nie: “... hulle kyk sonder om te sien en hoor sonder om te verstaan” (Luk. 8:10).

 

Daar is ongelukkig steeds dié wat kyk sonder om te sien en Jesus se stem hoor en eerder skouers optrek as om te luister. Aan hulle het Jesus ‘n waarskuwing gerig: “En elkeen wat hierdie woorde van My hoor en nie daarvolgens handel nie, kan vergelyk word met ‘n dwaas wat sy huis op sand gebou het. Die stortreën het geval, vloedwaters het afgekom, winde het teen daardie huis gewaai en daaraan geruk, en die huis het ingestort en is heeltemal verwoes” (Matt. 7:26-27). Hulle hoor ons Verlosser se woorde maar luister nie! Hulle steur hulle nie aan Jesus se waarskuwings nie.

 

Om iemand ‘n dwaas te noem is baie negatief. Dit beskryf iemand wat as gevolg van sy swak intellek, onverstandig optree. Wanneer hierdie term in die Skrif gebruik word, is dit gewoonlik nie net van ‘n onverstandige of irrasionele persoon nie maar ook immoreel. Dit is iemand wat stupid genoeg is om sy eie pad van sy eie godsdiens te loop instede daarvan om na die woorde van die Waarheid te handel – hy is iemand soos wat die Spreuke skrywer beskryf: “Hy stel nie belang in insig nie, hy wil net sy eie opinie bekend maak” (Spr. 18:2).

 

Vandag is daar menigte mense wat dieselfde optree. Sommiges hoor die Woord van God maar verwerp dit onmiddellik as dwaasheid – hulle het geen intensies om ‘n Christen te word nie en verkies om as ateïste aan te ploeter. Ander weer, hoor die Woord en beskou hulleself as Christene, maar verkies om steeds die beginsels wat die wêreld bied, aan te neem en sodoende die uitdagings van ‘n Christelike lewenswyse te omseil. Dit is hulle wat “elkeen hierdie woorde van Jesus hoor en nie daarvolgens handel nie.” Hulle redeneer graag oor godsdiens en ontwerp hulle eie ketter-teorieë om God se morele wette te vervang. Mensgemaakte reëls vervang die Woord van die Waarheid en dan word dit gekoppel aan “misterieuse leiding van die gees.” (Weet nie watter gees?) 

 

Ai, ons arme mense. Ons skiet so ver tekort, maar ons is nou eenmaal so gemaak en so gelaat staan! Nee! Inteendeel, God het ons gemaak en Hy maak nie foute nie. Hy het ons ook nie so laat staan nie! Ons is gou om te sê: “God praat hard met ons.” Dit is onwaar! God het laaste by Golgota hard gepraat toe Hy sy liefde deur ‘n gekruisigde Jesus Christus aan die wêreld uitgebasuin het. God skep nie ISIS, Hamas, swak regerings of moedig misdaad aan nie. God het nie korrupsie uitgedink nie – die mens bring dit oor homself! Dankie tog, ons gelowiges  is uit genade gered!

 

Net soos die dwase bouer nie aan die natuurelemente gedink het “en die huis ingestort en heeltemal verwoes is”, net so dwaas is diegene wat aan hulle karakter bou sonder geloof in Jesus Christus. Die goeie nuus is dat elkeen wat vasgryp aan Jesus in die geloof en bely dat Hy die Here is wat deur God uit die dood opgewek is (Rom. 10:9), het ‘n veilige genade-roete na God toe. Ons gelowiges het rots raakgeboor en ons kan ‘n verhouding bou op daardie Ewige Rots wat ons onwankelbaar versterk, sodat nie eens die grootste storm ons “huis laat instort en heeltemal verwoes” nie. En ja, wanneer die storms woed en ons twyfel of die ‘huis’ staande gaan bly en dit voel of ons gebede teen die plafon vasslaan, God is nader aan ons as die plafon – die Ewige Rots is deur sy Gees ín ons.

 

“Struikelblokke is daardie skrikwekkende voorwerpe wat ons in ons pad sien as ons ons oë van die doelwit wegneem” (Hannah Moore).

 

Gebed: Here, ek wíl soos die verstandige man wees en my huis op rots bou, op U woorde wat soos rots is. Help my om dit te dóén Here want ek is tot alles in staat deur U wat my krag gee. Dankie Here, dat U genade vir my genoeg is om my van die krag en nodige toewyding te voorsien om Jesus se woorde te doen en ‘n liefdesverhouding daarmee te bou, tot eer van sy Naam. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page