Gedagte vir Vandag
Maandag, 12 Februarie 2024
Koos Espach
VIII. Paulus se reis na Jerusalem
Hoofstuk 20 – Paulus in Masedonië en Griekeland
Paulus spreek die ouderlinge van Efese toe (12)
God se vooraf-genade
Hand. 20:35b – “Onthou die woorde van die Here Jesus. Hy het self gesê: Om te gee, maak ‘n mens gelukkiger as om te ontvang.”
Paulus neem afskeid van die ouderlinge van Efese in Milete. As apostel gekies deur Jesus self, het hy Jesus nie geken nie, inteendeel, hy het Jesus se leer vervolg. Na sy bekering op die pad na Damaskus, verkondig hy sy eie vorm van die evangelie wat hy dikwels ‘sy evangelie’ noem. Oral waar hy gaan, stig hy gemeentes wat hy só verbonde aan raak dat sy lewe as’t ware daarvan afhang, soveel vir hulle omgee dat hy soos ‘n pa vir hulle voel (1 Tess. 2:11). Hy het hom aan almal diensbaar gestel om soveel mense as moontlik vir Christus te wen (1 Kor. 9:19), en daardeur met sy voorbeeld getoon dat mens moet hard werk om die armes te help. Dit is immers beter om te gee, as om te ontvang.
God gee sonder om terug te verwag. In God se gee lê die element van genade. Wat Hy gee, gee Hy uit genade en in oorvloed – “Die hoop beskaam nie, want God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het. Toe ons nog magteloos was, het Christus immers reeds op die bestemde tyd vir goddeloses gesterwe. ’n Mens gee tog nie sommer jou lewe prys nie, selfs nie eers vir ‘n regverdige nie. Ja tog, vir ‘n goeie mens sal iemand miskien nog die moed hê om te sterwe. Maar God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was” (Rom. 5:5-8).
God is deur niemand anders of enige faktore van buite beïnvloed vir Sy daad om ons te verlos van sonde nie. Sy liefde en genade is die enigste bron waaruit ons verlossing stem. “God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.” Jesus Christus het nie vir óns gesterf ómdat ons sondaars is nie, maar omdat ons óns is, sondaars wat Hy liefhet. Die bewys dat God ons so liefgehad het dat Hy sy enigste “Seun vir ons gegee het ...” (Joh. 3:16), word bevestig in die feit dat “God sy liefde in ons harte uitgestort het deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het.”
Iemand het gesê dat hierdie ‘vooraf-genade’ van God genoem kan word – ‘n genade wat ons “hoop nie beskaam nie”; ‘n genade wat ons geloof of ongeloof vooraf gaan; ‘n genade wat ons vroomheid, berou of gebrek aan berou, vooraf gaan; ‘n genade wat selfs ons gebede of biddeloosheid vooraf gaan! Deur God se genade mag ons lewenspad miskien met Jesus Christus kruis. Gedurende die stukkie tyd tussen ons geboorte en sterwensdatum, beleef ons elkeen verskillende aanslae van die lewe, soet en suur, vreugde en swaarkry, en indien ons uit God se genade, dan vir Jesus kies, is ons ín Christus en deel van God se gesin.
Nog ‘n voorbeeld van ‘vooraf-genade’ is wanneer klein kindertjies gedoop word. Kindertjies word nie op grond van hulle geregtigheid of op grond van hulle geloof of hulle prestasies in die geloof, gedoop nie. Hulle word nie gedoop omdat hulle min sonde het of dat hulle eintlik nog onskuldig is nie – buitendien weet hulle nog nie eens wat sonde of genade beteken nie – hulle word gedoop op grond van God se vooraf-genade. Dit is wat dit beteken om God se vooraf-genade te ontvang. En die kroon daarvan, is dat daar geen rekords is in enige hemelse lêers, dat enigiets ooit met ons verkeerd gegaan het of fout was met ons nie.
Ons moet egter onthou dat ons verhouding met God, en gepaardgaande daarmee ons verlossing, eers begin het toe ons pad met Jesus gekruis het. Ons genade word nie gebore uit die keuse wat ek en jy maak nie, dit is afhanklik van God se besluit wat Hy reeds gemaak het “toe ons nog magteloos was.” God het ons gesien nog voordat ons gebore was, “nog voordat die wêreld geskep is, is ons in Christus uitverkies” (Ef. 1:4). Al ons lewensdae was opgeskryf in God se boek “nog voor enige been van ons gevorm is toe ons aanmekaargeweef is in ons moederskoot” (Ps. 139:15-16).
God het óns dus uitgekies en Goddank, Hy is nie kieskeurig nie, Hy kies ons almal. Solly Osrovech skryf in sy boek “Dink aan jou Skepper”, die volgende: “Soos jou vrienskap met Jesus Christus toeneem en Sy wil vir jou lewe al duideliker word, sal nie net jou lewe nie, maar ook alle ander verhoudings in jou lewe in so ‘n mate verryk word dat jy in verwondering sal staan voor die onuitspreeklike genade van God wat vir die mens so ‘n wonderlike Vriend gestuur het.” Jesus, ons Vriend het dit baie duidelik gemaak dat Hy “ons nooit sal verlaat of in die steek sal laat nie” (Heb. 13:5). Talle Christene kan getuig dat hierdie belofte van Jesus waar is omdat hulle die vrienskap en genade van God wat omgee, selfs in tye van swaarkry en lyding, kon geniet. Daarom mag ons ook nooit die genade en die Evangelie wat ons ontvang, net vir onsself hou nie. Ons moet ook vir ander, God se omgee ook oorgee en uitgee aan ander.
“Die manier waarop en die gesindheid waarmee gegee word, sê meer van die gewer as die geskenk self” (Johann Lavater).
Gebed: Dankie Here, nog “voordat ek kon kies, kon vra, het u Seun my vloek gedra. Ek kon vind U het my gekry voor ek nog my skuld bely” (Ges. 10). Ek kom met leë hande want ek besef ek kan niks aan U bied nie. Maar U maak my hande vol genadegawes sodat ek dit, as U ambassadeur, kan gaan uitdeel. Skenk my deur U Gees, die krag daarvoor. Amen.
Comments