top of page

Gedagte vir Vandag

Maandag, 29 Januarie 2024

Koos Espach


VIII.  Paulus se reis na Jerusalem (Hand. 20:13-23:35) 

Hoofstuk 20 – Paulus in Masedonië en Griekeland 

 

Paulus spreek die ouderlinge van Efese toe (2)

 

Leerskool van gebed

 

Hand. 20:22 – “En nou gaan ek Jerusalem toe, daartoe gedring deur die Gees. Wat dáár met my sal gebeur, weet ek nie.”

 

Nadat Paulus by Milete vir die ouderlinge ’n terugblik van sy bediening in Efese gegee het sodat hulle sy bediening daar kon voortsit (vv. 18-21), wend hy hom tweedens na die onmiddellike toekoms en verduidelik hy wat gaan gebeur. Hy is op pad na Jerusalem en hierdie reis word deur twee dinge gekenmerk: In die eerste plek is hy daartoe gedring deur die Heilige Gees (16:6 ev; 19:21) – hy weet dus dat hy deur God gelei word om te gaan, en daarom moet hy gaan.

 

In die tweede plek is dit ook ’n reis van onsekerheid, want hy weet nie wat in Jerusalem op hom wag nie. Die Gees het nog nie aan hom die besondere doel of wat daar alles sal gebeur, geopenbaar nie. Die onsekerheid oor wat op hom wag blyk ook uit sy brief aan die Romeine wat pas voor sy vertrek uit Korinte deur hom geskryf is. Hy versoek dat daar vir hom gebid moet word, dat hy bewaar moet word van gevaar in Jerusalem en dat sy gawes vir die kerk met dankbaarheid ontvang sal word – “Ek versoek julle dan dringend, broers, in die Naam van ons Here Jesus Christus en op grond van die liefde wat van die Heilige Gees kom: Stry saam met my deur vir my te bid …” (Rom. 15:30).

 

Paulus is baie bekommerd oor sy besoek aan Jerusalem, daarom versoek hy dat daar “dringend” vir hom gebid word. Hy rig sy versoek “in die Naam van ons Here Jesus Christus en op grond van die liefde wat van die Heilige Gees kom.” Hy roep die gesag van Jesus Christus in, want gebed is vir hom ‘n lewensbelangrike saak, en nie sommer net ‘n stukkie vroom godsdienstige roetine nie.

 

God het vir ons ‘n deur oopgemaak en Hom vir ons toeganklik gemaak deur die “Woord wat mens kom word het” (Joh. 1:14). Jesus het op Sy beurt vir ons die “Gees van die waarheid gegee wat ons lei in die waarheid” (Joh. 16:13). Wanneer ons aan die Gees oorgegee is, word ons gelei deur die Gees om te bid. Hoe meer ons onder die heerskappy van die Gees lewe, hoe meer sal ons volgens die wil van God bid want ons moet alles “biddend doen en by elke geleentheid God smeek deur die Gees” (Ef. 6:18).

 

Gebedsdrang groei namate ons in die omgang met die Woord getrou is. Die Gees help ons om gehoorsaam te “bly in Christus en Sy woorde” – om in Sy woorde te bly en in geloof vas te hou aan Christus. Ons bid nie sommer asof geloof net ‘n emosionele saak is nie. As gelowiges, vra ons ook Jesus om ons “te leer bid”. As gelowiges moet ons by die beste Leermeester leer en by Sy gebedskool inskryf – die beste “geestelike kwalifikasie” word by daardie skool verkry!

 

Wanneer ons soos Paulus in nood verkeer, kan ons maar soos die dissipels vra: “Here, leer ons bid!” (Luk. 11:1). Ons vra dan vir Hom om die deur na ‘n voller, ryker en edeler lewe oop te maak. Die begeerte om te bid is die begeerte om uit te reik en die hand van God te vind, en saam met Hom as ons Begeleier deur die lewe te gaan. Ons kan ook soos Paulus, ander mense vra om vir ons te bid. Dit is altyd goed om te weet ons is toegevou in die warmte van gebede van ander gelowiges. Al is ons ver van mekaar, kan ons steeds verenig in gebed by die genadetroon van God!   

 

God se vermoë om gebed te beantwoord, is onbeperk, ons moet Hom net vertrou. Hy is die God wat ons in 2024 steeds nooi om Hom te beproef en te sien hoe Hy vir ons die vensters van die hemel oopmaak (Mal. 3:10). Net soos ons hart na God hunker in gebed, net so wag Hy om met ons in gemeenskap te tree. Nie alleen om ons te bemoedig of te vertroos nie, maar om ons uit te daag om Sy wil te aanvaar. Buitendien, die verlange van ons harte is vir God belangriker as die manier waarop ons dit verwoord.

 

As ons inskryf by Jesus se “leerskool van gebed”, leer Hy ons nie net om te bid nie, Hy gee vir my en jou sy “Gees wat ons ook in ons swakheid bystaan: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê kan word nie” (Rom. 8:26). Kom ons skryf sommer vandag in. Die registrasie by Jesus se leerskool is kosteloos. Ons het nie eintlik ‘n keuse nie, né. Soos Paulus nie geweet het wat in Jerusalem vir hom gewag het nie, weet ons ook nie wat in 2024 op ons wag nie. Wat ons wel weet, God se antwoord op ons gebede, is reddingstaal. Hy maak stukkende mense nuut. Dit kan dus nie slegter gaan as laas jaar nie. Ons kan opgewonde glo dat God verskriklik baie vir ons omgee.

 

“Niks is buite die bereik van gebed nie, behalwe dit wat buite die wil van God is” (Oswald Chambers).

 

Gebed: Here, leer my bid, my hart hunker na U en deur in gebed met U te praat, wil ek nader aan U groei. Heilige Gees, rig my gebede, bid saam met en deur my, sodat my gebede volgens die wil van die Vader en in die Naam van Jesus Christus sal wees. My lewe is in U hande, en dit stel my gerus. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page