top of page

Gedagte vir Vandag

Vrydag, 26 Januarie 2024

Koos Espach


VIII.  Paulus se reis na Jerusalem (Hand. 20:13-23:35) 

Hoofstuk 20 – Paulus in Masedonië en Griekeland

 

Paulus spreek die ouderlinge van Efese toe (1)

 

Put uit God se genadekas en deel dit ook uit

 

Hand. 20:16-21 – “Paulus het besluit om by Efese verby te vaar, sodat hy nie tyd in die provinsie Asië sou verloor nie, want hy was haastig om, as dit kon, op pinksterdag in Jerusalem te wees. 17 Van Milete af het Paulus ‘n boodskap na Efese toe gestuur om die ouderlinge van die gemeente te laat roep. 18 Toe hulle by hom kom, sê hy vir hulle: ‘Julle weet hoe ek die hele tyd, van die eerste dag af dat ek in die provinsie Asië gekom het, onder julle geleef het; 19 hoe ek die Here in alle nederigheid gedien het te midde van droefheid weens die vervolginge wat ek deur die komplotte van die Jode moes verduur. 20 Julle weet dat ek niks teruggehou het wat vir julle voordelig kon wees nie, toe ek by julle in die openbaar gepreek en julle in julle huise onderrig het. 21 Ek het sowel die Jode as die Grieke ernstig vermaan om hulle tot God te bekeer en in ons Here Jesus te glo.”

 

Paulus het by sy medereisigers in Assus aangesluit en hulle vaar verder per skip, verby enkele plekke, selfs Efese, want, soos Lukas skryf, Paulus wou nie tyd in Asië verloor nie. Hy was haastig om in Jerusalem te kom. Van Milete af, ongeveer 60 km suid van Efese, het Paulus ’n boodskap na die ouderlinge in Efese gestuur om hom in Milete te ontmoet. Met hulle aankoms daar het hy die geleentheid waargeneem om ‘n openhartige laaste woord tot hulle, as die verteenwoordigers van die gemeente in Efese, te rig.

 

Paulus maak sy hart in vier dele oop teenoor die ouderlinge. Eerstens gee hy ‘n terugblik op die verlede. Dit handel oor sy dienswerk in Asië, veral in Efese. Hulle is die getuies van sy onberispelike en liefdevolle optrede tydens sy hele bediening. Sy  optrede by hulle was gekenmerk deur sy nederigheid, trane en die Jode se vervolging van hom. Die trane wat gestort was, was nie oor sy eie swakheid of beproewinge nie. Die man van God het geween oor die hardheid van die harte van mense, veral sy volksgenote, maar ook mense wat ongevoelig met hulle sondes aanstap om oor die afgrond van die hel te tuimel.

 

Paulus verseker die ouderlinge dat hy niks teruggehou het nie. Met ‘n rein gewete kan hy getuig dat hy in nederigheid die volle evangelie van die genade van God verkondig het. Hy het ook aangedring, by Jode en Grieke, op bekering tot God en geloof in Jesus Christus. Vir Paulus was dit feitlik hartverskeurend dat ondanks ál die Jode se Godgegewe voorregte, hulle almal nie tot bekering en toewyding gekom het nie. Hulle het álles ontvang, hulle moes net in God se genade intree en vanuit Sy genade leef!

 

Dit is asof daar as’t ware ‘n kreet vanuit Paulus se hart opklink oor die ontrou van mense, selfs vandag nog. Maar hy het ook besef dat hy nie die sondes van hulle kan dra nie. Geen mens kan as middelaar in die plek van ‘n ander staan nie. Slegs Jesus Christus ons Here, kan die Middelaar wees! Dit is elke mens se eie verantwoordelikheid om tot God te bekeer en te glo in Jesus Christus. Niemand anders kan vir ons instaan daarvoor nie. Bekering beteken om jou lewenswyse te verander op grond van ’n algehele verandering van jou gedagtes en houding oor sonde. Dit beteken om in ‘n regte verhouding met God in te tree. Dit gebeur deur te glo in Jesus as die Here van ons lewe. Hy het uit liefde ons sonde op Hom geneem en ons vrygespreek. Hy het ons verhouding met God reggemaak en gesorg dat God ons in liefde as sy kinders aangeneem het omdat ons aan sy geliefde Seun Jesus verbind is in geloof. Hy het ons sondaars weer met God versoen.

  

Waar bring dit ons as gelowiges van 2024, ons wat vandag deel is van die verlossing deur God se genade? Is daar ‘n droefheid en hartseer oor ons kerke wat so leegloop, ons land en dorpe wat vol kerktorings is, maar wat Sondae feitlik leeg is? Ons volksgenote wat afdwaal, losbandig lewe, gesinsverbrokkeling, wêreldse wysheid aanhang, mense wat God se gebod en God se verbond nie meer nodig ag nie? Mense wat eerder met God ‘n verbond sluit, ‘n verbond wat hulle behoeftes pas? Slegte nuus. Dit werk nie so nie. God sluit ‘n verbond met mense, nie andersom nie!

 

Maar ... dit is die verstommende van die God wat ons aanbid. Hy verander mense se harte, nie deur geweld of om van ons te skei nie. Hy wil sy verhouding met ons vernuwe deur die oorredingskrag van Sy liefde. God is elke keer bereid, ten spyte van ons ontrou, om Sy verhouding met ons te hervat, daarom kan en moet ons uit dankbaarheid, soos absolute toegewyde Christene leef. God maak sondaars vry enkel en alleen omdat hulle glo, sê Paulus (Rom. 1:17). Hy red nie net goeie mense nie; Hy red slegte mense wat nie op eie stoom by die hemel kan uitkom nie. Hy is bereid om sy genadige hand uit te strek en my en jou, en elkeen wat bereid is om opgetel te word, in te help tot binne-in die hemel.

 

Wat moet ek en jy doen? Ons kan ons intimiteit met God en die sigbare tekens van God se genade in ons lewens, aan ons gesinne, familie, gemeenskap en volksgenote, aan álmal rondom ons, wys. Wanneer ons as Christen-gelowiges al ons voorregte uit God se genadekas nie as vanselfsprekend aanvaar nie, maar aan ander wys en toepas, sal hulle ook aangespoor word om hierdie wonderlike geleenthede van genade aangryp.

 

Jesus het nie met die mens geredeneer en gevra wat is ons bereid om te gee as Hy vir ons aan die kruis sterf nie. Hy het nie gegee om iets te ontvang nie, maar net onbaatsugtig Sy lewe, Sy alles uit liefde vir ons gegee. Sal ons dit ook kan doen? Dis wat die mense rondom ons nodig het, in ons huwelik, verhoudings, kollegas, vriende en kinders. Hulle smag na ons onbaatsugtige liefde. Ja, dis erg moeilik, maar kom ons probeer om ’n lewe te leef van gee, sonder om iets terug te verwag. Buitendien, Jesus het self gesê: “Om te gee, maak ‘n mens gelukkiger as om te ontvang” (Hand. 20:35). Die wêreld, óns wêreld, sal anders lyk.  

 

“Die bewys dat ons God liefhet, is nie hoeveel mense ons na Hom gelei het, of hoeveel ons vir Hom gewerk het, of hoe pragtig ons Sy lof besing het nie, maar doodeenvoudig hoeveel ons ons naaste gedien het”

(Gayle Roper).

 

Gebed: Dankie Vader, vir U onbaatsugtige liefde. Dankie dat ek aan die ontvangkant daarvan is. Help my nou om ook daarvan uit te leef aan die geliefdes om my asook teenoor my naaste. Amen.

 

 

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page