top of page

Gedagte vir Vandag

Dinsdag, 16 Januarie 2024

Koos Espach


VII.  Paulus se Derde Sendingreis (Hand. 18:23-20:38) 

Hoofstuk 19 – Paulus in Efese

Die oproer in Efese (7)

 

Afgode het ‘n vervaldatum

 

Hand. 19:37-40 – “Efesiërs,’ het die stadsklerk gesê, ‘julle het hierdie mans hierheen gebring alhoewel hulle nie die tempel berowe of ons godin belaster het nie. 38 Die hofsittings word gehou, en daar is regters. As Demetrius en sy vakmanne ‘n klag teen iemand het, laat hulle mekaar daar gaan aankla. 39 En as julle verder wil gaan, moet die saak op ‘n wettige volksvergadering behandel word, 40 want ons loop gevaar om van opstand aangekla te word oor die dinge wat vandag hier gebeur het. Daar is geen rede vir hierdie oploop nie, en ons sal dit nie kan verantwoord nie.’ Deur dit te sê, het hy die byeenkoms uitmekaar laat gaan.”

 

Nadat die stadsklerk daarin geslaag het om die skare tot bedaring te bring, vra hy hulle om nie oorhaastig te wees nie. Omdat hy die belangrikste openbare amptenaar in Efese was, sou die owerheid hom aanspreeklik hou vir die rumoerige volksvergadering en hulle kon ’n swaar straf op die stad lê. Hy het daarom sy bes gedoen om die volk tot swye te bring en hulle te wys op die gevaar wat die situasie inhou. Die Romeine het die regte van vrystede, soos Efese, gehandhaaf, maar baie streng opgetree teen onreëlmatighede. Die gevaar het bestaan dat die Efesiërs van opstand aangekla kon word want daar was geen rede vir hierdie oploop nie, en hulle sou dit nie kon verantwoord nie.

 

Demetrius en sy ambag se manne word egter na die ordentlike regsproses verwys as hulle iets teen iemand het. Daar word sake goed oorweeg, nie met ’n onnadenkende geskreeu in die amfiteater nie. Die stadsklerk sluit af met ’n baie ernstige waarskuwing. Hy vrees, en nie sonder rede nie, dat die Romeinse owerheid kon ingryp en Efese deel van sy vryheid sou verloor. Met die waarskuwing sluit hy die vergadering af en laat hulle uitmekaar gaan. ‘n Opgesweepte skare wat nie eintlik weet wat aangaan nie, is soos klei in die hande van desperate opstokers en kan groot skade berokken. In hierdie geval, het die Here ongoddelike magte gebruik om mekaar te vernietig, sodat die evangelie sy loop kan hê!

 

Wat gebeur hier? In hierdie stukkie geskiedenis onderstreep Lukas die Here se werk om die evangelie, deur Paulus in Efese uit te brei. Die Here gebruik ook hier ’n Romeinse stadsklerk om die kwaadsprekers en vyande van die Weg, Jesus Christus, uit die weg te ruim. Paulus was in Efese getuie van die oorwinning van die Weg. In die loop van eeue lyk die stad Efese soos ‘n kerkhof met omgevalle monumente. Waar die tempel van Artemis gestaan het, is nou ‘n moeras en hope klippe. Die heerlikheid van Efese, met Artemis en al, het vergaan. Niks hiervan sou lank duur nie, want sien, sulke afgodjies het ‘n vervaldatum! Hierteenoor die stille, maar magtige krag van: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe ...” (Joh. 14:6). 

 

In 2 Korintiërs 1:8-11 verwys Paulus na die bedreiging van sy lewe in Asië en hoe die Here hom uit die groot doodsgevaar gered het: 8b “Die swaar wat ons moes verduur, het ver bo ons kragte gegaan, sodat ons selfs die hoop om te bly lewe, laat vaar het. 9b Maar dit het gebeur, sodat ons nie op onsself sou vertrou nie, maar op God ... 10 Dit is Hy wat ons uit so ‘n groot doodsgevaar gered het en ons weer sal red.”

 

Ek dink al ons lesers sal met my saamstem. Telkens wanneer die lewe Paulus só hard gestamp het sodat hy op die grond beland het, was die Here by hom. Hy het menigmaal wonde opgedoen en elke keer was die Heilige Gees daar om sy wonde te verbind, en getrou aan Jesus se woorde in Handelinge 1:8, krag ontvang het. Net soos Paulus tree vir tree God se ontferming beleef het, kan ek en jy dit ook beleef. God het nog nie ‘n duit verander nie. Hy gee steeds vir brose mense om en vat telkens ons hand wanneer ons geval het, en help ons op. Hy verbind nog steeds ons wonde wanneer ons val en seerkry.

 

En ja, sommer net ‘n paar dae gelede het ons Kersfees gevier en ons bevind ons tans in die vroeë dae van 2024. Die maagdelike geboorte van Jesus Christus, die Seun van God, is deur die eeue ‘n omstrede onderwerp. Ons, dié seuns en dogters wat geen erg het aan teologiese strydpunte nie en glo dat Jesus die weg, en die waarheid en die lewe is, het heerlik saam gesing van die stille nag, die heilige nag toe ons Verlosser gebore is. Vir ons is daar ‘n Kind gebore, ‘n Seun gegee – die Troos van ons hele bestaan: Immanuel, God by ons! Ons wat ons nie steur aan die sogenaamde kundiges wat beweer dat Kersfees nie by ‘n diverse kultuur aanpas nie, dat Kersfees nie oor Jesus gaan nie maar oor satan. Ons weet dat Jesus se hande steeds oop is, uitnodigend. “Kom na My toe,” sê Hy, “en Ek sal vir jou elke dag Kersfees maak!”

 

“Die Here se troos maak die pad van die lewe begaanbaar, hoe steil dit ook mag wees” (Stephan Joubert).

 

Gebed: Here Jesus, Christus van die Christusfees, “Die Heiland is gebore en Stille Nag” se liedjies en lirieke is nog vars in ons geheue. Dankie dat dit hier op Kersfees is, hier waar die vrede van die Vredevors op my kom neerdaal het. Die ware vrede en liefde wat afgode nie kan gee nie. Laat U goedheid en guns, Kersfees in al die dae van my lewe maak. Amen.

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page