top of page

Gedagte vir Vandag

Woensdag, 10 Januarie 2024

Koos Espach


VII.  Paulus se Derde Sendingreis (Hand. 18:23-20:38) 

Hoofstuk 19 – Paulus in Efese

Die oproer in Efese (3)

 

‘n Nuwe mens

 

Hand. 19:27-29 – “Ons bedryf staan in gevaar om ‘n slegte naam te kry. En nie net dit nie. Die gevaar is ook dat die tempel van die groot godin Artemis sy betekenis sal verloor en dat sy van haar grootheid berowe sal word, hierdie godin wat in die hele provinsie Asië en oor die hele wêreld vereer word.’ 28 By die aanhoor hiervan het hulle woedend geword en geskreeu: ‘Groot is Artemis van die Efesiërs!’ 29 Die oproer het oor die hele stad uitgebrei. Soos een man het die mense na die amfiteater toe gestorm. Hulle het vir Gaius en Aristargos, twee Masedoniërs wat saam met Paulus gereis het, gegryp en saamgesleep.”

 

Die godin Artemis is as ‘n magtige moedergodin deur mense reg oor die antieke wêreld, en in die besonder in Efese, beskou en aanbid. Haar indrukwekkende tempel in Efese was een van die sewe wonders van die wêreld van daardie tyd. Sy lengte was 140m, breedte 70m met 127 suile wat 20m hoog uitgetoring het en ‘n imposante dak in plek gehou het. Elke jaar gedurende Mei, het pelgrims van oral gekom en ‘n ‘godsdienstige fees’ ter ere van Artemis gehou. Eintlik was die feesviering ‘n wilde rumoer in die nabyheid van die tempel – dag en nag het dronkenskap en ontug hoogty gevier. (Nogal interessant hoe die heidense pelgrims Artemis se ‘goddelikheid’ gevier het).

 

Dit is moontlik dat die oproer waarvan Lukas skryf, tydens een van hierdie feeste in 55 nC gebeur het. Dis die tyd en geleentheid wat satan teen die “Weg” wil gebruik. Agter Demetrius staan satan met ‘n grynslag. As die mense “hierdie ‘vent’ Paulus” begin glo dat handgemaakte gode nie gode is nie, is daar drie rampspoedige gevolge wat toeneem in belangrikheid: dit sal hulle ambag in ’n slegte lig stel, met die gevolglike verlies van werk en inkomste. Die wêreldberoemde tempel van Artemis sal sy roem verloor – dit beteken verlies aan besoekers en verkope van hulle beeldjies. Die toppunt van die ramp is dat die godin Artemis wat orals in Asië en die hele bewoonde wêreld vereer en aanbid word, van haar grootheid beroof sal word – met die gevolglike staking van al haar feestelike geleenthede waarvoor hulle só hard werk en só goed wins maak.

 

Demetrius bereik sy doel. As die godin van haar grootheid beroof sou word, sou die voortbestaan van Efese op die spel wees. Die oproer wat die silwersmede begin het, het die hele stad in beroering gebring. Hulle het woedend geskreeu: ‘Groot is Artemis van die Efesiërs!’ en soos een man na die amfiteater toe gestorm wat vyf en twintig duisend mense kon huisves. Hulle het Gaius en Aristargos, twee Masedoniërs wat saam met Paulus gereis het, gegryp en saamgesleep. Die skenders van godin Artemis se grootheid, moet nou verantwoording doen.

 

Oral waar Paulus die evangelie verkondig het, het hy veral die Jode, maar ook ander mense kwaad gemaak. Sy evangelie het ingedruis teen hulle jarelange seremoniële wette wat hulle van geslag tot geslag gekoester het. Paulus se splinternuwe denke oor God het hom met die tradisies van baie mense laat bots. Sy beginselvastheid het hom nie net in die moeilikheid met ongelowiges laat beland nie, maar selfs binne die kerk het dit van hom ‘n omstrede persoon gemaak.

 

Net die blote gedagte dat die kerk vandag nog bestáán, is ‘n groot wonder en het niks met die mens se vermoëns te make nie. Vanaf die vroegste tye het die mens probeer om God se werk in die wiele te ry, mense wat hulle eie koppe volg en hulle eie weë skep. Die Kerk sélf, was baiekeer aan die voorpunt van hierdie verkeerde weë (Christene wat in die naam van God oorlog gevoer het gedurende die Kruistogte; die Rooms Katolieke Kerk met sy leer van die aflaat). Maar helaas, die Kerk is nie in die hande van mense gelaat nie. Net wanneer die mens dink dat hy al die kennis het om op sy eie aan te gaan en sélf te besluit wat die beste vir God se Kerk is, stuur God mense met besonderse insig wat kan onderskei tussen reg en verkeerd.

 

So het God vir Paulus gebruik om die kerk terug op koers te kry, ook hier in Efese. God maak sondaars vry, sê Paulus. Hy red nie net goeie mense nie, maar ook slegte mense wat nie op eie stoom by die hemel kan uitkom nie. God steek Sy genadige hand uit en tel elke sondaar op wat glo in Jesus Christus, tot binne-in die hemel. Dankie tog, ons Verlosser is totaal en volkome ánders as die godin Artemis én haar imposante tempel.

 

My en jou Verlosser het op Golgota, die plek van verskrikking, met uitgestrekte arms die bordjies vir altyd verhang. Hy is deur God verhoog om ons te red. Ons gelowiges is nuut gemaak: “Iemand wat aan Christus behoort, is ‘n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom. Dit alles is die werk van God” (2 Kor. 5:17-18). Ja, ons sukkel maar om nuut te wil word. Ons wil soms só graag nog ‘n bietjie aan ons afgodjies vasklou. Maar Paulus sê ons is nuwe mense. Ons streef nie nog daarna nie, ons ís dit. “Dit is alles die werk van God!” Hy het my en jou gemaak wat ons nooit self kon wees of word nie. En die beste nuus is: dit is permanent. Dankie Here!

 

“Christus het Sy eie hart gegee: gebroke, verwond, bloeiend; die offerande van Sy liefde, en dit na ons toe gebring as ‘n geskenk. Uit Sy eie lyding, vernedering, smart en worsteling het Hy ons verhef tot ewigdurende oorvloed en voordeel” (Henry Ward Beecher).

 

Gebed: Dankie Jesus dat die evangelie vir geen geld ter wêreld gekoop kan word nie. Dankie dat ek dit kan leef en glo. O Here, ek is swak en nietig en verkoop aan wêreldse waardes, maar dankie, U het my vrygekoop. Dankie Here, ek is van begin tot einde U handewerk. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page