top of page

Gedagte vir Vandag

Woensdag, 22 November 2023

Koos Espach


VII. Paulus se Derde Sendingreis

Hoofstuk 19 – Paulus in Efese (6)

Paulus doop volgelinge van Johannes die Doper (6)


Lof aan God vir Sy genade


Hand. 19:8-9a – “Paulus het drie maande lank met vrymoedigheid in die sinagoge geredeneer oor die koninkryk van God en die mense daarvan probeer oortuig. 9 Maar party was koppig en wou hulle nie laat oortuig nie. Hulle het ook in die openbaar die leer van die Here belaglik probeer maak.”


Volgens sy gewoonte begin Paulus eers elke Sabbat om met die Jode in hulle sinagoge te redeneer. Efese se Jode ken hom. Tydens sy vorige kort besoek aan Efese, het hulle hom selfs gevra om langer te bly (18:19-20). Die sinagoge se deure staan vir hom oop. Hy het pas die wonder van Pinkster afgehandel. Twaalf manne van Efese is reeds besig om, deur die Heilige Gees wat op hulle gekom het, met ‘n vurige geesdrif, “God se boodskap te verkondig.” Paulus redeneer met sy landgenote oor die koninkryk van God. Die sentrale gedagte is Jesus Christus, die Verlosser van die wêreld.


Hy het dit drie maande lank gedoen, ’n ongewone lang tyd vir Paulus, wat toon dat Efese, soos Korinte en Rome later, vir Paulus ’n belangrike sentrum was. Hy redeneer met die Jode wat die Ou Testament nog steeds anders verklaar as hy, ná sy bekering. Hy het probeer om hulle te oortuig dat die koninkryk van God met Jesus gekom het. Jesus is die Koning van God se koninkryk, wie se koms reeds in die Ou Testament voorspel is (Jes. 9:5-6; Dan. 7:14; Miga 4:7; Ps. 118:26).


Maar toe begin dit: verharding van die hart waarvan die gevolg ongeloof is. Paulus se woorde, samesprekings, redenering en prediking het geen vat nie, maak geen indruk meer aan ‘n klein hardkoppige minderheid Jode wat steeds weier om te glo. Hulle het hulle harte toegesluit vir die evangelie. Hulle verwerp die Weg, Waarheid en die Lewe en dus ook om deel te wees van God se uitverkiesing. Paulus verwys heel moontlik hierna in Romeine 9:18: “Dit is dus inderdaad so dat God Hom ontferm oor wie Hy wil, en dat Hy verhard wie Hy wil.” (Soos met die Farao in Moses se tyd). Paulus kom tot die gevolgtrekking dat die beslissing van uitverkiesing volkome van God afhang, en nie van wat die mens doen nie. God se guns word nie deur enige van ons hoedanighede bepaal nie. Dit is werklik vrye guns, barmhartigheid en ontferming. Álles, God se genade wat nie verdien kan word nie, maar onverdiend uit liefde geskenk word.


Hierdie gedagte van God se soewereine bepaling van die uitverkiesing en verharding van mense se harte, klink verwarrend. Laat dit dan nie by onsself ‘n keuse om vír God of téén God te kies nie? Met respek, dit klink amper asof God reeds vooraf besluit het wie vir die hemel, en wie vir die hel bestem is. Indien dit so was, sou dit beslis onuithoudbaar vir ons gelowiges gewees het om te weet wie uitverkies of verwerp is – vir watter een van die twee bestemmings ek en jy bedoel is? Selfs ‘n toegewyde lewe sou niks werd gewees het nie want alles rondom my en jou uiteinde, is reeds bepaal. Selfs al die preke en oproepe tot bekering is verniet, want wat help dit as daar reeds vooraf bepaal is waarheen elkeen op pad is.


Wanneer ons egter só redeneer, probeer ons om God in ons skematjies in te perk. Ons hoef nie bang te wees dat God onregverdig is nie, inteendeel, “Hy is getrou en regverdig” (1 Joh. 1:9b). Ons kan God loof omdat Hy ons geseën het met Christus se verlossing en ons met die Heilige Gees verbind: “Hy het ons in Christus geseën met al die seëninge van die Gees wat daar in die hemel is” (Ef. 1:3b). Ons wat in Christus is, behoort aan Hom want ons het deel aan Sy kruisiging en opstanding. Elkeen wat ‘n keuse gemaak het om in ‘n innige verhouding met Christus te lewe, kan met sekerheid weet dat hy of sy nie net “in Christus” is nie, maar dat Christus deur sy Gees ook in hom of haar is. Ons is ook nie by magte om hierdie teenstrydigheid van God se uitverkiesing en die mens se verantwoordelikheid, te probeer verklaar nie. Niemand is by magte om eers te probeer om ons Almagtige Vader met hulle klein verstandjies uit te pluis nie!


Paulus gee in Efesiërs 1:4-14 ‘n lang lys van al die hemelse seëninge wat die Heilige Gees in ons waar gemaak het en die wonderlike hiervan, die uitverkiesing is heel bo-aan die lys! Die uitverkiesing is die grondslag van ons geloofsekerheid oor ons verlossing en ewige lewe – God het ons nie uitverkies omdat nie, maar ten spyte van wie ons is, want God is groter as enige sonde!


Die oorweldigende versekering is dus dat ons nie in knaende onsekerheid hoef te leef nie, ons kan saam met Paulus jubel en “lof aan God vir sy genade” sing (perikoop opskrif van Efesiërs 1:3-14). Ons gelowiges in Christus se uitverkiesing is nie ‘n vraag wat ons moet probeer beantwoord of verklaar nie, dit is ‘n dankbare uitroep waarin ons in afhanklikheid bevestig: “Waarlik, aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! Hy het ons in Christus geseën met al die seëninge van die Gees wat daar in die hemel is” (Ef. 1:3). Hy is God genoeg!


“Om egte ruimte te skep vir God en sy soewereiniteit oor jou lewe is om jou handtekening op ‘n skoon vel papier te plaas en dit vir God te gee met die woorde: Here, wat U ook al daarop skryf, my handtekening bly” (Prof. Andrie du Toit).


Gebed: Here, ek kan maar net verwonderd voor U kom kniel en in diepe dankbaarheid prewel: Ek verdien dit glad nie, maar dankie dat U my uitverkies het in Christus Jesus. U genade is ontsaglik groot. “Vóórdat ek kon kies, kon vra, het U my vloek gedra. Ek kon vind U’t my gekry nog vóór ek nog my skuld bely” (Gesang 10). Waarlik, U is God genoeg! Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page