Gedagte vir Vandag
Vrydag, 17 November 2023
Koos Espach
VII. Paulus se Derde Sendingreis (7)
Hoofstuk 19 – Paulus in Efese (3)
Paulus doop volgelinge van Johannes die Doper (3)
God gee die doop, ons moet dit in geloof aanneem
Hand. 19:5 – “Toe die twaalf gelowiges dit hoor, het hulle hulle in die Naam van die Here Jesus laat doop.”
Die afgelope paar dae het ons, sedert Handelinge 18 vanaf vers 24, gelees hoe Apollos in Efese “met groot geesdrif gepraat en aan ander noukeurig alles oor Jesus geleer het; maar die doop waarvan hy geweet het, was net dié van Johannes.” Priscilla en Akwila het hom later na hulle huis geneem “en vir hom die leer van God nog duideliker gemaak.” Dit was vir my opvallend dat hy nie weer gedoop word toe hy dieper ingelei is in die leer van die Here Jesus nie. Miskien was dit dat die doop van Johannes as genoegsaam geag is, en die werk van God in sy lewe reeds duidelik sigbaar was. Daar was dus ‘n onderskeid tussen hom en die gelowiges in Efese. Hulle is gedoop spesifiek omdat hulle nie van die werk van die Heilige Gees in hulle lewe kon getuig nie.
Dit het my tot die gevolgtrekking gebring, dat die geloof in Jesus en ‘n lewe in die Heilige Gees belangrik is, en bo alles beklemtoon moet word. Die doop is wel belangrik, maar die doop is nie noodsaaklik om die Heilige Gees te ontvang of om in Hom te lewe nie. Daarom hoef ons nie uit te stel tot met ‘n “groot doop” om die Heilige Gees te ontvang nie. Ons ontvang die Heilige Gees met geloof in Jesus Christus, wanneer dit ook al gebeur. Dit het my genoodsaak om in die Briewe van Paulus te gaan delf om te probeer uitvind hoe die betekenis van die doop ontwikkel het van die een Brief na ‘n volgende.
Dit bring my terug na die verskille oor die standpunte van Kerkgroepe met die “groot doop” en voorstanders van die “kinderdoop.” Alle Christelike groepe doop groot. As iemand tot bekering kom, en nog nie gedoop is nie, doop beide die “grootdopers” en die “kinderdopers” sulke gelowiges, ongeag hulle ouderdom. Die vraag is: Moet kinders van gelowiges klein gedoop word? Of moet ’n mens wag met kinders van gelowiges totdat hulle deur die kategese sisteem self belydenis van geloof kan aflê en hulle dan doop? Hopelik hoef hulle nie tot dan te wag om die Heilige Gees te ontvang nie! Onthou: “Ons het die Heilige Gees ontvang deurdat ons die evangelie geglo het” (Gal. 3:2). Nie omdat ons gedoop is nie.
Die verskil is net tussen wat met die kinders van gelowiges moet gebeur. Die doop as ‘n mens klein is, en natuurlik deel van ‘n gelowige huisgesin, is ‘n hand van God wat na ons kinders uitgesteek word (in die naam van die Vader, Seun en Heilige Gees) om hulle in te trek in sy genadeverbond. As ons as ouers aan die Here behoort, is ons kinders ook deel van Sy eiendom (1 Kor. 7:14). Dit beklemtoon dat dit God is wat in die doop aan die werk is, en nie ons as ouers wat met ons gelowige reaksie in die sentrum kom staan nie. Dit maak dat die doop ’n genade karakter behou, en nie misverstaan word as ’n beloning vir ons geloof nie. God handel in die doop, nie ek en jy nie. Kinders moet dus ook die teken van hierdie genade ontvang, maak nie saak hoe oud of hoe groot nie.
’n Mens hoef werklik waar nie te wag vir ’n sekere gebeurtenis in die toekoms (na kategese) nie. Ek persoonlik dink die uitstel van die doop aan kinders, ontneem hulle van die geweldige versekering dat God hulle óók uitkies en aan hulle alles wil gee wat Hy bedoel het vir ons volwassenes. Dit kan ’n diep onsekerheid by kinders skep of God dit ernstig bedoel met hulle. En die belangrikste van alles dink ek: Kinders het ook ‘n persoonlike verhouding met God – vergelyk Lukas 9:46-48 en vind uit wie is die belangrikste!
Die belangrike vraag vir ons volwassenes is doodgewoon: Glo jy in die Here Jesus of nie? Apollos is nie weer gedoop, al is hy met ’n “voorlopige” doop, die doop van Johannes gedoop (18:24-26). Hoekom nie? Omdat dit duidelik was dat hy reeds in Jesus geglo het, hy besig was om Hom te dien, en net afronding nodig gehad het in terme van sy verstaan van die evangelie. Gelowiges hoef dus nie weer oorgedoop te word, of te wag tot hulle groot is om gedoop te word nie.
Besprenkeling of onderdompeling? Maak dit saak? Wat sê die Bybel? Toe Jesus die woord gebruik het met sy sendingbevel aan die dissipels in Markus 16:16: “Wie tot geloof gekom het en gedoop (babtistheis) is, sal gered word; wie nie glo nie sal veroordeel word”, was daar geen sprake oor die metode waarop die water aangewend moes word nie – onderdompeling of besprenkeling. Inteendeel, dit was oor die effek as ‘n simboliese reiniging. Ek het ook verskeie bronne, veral Paulus se Briewe geraadpleeg oor die doop. Die langste en volledigste bespreking van die betekenis van die doop kon ek vind in Kolossense 2:11 tot die einde van hoofstuk 3.
Die gevolgtrekking was dat ek en jy as gelowiges saam met Christus begrawe is en saam met Hom opgewek is deur die krag van God: “Dit het by die doop gebeur deurdat (ons) toe saam met Hom begrawe is. Deur (ons) verbondenheid met Hom is (ons) ook saam met Hom opgewek, omdat (ons) geglo het in die krag van God wat Hom uit die dood opgewek het” (Kol. 2:12). Kon ons glo toe ons as babas gedoop is? Nee, natuurlik nie, maar ons ouers wat ons laat doop het, het geglo! Dus, die Bybel gee geen voorskrif vir onderdompeling of besprenkeling nie. Die keuse is joune. Wat vir my van belang is: Saam met die gemeente in Kolosse deel ons gelowiges ook in die wonder dat God ons sondeskuld afgeskryf het omdat ons in Jesus glo. Hy is uit die donker doderyk uitgelig sodat ons in die lig kan lewe.
“Daar is net een manier om jou kinders te leer om in Christus se voetspore te loop en dit is om dit self te doen” (Abraham Lincoln).
Gebed: Here, skenk my die genade om my kinders groot te maak in U weë, die krag en die wysheid om hulle te vertrou in hulle vermoëns en met liefde hulle foute ook te aanvaar. Dankie vir die begrip om te besef, ek kan my kinders met liefde groot maak, as ek eers op my knieë voor U was en terwyl ek kinders het, my gebede, nooit eindig nie. Amen.
Comments