Gedagte vir Vandag
Donderdag, 16 November 2023
Koos Espach
VII. Paulus se Derde Sendingreis (6)
Hoofstuk 19 – Paulus in Efese (2)
Paulus doop volgelinge van Johannes die Doper (2)
Deur die doop word ons ingelyf in die huisgesin van God
Hand. 19:3-5 – “Watter soort doop het julle dan ontvang?’ vra hy toe. ‘Die doop van Johannes,’ antwoord hulle. 4 Daarop sê Paulus: ‘Johannes het die mense gedoop as hulle hulle bekeer het. Maar hy het vir die volk gesê dat hulle in die Een moet glo wat ná hom kom, dit is in Jesus.’ 5 Toe hulle dit hoor, het hulle hulle in die Naam van die Here Jesus laat doop.”
Paulus is besig met sy derde sendingreis en keer terug na Efese soos hy beloof het (18:21). Met sy aankoms in Efese tref hy daar twaalf gelowiges aan wat, net soos Apollos, nog nie geweet het van die Christelike doop of die koms van die Heilige Gees nie. Waarom hy die vraag gestel het, is nie duidelik nie, en dat hulle as gelowiges gedoop is maar nie die Heilige Gees ontvang het nie, was vir hom nog meer onverstaanbaar. Daarom vra hy hulle uit oor wat hulle doop dan vir hulle beteken as hulle nie eers weet van die Heilige Gees se koms nie. Die doop het vir hulle beteken wat Johannes die Doper daarvan gesê het, naamlik dat hulle moet wegdraai van sonde en vergifnis ontvang. Hulle is gedoop met Johannes die Doper se bekeringsdoop om hulle gereed te maak vir die koms van Jesus, die Seun van God wat hulle sonde sal vergewe en met die Heilige Gees sal doop (Joh. 1:33-34).
‘n Baptisde-predikant se vrou vertel dat hulle seuntjie eendag kerk-kerk gespeel het en besluit het om hulle kat deur wyse van onderdompeling te doop. Die kat het natuurlik nie hierdie handeling waardeer nie en in die proses het die seuntjie ‘n hele paar krappe en bytmerke opgedoen. Die seuntjie het gou besef dat die kat nie gaan toelaat dat hy onder die water ingedruk word nie. Hy het die kat eenkant toe gegooi en gesê: “Goed kat, wees jy dan Gereformeerd!”
Ek is seker elkeen van julle wat hier lees het al met soortgelyke situasies te doen gehad waar mense verdeeld is oor ‘groot doop, kinderdoop, onderdompeling of besprinkeling’ en sommer gou bygevoeg het met: “Julle doop verkeerd!” Die idee van vandag se bespreking gaan egter nie oor die ‘regte of verkeerde’ manier van doop nie. Wat ons wel kan noem is dat dit eintlik jammer is dat die een ding wat bedoel was om ons Christene saam te snoer – “Daar is net één Here, één geloof, één doop ..., (Ef. 4:5) – seker die oorsaak van die meeste verdeeldheid tussen ons gelowiges is.
Dit is miskien moontlik dat mense met hierdie soort redenasie, nie opgelet het dat die Bybel na twee verskillende soorte doop verwys nie. Johannes die Doper, Jesus se neef, het die pad vir Christus voorberei deur bekering te preek. As simbool van hulle bekering wat gepaardgegaan het met sondebelydenis, het die Jode hulle toe laat doop. Die Christelike doop is eers in Matteus 28:19, ná Jesus se opstanding uit die dood ingestel en was in die Naam van die Drie-enige God gedoen – Vader, Seun en Heilige Gees. Dit het gepaard gegaan met geloof in die Here Jesus.
Daarom is dit dan nodig om weg te beweeg van ons verskille, soos die ‘Gereformeerde kat of die Baptiste seuntjie,’ en ophou om mekaar te veroordeel omdat ons die vorm en tyd van die doop verskillend verstaan. Dit is immers tog ook nie belangrik nie. Om gedoop te word, is nie hoe ons gered word nie, dit is hoe ons onderskei word. Die hele Bybel dra die boodskap oor dat ons deur geloof gered word en nie deur werke nie (Ef. 2:8-9). Die eintlike en belangrike aktiwiteit van die dopeling kom juis ná die doop. Dan begin die nuwe lewe. Ons behoort dan nie meer aan onsself nie, ons is met Christus se bloed gekoop. Die doop verseker ons dat ons nou aan God behoort. Dit beteken dat Hy ons Vader is wat vir ons liefhet en vir ons sorg; Jesus Christus ons Verlosser is en die Heilige Gees in ons woon, van ons nuwe mense maak en ons in die waarheid van God se woord, die Bybel, lei.
In die doop is dit God wat handel, ek en jy en die dopeling, is eintlik passief daarin – Adrio König vertel ons: “Ons kan nie onsself in Jesus Christus inlyf en onsself deel gee aan sy kruis, dood en opstanding nie, net God kan; ons kan nie self ons sondes vergeef nie, net God kan; ons kan nie onsself inlyf in die verbond (die sakrament van die doop), nie. Net God kan.” God leef met my en jou in ’n verbondsverhouding. Hy het die hele wêreld versoen aan die kruis wat die offer was vir die hele wêreld se sonde. Wat God dus gee deur die doop, moet ek en jy in geloof aanneem. Dit is ons troos. Al wat ons as gelowiges kan doen is maar net om te sug: “Hemel Vader, hoe buitengewoon goed is U!”
“Agter die doop se ware betekenis is dit tog die bloed van Jesus Christus wat sonde afwas. Soos water die mens se vel van vuilheid reinig, reinig die bloed van Jesus die siel van die vlek van die sonde”
(Hank Hanegraaff).
Gebed: Here, vergewe ons dat ons mekaar veroordeel oor die verskille van die doop handeling, in plaas daarvan om mekaar te aanvaar op grond van ons gedeelde geloof in Jesus. Here, maak ons gelowiges broers en susters van mekaar “want deur geloof in Christus is ons almal kinders van God, deur die doop het ons een met Christus geword” (Gal. 3:26-27). Maak ons asseblief waarlik één. Amen.
Comentarios