top of page

Gedagte vir Vandag

Dinsdag, 7 November 2023

Koos Espach


VI. Paulus se Tweede Sendingreis (61)

Hoofstuk 18 – Paulus in Korinte


Paulus keer terug na Antiogië toe (5)


God se wil hou ons op die regte pad


Hand. 18:21b – “As God wil, kom ek na julle toe terug.”


Tydens die Bybelstudie oor Paulus, lees ek verskeie kere dat hy eintlik as die ‘indringer-apostel’ van God beskou was. Hy was nie ‘n dissipel van Jesus nie, maar is deur Jesus gekies om sy Naam uit te dra onder die heidennasies en hulle konings en onder Israel (Hand. 9:15). Paulus was vasberade dat niks hom daarvan sou weerhou om presies te doen wat die Here van hom verwag het nie: “Dit is my vurige verlange, en daarna sien ek uit, dat ek niks sal doen waaroor ek my sal hoef te skaam nie. Ek wil ook nou, soos nog altyd, met alle vrymoedigheid deur my hele wese Christus verheerlik in lewe en in sterwe, want om te lewe, is vir my Christus, en om te sterwe, is vir my wins” (Fil. 1:20-21).


Wat het Paulus so onkeerbaar gemaak in sy ywer om “God se wil” te doen? Wat maak hom anders as ons? Niks! Hy was ‘n mens net soos ek en jy. Wat ons wel kan aflei uit sy dienswerk, is dat elke keer wanneer hy homself in ‘n krisissituasie bevind het, op enige terrein, het hy sy wil onvoorwaardelik oorgegee aan die Here se wil. Dit blyk vir my dat Paulus nie toegelaat het dat sy krisismoment verander het in ‘n kruispad nie. Hy het die Weg en Waarheid en Lewe (Joh. 14:6), aangeroep en elke ander slegte gedagtes uitgesluit – hy het sy aandag onverdeeld gewy aan die Here, soos in ons teks – “as God wil ...”


Dit is immers hoe Jesus ons geleer bid het met die derde bede van die Onse Vader gebed: “… Laat U wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel” (Matt. 6:10b). Hierdie bede omtrent “God se wil”, onderstreep en versterk die tweede bede – waar God se Naam geheilig word, daar word Hy as Koning erken en daar word Sy wil eerbiedig. Dit vra dus dat God sélf sal gee dat Hy as God erken en gehoorsaam word. Dit is volkome teenstrydig met óns wat nie graag van ons eie wil, kan afsien nie. Die sondige wil van ons as mens, bots dus met God se onveranderlike en volmaakte wil. Wanneer ons dan bid dat U wil geskied, moet ons onsself verloën. Dit stel ons voor ‘n keuse: óf te buig voor God en Sý wil te gehoorsaam, óf in verset teen God ons eie wil te doen. Die korrekte keuse is eintlik voor die hand liggend: “Loof die Here, alle hemelwesens wat Hom dien en sy wil doen” (Ps. 103:21).


Jesus leer ons ook daar in Getsemane die nag voor Sy inhegtenisneming, met Sy vurige gebed dat “God se wil” pynlike gevolge kan hê, pyn en lyding wat ‘n kruisweg kan meebring! ‘n Weg waar ek en jy ons kruis moet opneem en sélf dra. “Jesus se Getsemane gebed was ‘n gebed van self-oorgawe. Eers ná Getsemane kon Jesus Sy kruisweg voltooi. Eers ná ons Getsemane kan ons lewe werklik ‘n offer in diens van ons Vader word” (Ds. Johan Smit). Ons probleem is dat ons weet wat God se wil is, maar ons laat na om dit te doen. God se wil is te uitdagend omdat dit een van die moeilikste dinge vir ons as sondaarmense is om ons aan die wil van God te onderwerp.


Dit is ook ‘n gebed wat ons nie altyd so maklik bid nie, veral wanneer ons iets bitter graag wil hê. Ons het al klaar ons hart daarop gesit en nou moet die Here nog net Sy goedkeuring gee, Sy “handtekening” byvoeg om mý en jou wil te bekragtig. Op dié manier bid ons lankal nie meer “laat U wil geskied” nie, nee, dit het verander na “laat mý wil geskied – ék voorsien die plan Here, voer U dit net asseblief vir my uit.” En wanneer die gebed nie realiseer nie, aanvaar baie mense God luister nie of hulle bid teen die plafon vas.


Geen wonder Martin Luther het gesê hierdie bede is ‘n gevreesde bede nie. Jesus leer ons bid teen ons eie wil. Ons vra daarmee niks minder nie as die dood van ons eie wil en ons gee ons geheel en al oor aan God se wil. In die hemel is daar geen teenspraak, daar is volkome harmonie tussen ons Vader en Sy hemelse dienaars. Die hemelwesens voer God se opdragte met ywer en sonder dwarstrekkery uit, en gehoorsaam Sy wil. Hier op aarde is dit anders. Waar ons woon is dit nie hemel op aarde nie, maar soms “hel op aarde,” soos sommiges dit noem. Hier moet ons versigtig wees om vir ons Vader te vra “Laat U wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel.”


Sódoende word die hemel kriterium vir die aarde. God daag ons dalk net uit om teen ons wil op te tree. So moet almal wat deur God geskep is Sy wil uitvoer, in die hemel en op aarde. “Laat u wil geskied” is dus ‘n gebed wat ons vra dat ons Vader ons, soos vir die engele, gehoorsaam maak aan Sy wil. Ons moet eerder in gedagte hou dat ons nie net altyd alles wat plesierig is moet afsmeek nie, maar aan God se wil onderwerp. Hy weet in elk geval presies wat ons nodig het: “Om U wil te doen, my God, is my een begeerte” (Ps. 40:9).


Hoe kom ons sover dat ons eie wil vervang word met die wil van God? Om Hom te volg in gehoorsaamheid aan die wil van ons Vader, deur die genade van God alleen. Om by God te pleit dat ek en jy, ons eie wil prysgee om aan Sy wil wat goed is, sonder enige teëpratery, gehoorsaam te wees. God se wil het ‘n naam: Jesus Christus. Die vraag na God se wil gaan eintlik oor die vraag of ons lewe in lyn is met God se wil en die wêreld rondom ons? In Jesus Christus en met die hulp van die Heilige Gees, word dit vir ons dan moontlik om op hierdie verskeurde aarde, die wil van God te doen.


“In laaste instansie is daar net twee soorte mense: dié wat vir God sê: “Laat U wil geskied”, en dié wat dit nie wil doen nie en vir wie God dan uiteindelik sê: “Laat jou wil geskied” (C.S. Lewis).


Gebed: Ons Vader in die hemel, Ek is so geneig om verby Jesus se uitgestrekte arms te wil beur omdat U wíl, teen my mensgemaakte plannetjies indruis en my lewe “omvergooi.” Dankie Heer dat U aanhou om my te keer, dat U aanhoudend my oortuig dat U wil vir my, die beste is. Laat my tog nie verdwaal deur my eie wil nie. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page