top of page

Gedagte vir Vandag

Vrydag, 27 Oktober 2023

Koos Espach


Paulus se Tweede Sendingreis (54)

(Hand. 15:36-18:23)


Paulus in Korinte (4)

18:1-17


Onder nuwe Bestuur


Hand. 18:7-8 – “Toe het Paulus die sinagoge verlaat en na die huis toe gegaan van ‘n godvresende man met die naam Titius Justus. Sy huis was net langs die sinagoge. 8 Krispus, die hoof van die sinagoge, en sy hele huisgesin het tot geloof in die Here gekom. Ook baie ander mense in Korinte wat die boodskap gehoor het, het gelowig geword en is gedoop.”


Met die groeiende verset van die ongelowige Jode in die sinagoge in Korinte, het skeiding noodsaaklik geword. Paulus wou nie hê dat daar een Jood in Korinte moet wees wat kan sê hy het nie van die evangelie van Jesus Christus geweet nie. Niemand, so ver dit in sy mag was, moes verlore gaan nie. Selfs die Jode wat oral teenkanting getoon het, was vir hom belangrik. Hulle kan nie op die oordeelsdag sê hulle het nie geweet nie. Daarom het hy voortgegaan om die goeie nuus met Jode en nie-Jode te deel.

Paulus het die Joodse gemeenskap in die sinagoge verlaat. Hy vlug nie, maar kies ‘n strategiese posisie. Hy kies die “huis van ‘n godvresende man, Titius Justus”, ironies genoeg net langs die sinagoge, om sy bediening voort te sit met dié wat na hom wil luister en nie godslasterlike dinge spreek nie. Die man wat tot nou toe die sinagogedienste bygewoon het se huis word die saamkomplek van die Christusgelowiges, ’n uitdaging en ’n uitnodiging aan die godvresendes wat elke Sabbat nog na die sinagoge toe gekom het. Die Jode in die sinagoge het die vervulling van die wet, naamlik Jesus Christus, verwerp, maar in die huis van Titius Justus word sy Naam bely. Die eenvoudige huis van Justus, word ‘n sigbare getuienis van Christene naas die offisiële gebou van die Jodedom, waar seremoniële vormgodsdiens sonder inhoud, aangebied word.


Dit is nogal ‘n teëstelling wat steeds vandag opgemerk word. Ek het gewonder hoeveel waarheid is in die pragtige argitektoniese katedrale in Europa en elders waar ons al getoer het, verkondig? Sommige van hierdie geboue word tans, veral in Engeland en Skotland, aangewend as skaatsbane, teaters en restourante. Gedurende die kerkhervorming is daar van eenvoudige geboue en huise, soos in vandag se teks, gebruik gemaak om die waarheid van die evangelie te verkondig. En in nog ‘n stukkie ironie kom die hoof van die sinagoge, Krispus, en sy hele huisgesin tot bekering en sluit by die groeiende Christelike gemeenskap in ‘n gewone, eenvoudige huis, aan.


God se roeping is onweerstaanbaar. Ek meen, posisie, eer, tradisie, tel vir Krispus, wat die hoof van die sinagoge was, d.w.s. die man wat moes sorg vir die handhawing van die orde en die eredienste gereël het, niks meer nie. Hy kom met sy hele huisgesin tot geloof in die Here en word selfs gedoop. Alles word verlaat ter wille van Jesus Christus, die Naam van alle name. Hy het alles prysgegee, om saam met sy huisgesin, Christus as wins te verkry in ‘n eenvoudige gebou!

Omdat Paulus nie langer in die sinagoge gepreek het nie, het alle Korintiërs, sonder uitsondering, toegang tot hom gehad, met die gevolg dat die aantal bekeerdes toegeneem het. Dit blyk uit Paulus se briewe aan die Korintiërs dat baie van hulle vooraanstaande persone was, maar baie ook op wie se gelaat nog die spore van ‘n ontugtige en bandelose lewe gelees kon word, mense wat ag geslaan het op Paulus se vermanings – “Moenie julleself mislei nie: geen onsedelikes of afgodsdienaars of egbrekers of mense wat homoseksualiteit beoefen 10 of diewe of geldgieriges of dronkaards of kwaadpraters of bedrieërs sal deel kry aan die koninkryk van God nie. 11 En so was party van julle juis ook. Maar julle het julle sonde laat afwas, julle is geheilig, julle is vrygespreek in die Naam van die Here Jesus Christus en deur die Gees van God” (1 Kor. 6:9-11).


Justus se huis word die ligpunt in die donker onbeteuelde brassery en sedeloosheid van Korinte. Paulus kon ‘n kennisgewing daar aangebring het: “Onder nuwe Bestuur.” Wel, langs elke Christen staan daar eintlik ‘n bordjie met die woorde: “Onder nuwe Bestuur.” Ek en jy kan dit ook langs ons eie lewe plaas. God het mos eienaarskap van ons lewe oorgeneem toe ons Christene geword het. Dank die Here, ons is nou onder hemelse bestuur. “Ons het ons sonde laat afwas, ons is geheilig, ons is vrygespreek in die Naam van die Here Jesus Christus en deur die Gees van God.”


Jesus het ons losgekoop uit die greep van die sonde en ten volle betaal met Sy bloed. Ons behoort nou volledig aan God. Ek en jy kan nie nou meer maak soos wat ons wil, sê wat ons wil, dink wat ons wil of doen wat ons wil nie. God besluit nou hoe ons moet lewe. Ons moet dus by Hom toestemming kry vir ons doen en late. Gelukkig is God nie ‘n slawedrywer nie. Nee, Hy is ons Vader en Hy is ‘n goeie Eienaar. Hy het selfs Sy Gees vir ons gegee om by my en jou te bly. Die Naam bo alle name is vir altyd deel van ons lewensbestaan: Immanuel, God by ons! Is dit nie goeie rede om voluit vir God te leef nie?


“In die tye wat ons nou belewe, kan Christenwees uit net twee dinge bestaan: baie bid en goed doen aan ander. Alles wat ons dink, praat of beplan moet gebore word uit God se toestemming en ons toewyding” (Dietrich Bonhoeffer).


Gebed: Dankie ons Vader, dat ek onder nuwe bestuur is. Wil U dan nie vir eens en altyd my doen en late gevange neem, my tong in toom hou, my voete van die verkeerde weë weglei, kortom, my heeltemal hokslaan nie. Ek wil U met my lewe dien. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page