top of page

Gedagte vir Vandag

Woensdag, 25 Oktober 2023

Koos Espach


Paulus se Tweede Sendingreis (52)

Paulus in Korinte (2)


Bevorder tot diens


Hand. 18:2-3 – “Daar het hy vir Akwila, ‘n Jood wat in Pontus gebore is, ontmoet. Hy het kort tevore saam met sy vrou, Priscilla, uit Italië daar aangekom, nadat keiser Claudius beveel het dat al die Jode Rome moet verlaat. Paulus het hulle gaan opsoek 3 en omdat hulle, net soos hy, tentmakers van beroep was, het hy by hulle ingetrek en saam met hulle gewerk.”


Paulus bevind hom nou in Korinte. In daardie dae het die stad reeds ongeveer ‘n miljoen mense gehuisves. Die stad se opbloei het baie vreemdelinge uit Griekeland, Klein-Asië, Sirië en Egipte gelok. Ook die Jode was redelik goed verteenwoordig. Dit was ‘n stad met groot internasionale betekenis. Met die twee hawens Kenchreë aan die oostekant aan die Egeïese see en Lechaeum in die weste in die golf van Korinte, was Korinte ’n florerende handelstad. Van die een hawe tot die ander was daar ’n baan (kanaal), van ongeveer 7 km waarlangs skepe met hulle vrag met behulp van masjinerie getrek kon word. Sodoende het Korinte die verbindingslyn of skakel gevorm tussen die Ooste en die Weste.


Alle moontlike godsdienste uit die Ooste en Weste het daar hulle aanhangers gehad. Naas die Jode wat die ware God aanbid het, was daar aanbidders van Zeus, Asklepios, Isis, Serapis, Melikertes en Cybele. Onder al die afgode het Afrodite, die godin van die liefde, die ereplek ingeneem. Korinte was die plek van gewyde ontug met duisende priesteresse (prostitute) in diens van die godin, maar ook tot diens van sedelose liefde. Die naam Korinte was sinoniem met onbeteuelde brassery en sedeloosheid – so was dit oral in die stad en die twee hawes – een groot bordeel. Die stad het in Paulus se tyd die spreekwoord ‘korinthiazein’ (om soos die Korintiërs te doen) vir ’n losbandige lewe gestand gedoen.


En tog was die terrein nie ongunstig vir die Christendom nie. God het hierdie onwaarskynlike stad gekies om ‘n kerk te bou. Die heersende sedeloosheid het by baie ’n afkeur en walging laat ontstaan en ’n verlange na reinheid en verlossing het die plek daarvan begin inneem. Die eerste wat Paulus in hierdie vreemde wêreldstad gedoen het, was om aansluiting by sy volksgenote te soek. So het hy ’n Joodse egpaar, Akwila en Priscilla, aangetref. Hierdie Joodse egpaar het pas vantevore uit Rome aangekom, waaruit hulle verdryf is saam met ander Jode deur ’n besluit van keiser Claudius. Daar was ook ’n ander band wat hulle aan mekaar verbind het: hulle het dieselfde werk gedoen en was tentmakers soos hy.


In sy briewe aan die Korintiërs verwys Paulus na sy harde werk en swaarkry, dikwels met slapelose nagte. Dag en nag moes hy hard werk om in sy eie lewensonderhoud te voorsien. Hy het o.a. die evangelie aan die Korintiërs sonder betaling verkondig, omdat hy hom daarvan weerhou het om in enige opsig vir hulle ’n las te wees of van winssug of geldgierigheid beskuldig te word. Paulus was God se aardse bestuurder, sê Stephan Joubert. Hy moes vir elke mens wat hy teëgekom het, vertel van die goeie nuus dat Jesus Christus se kruis ‘n nuwe lewe moontlik maak.


Maar sy ‘bestuurspos’ het nie beteken dat hy dit aldag maklik gehad het nie. Sy byvoordele was min. Trouens, terwyl baie ander mense voor in die ry gestaan het, moes hy maar agter inval. Ons het mos nou al gesien hoe hy in sy rondswerwinge van plek na plek, uitgeskel en vervolg is – selfs mishandel en in die tronk gegooi is. Boonop was daar maar min geld in sy sak en nie juis klere in sy hangkas of reiskoffer nie. Dit klink eerder na ‘n patetiese sukkelaar as ‘n aardse bestuurder van God.


Dit klink nie reg nie. Die een ding waarna ons as werknemers uitsien, is seker om bevordering te kry. Wanneer jy hard werk, selfs oortyd soos Paulus, en alles na die beste van jou vermoë doen, verwag jy dat die ‘baas’ dit sal raaksien en jou daarvolgens vergoed met ‘n hoër aanstelling, salaris en byvoordele. Maar nie as ons na Paulus se lewe kyk nie. Die verskil egter is dat God se bevordering nie ‘n beter posisie beteken nie. Inteendeel, as ons na Paulus se dagboek kyk, blyk dit maar ‘n steil opdraande stryd. Praat van bevordering. God se idee van bevordering is diens – jy word bevorder van die bestuurder, tot die briefoopmaker en ‘fax-machine operator.’


Die hoogste werk wat God vir ons kan gee is om te dien. Hy het selfs sy Seun wat ‘n ereposisie in die hemel beklee het, bevorder om aan die kruis te sterf: “Die Seun van die mens het nie gekom om gedien te word nie maar om te dien en sy lewe te gee as ‘n losprys vir baie mense” (Mark. 10:45). Dis miskien tyd dat ek en jy weer na ons dagboek inskrywings kyk. Hoe lyk ons dagboek in God se oë? Dalk is dit tyd dat al die besigheidsafsprake en sake-etes iewers darem ‘n plekkie vir God maak. Is dit nie dalk die Persoon in ons lewe wat die ereplek behoort te kry nie? Natuurlik is die tydelike byvoordele nie na wense nie, maar die aftreepakket is uit ‘n ander wêreld. Jesus Christus se kruis maak ‘n nuwe lewe moontlik – God bied vir elke aardse ‘bestuurder’ van Hom, ‘n plek in Sy koninkryk.


“Wat ‘n mens vir ander met liefde en sonder betaling doen, is ‘n belegging in die hemel en die Here sal dit dubbelvoudig vergoed. Belê liewer in die hemel. Dáár word die hoogste rente betaal” (Ena Murray).


Gebed: Here Jesus, baie dankie dat U gewillig was om aarde toe te kom, nie om gedien te word nie maar om te dien. Maak my gewillig om soos Paulus, ten spyte van swaarkry, diensbaar te wees. Skryf in my dagboek: “Bevorder tot diens!” U Naam ter eer. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page