top of page

Gedagte vir Vandag

Dinsdag, 24 Oktober 2023

Koos Espach


Paulus se Tweede Sendingreis (51)

Paulus in Korinte (1)


Here, help my!


Hand. 18:1 – “Hierna het Paulus Atene verlaat en na Korinte toe gegaan.”


Paulus het vir Silas en Timoteus na Masedonië gestuur en was daarom in die laaste dae van sy verblyf in Atene alleen (1 Tess. 3:1 ev). Vir die eerste keer reis hy sonder geselskap van Atene na Korinte. Hy verlaat Atene nie omdat hy daartoe gedwing is nie, maar omdat hy nie kon deurdring tot die filosowe van die Areopagus nie. In Atene het hy voor die deftige raadshere en wysgere opgetree, maar hulle het hulle nie veel aan hom gesteur nie. Die gevolg: “Ons sal jou weer hieroor wil hoor” (17:32b). Dit was die vlymskerp spottende afskeidswoord aan Paulus.


Met die spottende woorde wat soos ‘n dolk in sy siel vassteek, en sonder dat hy in Atene ‘n gemeente gestig het, vertrek hy uit die aristokratiese stad Atene, na Korinte, dié handelstad met twee hawens wat die stad van koopware voorsien het. Hierdie reis sou vir die werk van Paulus en die Christelike kerk in die wêreld van die allergrootste belang word. Nie Atene, die ou sentrum van wetenskap en kuns nie, maar Korinte, die losbandige handelstad, word in Griekeland die middelpunt van die prediking van die evangelie (vgl. 1 Kor. 1:2; 2 Kor. 1:1). Korinte was sedert 27 vC die hoofstad van die Romeinse provinsie Agaje, ’n belangrike handels- en verkeersentrum van eerste rang. Paulus het hier in Korinte ‘n volle jaar en ‘n half met oortuiging die goeie nuus aangaande die opgestane Jesus se verlossing verkondig.


Wanneer ons Paulus se lewe tot dusver beskou, besef ons dit was nie ‘n lewe van maanskyn en rose nie. Inteendeel, ek dink hy het menigmaal gewonder of Christenskap die moeite werd is. Tog, met al die beproewinge en bekommernisse, het hy vasgebyt! Dit laat ons weereens besef, om Christen te wees is nie vir sissies nie. Dit kos groot opoffering. Dit vra alles van ‘n mens. Stephan Joubert stel dit baie mooi: “Ek en jy teken eienaarskap van ons lewe af aan Christus.” Dit beteken ons moet elke dag ons ou kruisie optel en Jesus volg op Sy voorwaardes.


Die voordeel egter is dat ons elke dag van voor af begin om Jesus te volg. Al die beproewings van gister en eergister, verlede week, verlede maand, verlede ..., is weg. Ons hoef nie meer daarop te teer nie. Elke dag leer ons om opnuut weer na Hom te luister. Jakobus stel dit in sy brief dat ons bly moet wees as allerlei beproewings oor ons pad kom (Jak. 1:2). Verbeel jou, ons moet bly wees. Om sterk te staan of om weerstand te bied, miskien ja. Dit leer ons om op ons tande te byt en hard te probeer dat beproewings nie die oorhand kry nie. Maar blý wees Jakobus? Ja, sê hy, “as ons geloof die toets deurstaan het, stel dit my en jou in staat om te volhard.”


As ons geloof in Jesus die toets van beproewings deurstaan het, stel dit ons in staat om met Sy krag te volhard. Die Here wil ons hervorm na Sy beeld, dit is immers hoe ons geskep is. Daarom moet ek en jy elke dag tot Sy beskikking wees. Hoe doen ons dit? Eerstens moet ons ernstig bid oor die beproewings wat oor ons pad kom. Ek en jy moet elke dag onsself soos ‘n leë houer, sonder enige huiwering op die Here se genade werp en ons in Sy uitgestrekte hande ingooi. “Here, help my!” is ook ‘n gebed waarmee ons Hom kan vertrou om ons elke dag, deur die dag en nag, te dra en ons leë houer met Sy lewende hemelse water te vul!


“Voor ek saans gaan slaap gee ek al my bekommernisse en beproewinge van die dag aan die Here oor – Hy gaan tog die hele nag wakker wees” (Mary Crowley).


Gebed: Here, hier is ek alweer met ‘n moeisame sug. Dankie dat U tog self gesê het, sonder enige voorwaardes, dat ons maar kan klop, u sal oopmaak, kan vra, U sal gee. Ons moet darem net by die regte adres klop en vra. Hier is ek Here. Maak my vol met U lewende hemelse water. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page