Gedagte vir Vandag
Vrydag, 20 Oktober 2023
Koos Espach
Paulus se Tweede Sendingreis (49)
Paulus in Atene (14)
Om ‘n kind van God te wees, is nie ‘n grap nie
Hand. 17:32-34 – “Toe hulle van die opstanding uit die dood hoor, het party Hom uitgelag, maar party het gesê: ‘Ons sal jou weer hieroor wil hoor.’ 33 So het Paulus van hulle af weggegaan. 34 ’n Paar mense het egter gelowig geword en by hom aangesluit. Onder hulle was daar Dionisius, ‘n lid van die Areopagus, en ‘n vrou met die naam Damaris en nog ander saam met hulle.”
Paulus wou seker daar op die Areopagus in Atene nog meer sê. Miskien iets soos die Ateners wat moet koers kry, dalk iets dieselfde vir die koerslose mens – kry koers na Jesus Christus, die Middelaar tussen die lewende God en die gevalle mens. Hy kon egter nie verder gaan nie. Toe Paulus se toehoorders hom hoor praat van die opstanding uit die dood, wou hulle nie langer luister nie. Hulle het nie geglo in die opstanding van Jesus nie en nog minder in die algemene opstanding wat daarmee in verband staan.
Daar is drie reaksies op Paulus se preek. Party van die Grieke lag hom uit en maak neerhalende grappe oor sy leer; ander Grieke het gesê ‘hulle sal hom weer hieroor wil hoor’ – miskien maar net ’n beleefde manier om te sê ons stel nie werklik belang nie. Daar was egter wel ’n paar bekeerlinge wat gelowig geword het deur die werking van die Heilige Gees in hulle harte ná Paulus se dringende oproep tot bekering. Een van hulle was ’n lid van die Areopagus, Dionisius. Van die vrou Damaris is verder niks bekend nie, maar sy was waarskynlik ’n vername vrou, en getuie dat die gemeentes van die Here vroue ingesluit het, soos Lidia in Filippi. Benewens die twee was daar nog enkele ander gelowiges saam met die twee genoemde leiers.
Dis vandag steeds ‘n fyn kuns op spottend beleef te wees, maar dit kan onnoemlike kwaad stig. Paulus het moontlik hier aan Jesus gedink, terwyl hy teleurgesteld die trappies van die Areopagus afgeklim het. Met Jesus is ook gekgeskeer. Aan die kruis het die Joodse volksleiers aangehou om smalend te sê: “Ander het hy gered, maar homself kan hy nie red nie. Hy is mos die koning van Israel! Laat hy nou van die kruis afkom en ons sal in hom glo. Hy het op God vertrou; laat God hom nou red as Hy dan behae in hom het. Hy het immers gesê hy is die Seun van God!” (Matt. 27:41-43); die Romeinse soldate: “As jy die koning van die Jode is, red jouself!” en die een misdadiger wat Hom aanhoudend gespot en gesê het: “Is jy dan nie die Christus nie? Red jouself en ons ook!” (Luk. 23:35-39).
Hulle wou hê Jesus moes sy Godheid bewys. Om aan die kruis te bly hang, was egter die prys wat Jesus moes betaal om ons met God te versoen. In die middel tussen twee misdadigers, hang Hy as’t ware as Middelaar tussen God en mens – die plek waar hemel en aarde mekaar weldadig ontmoet. Tussen hemel en aarde hang Hy as simbool, dat sowel die hemel en die aarde Hom verwerp het – die hemel, omdat Hy die pyn en wroeging van biljoene mense, die ganse mensdom, se sonde moes dra; die aarde wat Hom nie wou hê nie, omdat Hy te rein was, Hy nie ingepas het by die beeld wat mense van die Messias vir hulleself geskep het nie.
Ons lewensweg is met dorings bestrooi. Daarom is Jesus se kroon van dorings, vir ons ‘n hulp langs hierdie weg. Pyn, skande en dood is ’n daaglikse werklikheid. Hoeveel vloek en spot kan ons dra? Dit vat fisies aan ons waar ons dit nie kan vat nie. Die pyn van elke siekte wat ooit op mense gekom het, selfs die verskriklike pyn van elkeen wat ‘n geliefde aan die dood afgestaan het, het Jesus fisiek gedra. Hy het die mislukking van elkeen wat sy lewe opgemors het, op Homself geneem deur een van ons te word.
Die waarheid is dat ek en jy, onsself nie van die Golgotagebeure kan loswikkel nie. Sy volgelinge het Hom verlaat – waarheid is, ons sou ook! Wanneer elke hamerslag die spykers dieper in Sy hande en voete indryf – waarheid is, ons staan by en hoor Sy kreun van pyn! Wanneer ek en jy kan sê ons was daar, verbrokkel die afstand tussen Golgota en vandag. Toe Jesus na my en jou kyk, het Hy geweet hoe Hy sou moes ly. Met die vier spykers wat Sy liggaam deurboor het, het “Hy (ons) naam in Sy handpalms gegraveer” (Jes. 49:16). Te midde van die ergste lyding denkbaar, kon Jesus steeds nie ophou doen waarvoor Hy aarde toe gekom het nie, naamlik om God se verlore eiendom te soek, te vind en te red.
Wanneer ons na Jesus Christus toe draai, ervaar ons Sy vergifnis, vrede en liefde, en kan ons dit sommer saamsing: “Net soos ons is, ons wag nie meer; ons kom, hoe vuil, bevlek, o Heer, ons werp ons aan U voete neer” (Halleluja lied 202:2). Ek en jy moenie uitstel om Jesus Christus in die geloof aan te neem as ons Saligmaker en Verlosser nie! Al word ons gespot of neerhalende aanmerkings teenoor ons gemaak. God bied ons deur Jesus sy genade aan, vra Hom net. Ek en jy maak vir Hom saak, en dis nie ‘n grap nie, dis waarheid!
“Nederigheid is die vreemde bereidheid om deur almal gespot te word en deur almal as ‘n mislukking beskou te word, behalwe in die oë van God” (Andrew Murray).
Gebed: Dankie Jesus dat daar by U altyd vir my genadetyd beskikbaar is. Dankie dat U vir my ook die pad na die paradys oopgemaak het, maak nie saak wat ek al in my lewe verkeerd gedoen het nie of wie en wat ek is nie. Amen.
Kommentarer