Gedagte vir Vandag
Woensdag, 18 Oktober 2023
Koos Espach
Paulus se Tweede Sendingreis (47)
Paulus in Atene (12)
Jesus Christus waarborg die ewige lewe
Hand. 17:31 – “God het ‘n dag bepaal waarop Hy regverdig oor die wêreld gaan oordeel deur ‘n Man wat Hy uitgekies het. As bewys daarvan vir almal, het Hy Hom uit die dood laat opstaan.” (2)
Ons staan vandag weer stil by hierdie onpopulêre onderwerp van die oordeel. Baie mense verkies om nie daaroor te praat nie en maak die finale oordeel af as iets onwaarskynlik wat nie gaan gebeur nie. Hulle redenasie klink oortuigend – hoe kan ‘n God van liefde mense hel toe stuur? Dis onmoontlik. Buitendien, redeneer hulle, daar bestaan nie ‘n hel nie. Alle mense gaan hemel toe. God sal nie mense skep om in die hel te vergaan nie.
Wat sê die Bybel oor die hel? Jesus Christus het die onherroeplike werklikheid van die hel duidelik oorgedra. Hy het meer tyd spandeer om oor die hel te praat as wat Hy oor die hemel gepraat het. In die bergrede alleen (Matteus 5-7), het Jesus Sy volgelinge verskeie kere gewaarsku teen die gevare van die hel. In die profetiese rede (Matteus 24-25) het Jesus ons herhaaldelik gewaarsku oor die oordeel wat gaan kom. En om spreekwoordelik die stempel daarop te druk, het Jesus die finaliteit van die hel grafies uitgebeeld in Sy verhaal van ‘die ryk man en Lasarus’ (Luk. 16). Was Lasarus wat ‘n ereplek in die hemel gekry het, terwyl die ryk man in die hel gepynig is, net ‘n storie om mense bang te maak?
Wel, ek kan verkeerd wees, maar my redenasie is dat daar wel ‘n hel is. My gesonde verstand sê vir my sonder ‘n hel is daar mos geen rede vir ‘n Verlosser nie. Waarom het Jesus dan aan die kruis gesterf en “het God Hom uit die dood laat opstaan,” as daar geen hel was om ons van te red nie? Die Bybel is genoeg. As mense die boodskap van God se Woord nie glo nie, sal niks hulle oortuig nie! Hoe graag ons ook al wil glo dat almal gered gaan word sonder bekering en geloof in Jesus Christus, sê my gesonde verstand dis nie moontlik nie.
Die opwekking van Christus kan verstaan word as ’n versekering dat God vir Jesus aangestel het as die Wêreldregter, én dat God die genadegawe van die geloof gee om in dié Man te glo! “Baie van dié wat ontslaap het, sal uit die graf opstaan, party tot die ewige lewe en party tot ewige skande en veragting” (Dan. 12:2). “As Christus nie opgewek is nie, is julle geloof waardeloos en is julle nog gevange in julle sondes” (1 Kor. 15:17). Daarom is bekering noodsaaklik. Die heidene word opgeroep om weg te kom van hulle afgode. Dit is ‘n dubbele beweging, weg van hulle afgode na die ware God. ‘n Bekering tot geloof in die opgestane Jesus, wat van sonde verlos en wat ook gaan oordeel.
Jesus Christus waarborg die ewige lewe – “Dit verseker Ek julle: Wie luister na wat Ek sê, en in Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe. Hy word nie veroordeel nie maar het reeds uit die dood na die lewe oorgegaan.” (Joh. 5:24). Met groot nadruk spreek Jesus ’n sentrale waarheid uit ten opsigte van die redding van die mens, wat weens die sonde dood is onder die oordeel van God. Vir die redding stel Jesus twee vereistes wat wesenlik op dieselfde neerkom. Die eerste is om te “luister na wat Hy sê.” Die gelowige aanvaarding van die blye boodskap van verlossing wat Jesus kom verkondig het, is die eerste tree op die pad na die ewige lewe. Maar daar is ook ’n tweede, en dit is om “in Hom te glo wat Jesus gestuur het.”
Wat beteken dit om te “luister na wat Jesus sê en in God te glo wat Jesus gestuur het?” Eerstens is God soos wie Jesus sê Hy is – Hy is liefde. Tweedens is dit om die lewe te aanvaar wat Jesus aanbied, al is dit hóé moeilik (kruis opneem), en al is daar baie opofferinge om te maak – dit is egter die enigste weg na hoop, vrede, vreugde en liefde. Enige ander weg is die dood en ewige oordeel. Derdens behels dit om onder leiding van die Heilige Gees, die krag te ontvang en op die regte pad wat na die lewende God toe lei, te volg. Bekering is nie maklik nie. Dit is nie bloot die wegdraai van die sonde of die Bose nie; dit is ook ‘n diep en gereelde verootmoediging voor die Here.
Wanneer ons “luister na wat Jesus sê en in God glo wat Jesus gestuur het”, betree ons ‘n nuwe verhouding met God – die Regter word ons Vader, die toekoms word die hede, die onbekende word intimiteit met God en vrees verander in liefde. Wanneer ek en jy onsself in geloof aan Jesus Christus oorgegee het, gaan ons uit die dood oor tot die lewe. Ons leef nie meer ter wille van ons eie selfsugtige belange nie. Ons hartsgesindheid laat haat in liefde verander; selfgerigtheid en selfsug verander in diens aan ander; bitterheid verander in vergifnis. Ons eer nie God net met ons mond nie, Hy word deel van ons hart. Om die weg van Jesus te aanvaar beteken om van die dood na die lewe oor te gaan. Eintlik misluk ons hopeloos daarmee om “na die woorde van Jesus te luister en in God te glo wat Hom gestuur het.” Maar nou ken ons immers die paadjie na Jesus Christus se arms.
“Slegs in Jesus Christus het ons die versekering van verlossing, vergifnis van sonde, toegang tot die familie van God, en die waarborg van ‘n ewige lewe na ons dood” (Luis Palau).
Gebed: Dankie Here vir U genade. Dankie vir die moontlikheid om in u Naam te kan staatmaak op U vergifnis en vryspraak. Om in u Naam opnuut te begin. Amen.
Commentaires