Gedagte vir Vandag
Dinsdag, 19 September 2023
Koos Espach
Paulus se Tweede Sendingreis (37)
Paulus in Atene (2)
Sowaar, Jesus leef!
Hand. 17:19-21 – “Hulle het Paulus na die Areopagus toe geneem en gesê: ‘Kan ons te wete kom wat hierdie nuwe leer is wat jy verkondig? 20 Party van die dinge wat jy sê, klink vir ons vreemd, en ons wil graag weet wat dit beteken.’ 21 Die Ateners in die algemeen en die uitlanders wat daar gewoon het, het hulle tyd aan niks anders bestee as om iets nuuts te sê of te hoor nie.”
Paulus sit nie stil terwyl hy vir Silas en Timoteus wag om in Atene by hom aan te sluit nie. Getuienis in die sinagoge alleen kan hom nie bevredig nie en hy beweeg rond. Op die markplein ontmoet hy Epikuriste- en Stoïsynse wysgere van die twee vernaamste wysgerige skole. Met hulle redeneer hy, heel vername wysheidsoekers, teenoor die man van waarheid. Soos Lukas dit hier stel: “Die Ateners en ook die uitlanders wat daar woon, het vir niks anders tyd as om oor iets nuuts te praat of daarna te luister nie.” En hier is nou weer iets nuuts, iets vreemds vir hulle – Jesus en die opstanding!
Nadat hulle ’n tyd lank in gesprek was, het die wysgere Paulus uitgenooi om saam met hulle te gaan, aangesien hulle iets meer van die evangelie te wete wou kom. Hulle neem hom na die Areopagus vir hierdie doel. Dit was ‘n heuwel wes van die Akropolis wat op die markplein uitgekyk het en waar regspraak uitgeoefen is. Dit was ook die godemark genoem a.g.v. sy baie tempels en afgodsbeelde en aan albei kante deur pilaargange omring is. Aan die westekant was die Stoa Poikile, ’n pilaargang op die Areopagus wat met bont kleure geverf was, waar die wysgere en redenaars, die manne wat kan praat, bymekaargekom het.
Die Ateners en wysgere het iets nuuts gehoor, iets vreemds: Dié “praatjiesmaker” het ‘n vreemde boodskap oor vreemde gode. Hy praat oor Jesus en sy opstanding. Die Griekse woord vir opstanding is anastasis, wat aan die naam van ‘n vroulike godin herinner. Maar Paulus se redenasie is baie duidelik. Ons hoor hom redeneer: “Manne van wysheid, julle wysheid is dwaasheid en julle lewe is die dood.” Hy pleit by hulle. Hy vertel hulle van Jesus. Sowaar, Jesus leef! Luister na my, die waarheid is heeltemal anders: “God het Christus lewendig gemaak nadat Hy aan die kruis dood is. En Christus is maar die eerste Een van nog baie om te kom, dit waarborg Hy. 23 Elkeen sal sy beurt kry. Christus het eerste opgestaan en so die pad vir ons ander oopgemaak” (1 Kor. 15:20, 23 – Die Boodskap).
Waarskynlik een van die wonderlikste frases in die Bybel: “God het Christus lewendig gemaak ... en Hy is maar die eerste een ...!” Dit is hier waar die Goddelike “maar” my en jou logika op sy kop kom keer. Miskien is dit ‘n retoriese vraag, maar raak ons nog opgewonde oor die feit van Jesus se opstanding? Jesus se oorwinning oor die dood het alle grense deurbreek en alle onmoontlike dinge haalbaar gemaak. Is dit nie iets om oor entoesiasties te raak oor ons toekoms nie? Sit net daar waar jy nou is en laat jou verstand hierdie feit probeer peil: Christus het die dood finaal oorwin. Ons sal nog die aardse dood sterf, maar ons sal wéér lewe! Die verwagting om uit te sien na ‘n nuwe hemel en nuwe aarde laat my kortasem. Hoe voel jy?
In ons dag is daar baie onoorkomelike probleme wat ons agendas vul. Of so lyk dit vir ons. Wat gaan vorentoe van ons en ons kinders en hulle kinders word? As ons egter tyd maak om te peins oor die werklike implikasies van Jesus se opstanding – veral die wonder en krag daarvan – sal ons besef dat God voor geen toe deur terugdeins nie, dat geen korrupte menslike plan of situasie vir Hom onhanteerbaar is nie. Dit laat my sommer weer opgewonde word – sowaar, Jesus leef!
En om nog meer opgewonde te raak, is dat “Christus maar die eerste Een was van nog baie om te kom. Elkeen sal sy beurt kry. Christus het eerste opgestaan en so die pad vir ons ander oopgemaak” Die feit dat Jesus die eersteling uit die dood genoem word, impliseer dat daar ook ‘n tweede- en derde- en duisendste-linge sal wees. “Elkeen sal sy beurt kry’, ook ek en jy. Nou kan ons glo en kan ons met oortuiging bely: Sowaar, Jesus leef en ons met Hom! Jesus se opstanding gee sin aan elke doodgeloopte situasie. Kan ons dan anders as om ons dank aan God te wys deur met oorgawe vir Hom te lewe?
“Met Jesus se opstanding vier ons die toekoms van die wêreld. Dit is die belofte dat ook ons liggame herstel en verheerlik sal word. Alle stoflike dinge kry ewigheidswaarde omdat ons Here vir altyd opgestaan het. Daarom kan ons Christene reeds vóór ons aardse dood, ‘n nuwe lewe begin” (David Martyn Lloyd-Jones).
Gebed: Dankie vir U opstanding Here. Dankie dat ek kan weet dat ek vir ewig leef, dat ek ‘n vol en sinvolle lewe kan lei omdat U aan my lewe sin en inhoud gee. Amen.
Commenti