Gedagte vir Vandag
Maandag, 14 Augustus 2023
Koos Espach
Die Verblyf in Filippi (3)
Lidia se bekering (3)
Liefde = gasvryheid = vorm van aanbidding
Hand. 16:15 – “Lidia en haar huisgesin is toe gedoop. Daarna het sy ons uitgenooi en gesê: ‘Aangesien julle daarvan oortuig is dat ek in die Here glo, kom gaan by my tuis.’ En sy het ons oorreed om dit te doen.”
Die feit dat Lidia Paulus-hulle moes “oorreed om by haar tuis te gaan,” wil dit voorkom asof hulle eers onwillig was. Dit stem egter ooreen dat Paulus, alhoewel hy God se insluiting verkondig het, moes hy ook Judese en godsdienstige grense oorsteek. Ons lees ook in sy briewe van sy algemene houding om nie van gelowiges afhanklik te wees nie: “So het die Here bepaal dat dié wat die evangelie verkondig, hulle lewensonderhoud uit die verkondiging van die evangelie moes ontvang. Wat my betref, ek het hiervan geen gebruik gemaak nie. Ek skryf dit ook nie met die bedoeling om daarop aanspraak te maak nie. Ek gaan liewer dood!” (1 Kor. 9:14-15). Maar, Lidia se uitnodiging aan Paulus-hulle om by haar tuis te gaan, word die evangelie in praktyk – ‘n voorbeeld van Christelike gasvryheid.
Lidia nooi Paulus-hulle na haar huis, en so word haar huis die eerste huisgemeente in Europa, een van die mooiste gemeentes waarvan ons lees in die Nuwe Testament. Daar is geen gemeente wat Paulus so hoog geag het as dié van Filippi nie en geen gemeente van wie hy meer liefde ontvang het nie. Later het Paulus dan ook aan die Filippense geskryf dat hy meermale ondersteuning van hulle ontvang het, terwyl hy die ander gemeentes altyd geweier het (Fil. 4:15-18). Hy het ook die vrug van die gawe van gasvryheid by ander gemeentes tuisgebring: “Help die medegelowiges in hulle nood en lê julle toe op gasvryheid” (Rom. 12:13). Vergelyk ook Heb. 13:2 – “Moenie nalaat om gasvry te wees nie, want deur gasvry te wees, het sommige mense sonder dat hulle dit geweet het, engele as gaste gehuisves.” (Verwysing na Abraham in Gen. 18:1-5).
Omdat die liefde die selfsug oorwin, het dit die gelowiges van Paulus se tyd geleer om voorsiening te maak vir die minder bevoorregte gelowiges en na gasvryheid te streef. Wat is ons Christelike roeping in hierdie verband? Watter konkrete verantwoordelikheid lê die Here deur Sy Gees op ons hart? Daar is ongelukkig vandag nog steeds baie mense wat Jesus verkeerd verstaan en só 'n tipe Jesus wil hê soos die destydse massa. Hulle wil hê só 'n Jesus moet Sondae van die kansel af gepreek word. 'n Jesus wat vir hulle kan bedien – wat dáár is vir hulle. Iemand wat o.a. hul hongerpyne kan stil. Terwyl die Jesus van die Bybel die Seun van God is, kan ons nie met ons moderne harte allerlei modelle van Hom maak wat nie ooreenstem met Wie en Wat Hy is nie. Hy het ons kom vry maak van die bande van die dood en die verderf. Gelukkig is Hy ook Voorsiener en sal Hy met liefde aan ons behoeftes voorsien op Sy manier en Sy tyd.
Een van die roerendste aspekte van Christenwees is dat vreemde mense my en jou gesinslede word omdat hulle, soos ons, God as Vader het. Dít is die nuwe gebod wat Jesus aan al Sy dissipels, gegee het: “ ... Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê” (Joh. 13:34). So word die broeder- en susterliefde die uitkenningsteken van Christene. As Christene voel ons soms so nietig en ontoereikend. Ons is soms bewus van ons geringheid as mens en daarom volg gewoonlik ‘n magdom redes hoekom ek en jy nie ‘n dienskneg in God se koninkryk kan wees nie. Daar is egter werk vir almal in Sy koninkryk en niemand hoef oorbodig te voel omdat hy/sy nie besondere gawes of vermoëns het nie.
Met werkloosheid wat steeds toeneem en al hoe meer straatkinders en haweloses rondom ons, word ons uitgedaag om God te vra hoe ons Hom hierin kan dien. Ruth Calkin skryf treffend hieroor: “U weet hoe dit gebeur het Here. Sy het gevra of sy net ‘n klein rukkie by my kan kom bly want sy het geen tuiste en is eensaam en bang. Ek het gesê ek het net ‘n klein kamertjie, die ander kamers is vol en ek het regtig nie plek nie. Maar ek sal bid en ‘n paar oproepe maak. Iemand sal kan help. Ek het gebid, oproepe gemaak ... en gewag. Toe het U bereik wat ek nie kan verklaar nie, Here. U het die mure van my kamertjie teruggestoot, totdat daar skielik meer plek is in my huis, sowel as in my hart. Here, U is voorwaar ‘n Meesterbouer!”
Die alvermoënde Christus kan wonderwerke verrig met die nederigste dissipel. Paulus moedig ons gelowiges aan om ander Christene gasvry te behandel, moontlik omdat Lidia vir hom die voorbeeld was en hy ook daar sosiale en godsdienstige grense moes oorsteek. Al ken ons nie mekaar persoonlik nie, moet ons gemeenskaplike geloof in Jesus ons saambind as broers en susters. Gasvryheid beteken, my en jou hart en hande moet uitgestrek wees in diens aan ander. Daar is geen perke aan wat God deur ons as toegewyde en gehoorsame instrumente kan doen nie. Jesus kan baie doen met min! Liefde in aksie beteken om iets vir ons naaste te doen, al is dit hoe gering. Ek en jy kan ook bid soos die vrou in Ruth Calkin se storie “Daar is plek!” Die Here sal ons wys hoe om ons huis en ons hart oop te maak.
“In a world bent on getting, the Christian is bent on giving, because he knows that ‘what we keep we lose, and what we give we have” (William Barclay).
Gebed: God van geleenthede, verander my hart in ‘n Christushart. Daar was vir U geen plek in die herberg nie. Bewaar my daarvan om dieselfde fout te begaan. Alles wat ek is en het kom van U, maak my betrokke, gebruik my soos en waar U wil. Amen.
Comentarios