top of page

Gedagte vir Vandag

Dinsdag, 1 Augustus 2023

Koos Espach


Paulus se Tweede Sendingreis (3)

Paulus en Barnabas skei van mekaar (3)


Werkers in God se arbeidsveld


Hand. 15:40-41 – “Paulus het vir Silas gekies en vertrek, nadat hulle deur die gelowiges aan die genade van die Here toevertrou is. 41 Hy het deur Sirië en Silisië gereis en die gemeentes geestelik versterk.”


‘n Ernstige meningsverskil tussen Paulus en Barnabas veroorsaak dat hulle paaie skei. Dit klink eintlik tragies dat die twee groot sendingleiers van die vroeë kerk oor ‘n helper, Johannes Markus, ernstige stry moes kry. Hulle het saam die gemeente in Antiogië tot ‘n modelgemeente uitgebou; saam ‘n hele aantal kerke in Klein-Asië tot stand gebring; is saam ter wille van die evangelie vervolg, en het saam deelgeneem aan die deurslaggewende kerkvergadering in Jerusalem. Wys maar, hulle was ook net mense wat soms ernstige meningsverskille kon hê.


In die anderkant, is dit amper ongelooflik dat dieselfde apostel wat later so pragtig oor die liefde kon skryf (1 Kor. 13), ook onverbiddellik kon wees wanneer dit oor basiese kwaliteite soos volharding en integriteit gaan. Paulus was selfs bereid om eerder sy jarelange bondgenoot te verlaat as om met ‘n halfhartige helper in die Here se diens te staan. Paulus se lewensroeping nadat hy met Jesus kontak gemaak het, was so deel van sy lewe dat hy op daardie stadium moontlik nie omgegee het nie – solank hy net vir mense van Jesus kon vertel. Sy commitment teenoor die Here was fenomenaal, want Christus regeer sy lewe.


Paulus neem nou in die plek van Barnabas, vir Silas wat net soos hy ’n Romeinse burger was, en vertrek met die kortste pad na die suidelike gemeentes van Galasië waar hy vroeër gewerk het. Hulle word deur die gelowiges aan die genade van die Here toevertrou en neem die pad wat deur Sirië en Silisië gaan waar hy die gemeentes in hierdie gebiede, geestelik versterk.


Die goeie nuus is dat God swak mense of eerder, mense met swakhede en selfs met meningsverskille gebruik om in Sy arbeidsveld te werk – Hy het begin met eenvoudige vissermanne! Verder is die Bybel vol voorbeelde van gewone mense wat God gebruik het om, ondanks hulle swakhede, buitengewone dinge te laat doen. Ons is broos en vol foute maar met die intieme samewerking van die Heilige Gees, word ons instrumente in die hande van ons Here. God sal ons gebruik indien ons Hom toelaat om ons te gebruik: “En in Hom is ons ook swak, maar saam met Hom sal ons uit die krag van God lewe” (2 Kor. 13:4). God word nie deur ons beperkings beperk nie, " ... die krag wat alles oortref, kom dus van God, nie van ons nie” (2 Kor. 4:7b).


God het ons ‘n lewensboodskap gegee om te deel – Christelike getuienis vorm ‘n integrale deel van elke Christen se pelgrimstog. Die vrymoedigheid om hierdie getuienis uit te dra, kry ons van die Heilige Gees self, en Jesus wil hê ons moet ons getuienis met ander deel. Hy het gesê: “Julle sal my getuies wees …” (Hand. 1:8), en daarom moet ons in Christus se plek praat. Ons dade moet Sy goedkeuring wegdra. Alles wat ons doen moet strek tot eer en verheerliking van Hom.


Elkeen van ons het ‘n storie wat ons graag wil deel. Ouers is trots daarop om die prestasies van hulle kinders met ander te deel; elke grootouer vertel met trots van die doen en late van hulle kleinkinders wat die beste is; verliefde paartjies getuig graag van hulle liefde vir mekaar; mense huiwer nie om sterk standpunt in te neem vir ‘n saak wat hulle ondersteun nie, of dit met sport, politiek, of wat ook al te make het. Dit is natuurlik nie verkeerd nie, maar waarom is ons skaam om te erken dat ons in Jesus Christus glo, skaam om die wonders wat ons Almagtige God in ons lewens al gedoen het, te verkondig? “Jy moenie skaam wees om die boodskap van die Here te verkondig nie …” (2 Tim. 1:8). So baie dinge waaraan ons so baie energie bestee, sal selfs oor ‘n jaar van nou af niks meer beteken nie, wat nog te sê in die ewigheid, terwyl getuienis oor God, ewigheidswaarde het!


Getuienis is om ons geestelike rykdom met ander mense te deel. Dit is om spontaan my en jou vreugde en dankbaarheid in die erediens met lofsange, gebede en offergawes met ander te deel. Dit is beslis nie om die kerkbank warm te sit en net na die preek te luister nie. Daar word vertel van ‘n buitelander wat op ‘n plattelandse plasie vir die eerste keer hom verwonder het aan ‘n touleier wat ‘n span osse voor ‘n ploeg, volgens sy beskrywing, die osse én die ploeg sleep! Is dit nie dalk die beeld wat sommige gemeentes vertoon nie? Die dominee of pastoor wat alles moet doen en die gemeente as’t ware saamsleep!


Ons hoef nie te wag dat God ons spesiaal moet roep vir diens in Sy koninkryk nie, Hy het dit reeds gedoen. Ons word almal opgeroep om God se doelwitte vir ons lewens te vervul: Om te bid; verhoudings te bou; soos Christus te word; te dien; en om God se getuie te wees. Hy wil nie net sommige mense gebruik nie, maar álle mense. Christus het elkeen van ons nodig om elke dag Sy liefde te weerspieël en ons toe te wy aan Sy en ons Vader se opdragte. Dit is nie maklik nie, maar saam met die Heilige Gees is dit die moeite werd om in Jesus se voetspore te stap.


“Gee jou lewe aan God oor: Hy kan daarmee meer doen as wat jy ooit in staat is om te doen” (Dwight Moody).


Gebed: Gebruik my Here, net soos U wil, waar en wanneer dit U behaag. Ek wil graag deel van die werk wees waar U besig is. Dankie dat U ‘n gewone mens soos ek, kan gebruik. Werk deur my om U volmaakte wil uit te voer. Amen.

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page