top of page

Gedagte vir Vandag

Woensdag, 26 Julie 2023

Koos Espach


Die Kerkvergadering in Jerusalem (9)

Die besluit van die vergadering (3)


Is ons wie ons behoort te wees?


Hand. 15:28-31 – “Die Heilige Gees en ons het besluit om geen verdere las op julle te lê as net hierdie noodsaaklike dinge nie: 29 dat julle nie vleis moet eet wat aan ‘n afgod geoffer is nie, ook nie bloed nie en ook geen dier wat verwurg is nie, en dat julle onsedelikheid moet vermy. As julle julle van hierdie dinge weerhou, doen julle reg. Hartlike groete.’ 30 Die afgevaardigdes het afskeid geneem en na Antiogië toe gegaan. Daar het hulle al die gelowiges bymekaar laat kom en die brief oorhandig. 31 Die gelowiges het dit gelees en was baie bly oor die bemoedigende boodskap.”


“Die Heilige Gees en ons ...” vervolg die brief. Stop die bus, het ek aanvanklik gedink toe ek die teks lees. Die Heilige Gees en ons ...? Is die apostels nie hier besig om hulle gelyk te stel aan die Heilige Gees nie? En dan besef ek Lukas wil ons lesers oortuig dat die besluit van die vergadering met groot erns geneem is en “God gee mos die Heilige Gees aan dié wat aan Hom gehoorsaam is” (5:32). Die Heilige Gees het hulle gelei met die neem van die besluit. Die apostels en ouderlinge was nie arrogant nie, hulle het hulle in diepe afhanklikheid onderwerp aan die leiding van die Heilige Gees.


Die afgevaardigdes het afskeid geneem en na Antiogië toe vertrek. By hulle aankoms daar, is ’n vergadering van die gemeente belê en verslag is gedoen van die samesprekings in Jerusalem. Daarna is die brief aan die gemeente voorgelees. Net vier voorskrifte word uitgestippel: geen afgodsvleis, geen bloed, geen verwurgde diere, en geen onsedelikheid nie – dinge wat met die daaglikse lewenswandel te make het en volkome breek met afgodsgebruike, ’n “menslike” hantering van diere aanprys, en ’n positiewe ingesteldheid teenoor die huwelik skep. Daarmee word geïmpliseer dat die besnydenis nie meer bestaansreg het by die gelowiges uit die heidene destyds, en ook nie by die gelowiges van vandag nie.


Die bekeerlinge uit die heidene het met vreugde verneem dat hulle bevry is van die Joodse wet en dat hulle nie die besnydenis hoef te ondergaan nie. Die las wat die vorige besoekers uit Jerusalem op hulle geplaas het, is nou van hulle skouers gelig. Dit was vir hulle ‘n bemoedigende boodskap om aan God te kan behoort sonder ‘n Joodse godsdiens en kultuur wat op hulle afgedwing word.


Buitendien, ons gelowiges behoort nie meer aan onsself nie, maar aan die Here – God het besitreg oor ons in lewe en in sterwe: “Niemand van ons leef tog vir homself nie, en niemand sterf vir homself nie. As ons lewe, leef ons tot eer van die Here; en as ons sterwe, sterf ons tot eer van die Here. Of ons dan lewe en of ons sterwe, ons behoort aan die Here. Hiervoor het Christus ook gesterf en weer lewend geword: om Here te wees van die dooies en van die lewendes.” (Rom. 14:7-9). As Christene stel ons God se belange voorop en ons eie eer en eie belang neem nou die laaste plek in, ons koninkrykie word vervang met die koninkryk van God! Met Christus se dood en opstanding het Hy die Here “van die dooies en van die lewendes” geword – Hy het ons vrygekoop van die slawerny van die sonde en ons verbind aan Hom in lewe en in dood.


Ons kan dan só leef, ons beklee ‘n hoë status by God want Hy het ons nuutgemaak deur Jesus Christus! Maar, is ons wat ons behóórt te wees? Is daar nie maar altyd spanning tussen dit wat ons ís, en dit wat ons behóórt te wees nie? Wat ons ís, is dat ons deur Christus verlos is maar sommige van ons dink steeds dit is nie wat ons behóórt te wees nie, want ons is sondaars. Wat ons dus is en wat ons behoort te wees, kom nie altyd by mekaar uit nie, en daarom beaam Petrus ook: “Ons behoort aan die Here, ons is uitverkore, ‘n koninklike priesterdom, vir God afgesonder, die eiendomsvolk van God …” (1 Pet. 2:9).


Ons is nuut gemaak, ons is nie meer dood in die sonde nie, ons is verlos! Ons is nuutgebore mense want “ons behoort aan die Here”. Dit is ‘n geweldige troos en hoop waaraan elke Christen kan vashou. Ons is nie uitgelewer aan enige bose magte of toeval wat buite ons beheer is nie, ons is nie uitgelewer aan mense wat ons lot in hulle hande hou en allerhande tradisies aan ons wil voorskryf nie, ons behoort aan die Here! Goddank, ons behoort nie eers aan onsself nie en daarom kan ons nie met onsself maak net wat ons wil nie, ons lewe is in Christus se hande! Al loop die lewe soms met ons draaie en deur moeilike omstandighede en stewige obstacles, moet ons onthou ons loop nie alleen nie. Omdat ons aan Christus behoort, kan ons weet dat ons ompad, Sy op pad is. Hy verander soms ons rigting, maar nooit ons eindbestemming nie, en dit is wat ons in Christus is!

“Sonder Christus is ons niks, verstaan ons niks van ons lewe of van die dood nie; nog minder wie God is en wie ons is, wie ons behoort te wees en wat ons kan word” (Blaise Pascal).


Gebed: Dankie Here dat ek nie aan myself behoort nie, maar in lewe en in sterwe, aan U. Maak my soos ek behoort te wees – sagte hande om ander te versorg; vinnige voete om ander te help; skerp oë om ander se nood raak te sien; goeie en geopende ore om die sug van my naaste op te vang. Amen.


Comments


Recent Posts