top of page

Gedagte vir Vandag

Vrydag, 14 Julie 2023

Koos Espach


Die Kerkvergadering in Jerusalem (1)

Die vraag oor die besnydenis word verwys na ‘n vergadering in Jerusalem (1)


Jesus plus nog iets?


Hand. 15:1-3 – “Daar het mense van Judea af gekom en die gelowiges wysgemaak: ‘As julle nie die gebruik van Moses nakom deur julle te laat besny nie, kan julle nie gered word nie.’ 2 Toe Paulus en Barnabas hulle daarteen verset en in ‘n heftige meningsverskil met hulle betrokke geraak het, is daar besluit dat hulle twee en nog ‘n paar ander van die gemeente na die apostels en ouderlinge in Jerusalem moet gaan in verband met hierdie vraagstuk. 3 Nadat die gemeente hulle van die nodige vir die reis voorsien het, het hulle deur Fenisië en Samaria gegaan en vertel van die bekering van die heidene. Hieroor was al die gelowiges baie bly.”


Paulus en Barnabas het, soos ons dit vandag ken, van “Paulus se eerste sendingreis,” omgedraai en op hulle spoor teruggekeer na Antiogië in Sirië, waarvandaan hulle aanvanklik vertrek het. Hulle het daar die gemeente bymekaargeroep en alles aan hulle vertel wat God deur hulle gedoen het. Hulle het vertel dat God deurentyd met hulle was, en God vir die heidene die deur van die geloof oopgemaak het. Hulle het daarna ‘n geruime tyd daar by die gelowiges deurgebring.


Die bekering van die heidene, of mense wat nie Jode was nie, was nou in volle swang. Maar, die deur van geloof wat God vir die heidene oopgemaak het, en waarvan Barnabas en Paulus eerstehandse getuies was, sou uiteraard nie sonder sy teenstanders wees wat die geloofsdeur graag weer sou wou toemaak nie. Dit was immers die patroon oral waar die apostels die evangelie verkondig het. Daar was oral teenstand, veral van die Jode wat die evangelie verwerp het – net in Derbe nie. En nou het mense van Judea af in Antiogië se noue gemeenskap van Christusgelowiges, begin verkondig “hulle kan nie gered word as hulle nie besny is volgens die gebruik wat voorgeskryf is in die wet van Moses nie.” Om toegang tot die volk van God te verkry moet heidene eers besny word as teken van die verbond van God – jy moet Jood word!


Paulus en Barnabas het hulle daarteen verset, soos ook teen die heldeverering in Listra, en in ’n heftige meningsverskil met hulle betrokke geraak. Vir Paulus en Barnabas was dit duidelik dat ’n bekeerde heiden onbesnede bly en vry is van die verpligting om die wet te vervul sodat hy of sy deur God gered kan word met goeie werke – ons word net gered deur ons geloof in Jesus Christus, nie om eers ‘n Jood te word deur uiterlike handelinge nie. Paulus en Barnabas en ‘n paar ander lede van die gemeente is toe aangewys om na die apostels en ouderlinge in Jerusalem te gaan om uitsluitsel oor hierdie strydvraag te kry sodat daar vrede en eenheid in die kerk kan wees. Oral waar hulle aandoen op hulle reis na Jerusalem, vertel hulle wat die Here besig is om onder die nie-Jode te doen, en dit lei tot groot blydskap onder die heidene.


Ek glo julle het al van die volgende dinge waarop mense vertrou, gehoor: “Net ons kerk se lidmate is uitverkore, en as julle nie by ons aansluit nie, kan julle nie gered word nie; as jy nie op ons kerk se manier gedoop word nie, gaan jy nie hemel toe nie; as jy nie in tale praat nie, is jy nie gevul met die Heilige Gees nie en dus nie Christen nie; die Bybel sê jy moet jou sondes by die naam bely voor die ander gemeentelede, anders kan God dit nie vergewe nie; net ons kerk se leiers kan sondes vergewe, jy kan nie net op Jesus vertrou nie.” So is daar lang lyste van dinge wat gedoen moet word deur die mens om redding te verseker. Dit sluit nie eers die lyste van die godsdiensgroepe, (kultusgroepe), wat God vervang met hulle eie geloofsbeginsels, in nie.


En dan is daar nog die “gelowiges” waar die rol van afgode hulle lewens vervul en waarin hulle hul lewens mee vertrou. Goeie, slim mense, het nog altyd ‘n sagte plekkie vir hierdie afgod gehad. Afgode wat doof, stom, blind en dom is en rondgedra moet word omdat hulle nie self oor die weg kan kom nie. Afgode wat baie na aan hulle hart gedra word en die wag oor hulle hou. Hy heet Geld – vat aan hierdie geliefde en jy vat aan hulle.


God het elkeen van ons uniek gemaak en ons mag God uniek beleef en ons godsdiens uniek beoefen. Wat ons egter moet onthou is, God bly die God soos Hy Hom in die Skrif openbaar en dit bly ononderhandelbaar in die beoefening van ons godsdiens. My en jou belewenis van God kan nie bepaal wie God is nie. Ons kan nie ‘n (G)god skep wat by ons belewenisse pas deur byvoorbeeld die Joodse besnydenis deel van Christenword te maak nie.


Dit is nie Jesus plus nog iets nie – dit is net geloof in Jesus Christus. Ons gelowiges is almal deur die een Gees deurdrenk. Die God wat ons beleef, die God soos Hy Hom in die Woord openbaar, bly dieselfde vir almal. Aan Hom kan ons nie gaan torring nie. Nee, daar is geen ander plusse langs die evangelie nie. Christus is alleen die Weg. Glo maar net in Hom. Dit is genoeg! Jesus sê so!


Die betekenis van die woord “Christen” het so afgewater geraak dat dit glad nie meer vergelyk word as “volgeling van Christus” nie. Om nou nie eens te praat hoe ons deesdae die woord “God” gebruik nie ...! (Francis Schaeffer).


Gebed: Here, ek weet wie U is, ek weet wat U kan doen, wat U gedoen het en ook beloof het om te doen. Help my om saam met ander gelowiges na U waarheid te streef, nie allerhande ander dinge saam te sleep nie en net op U alleen te fokus. Dankie dat U die enigste pad tot redding is. Amen.

Commentaires


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page