top of page

Gedagte vir Vandag

Maandag, 26 Junie 2023

Koos Espach


Eerste sendingreis: Barnabas en Saulus word uitgestuur (42)

Paulus en Barnabas in Ikonium (2)


Hoe groot is ons God!


Hand. 14:3b-7 – “Die Here het ook die boodskap van sy genade bevestig deur die apostels tekens en wonders te laat doen. 4 Die inwoners van die stad was verdeeld, party vir die Jode en party vir die apostels. 5 Die heidene en die Jode saam met hulle leiers het egter oproerig begin word en wou hulle aanrand en stenig. 6 Toe die apostels dit agterkom het hulle na Listra en Derbe en omgewing gevlug. Dit was twee stede in Likaonië. 7 Daar het hulle toe die evangelie verkondig.”


Vergelyk ook 1 Kor. 1:22-24 – “Die Jode vra wondertekens en die Grieke soek wysheid, 23 maar ons verkondig Christus wat gekruisig is. Vir die Jode is dit ‘n aanstoot en vir die ander is dit onsin, 24 maar vir dié wat deur God geroep is, Jode sowel as Grieke, is Christus die krag van God en die wysheid van God.”


In Ikonium ondervind Paulus en Barnabas dieselfde verdeeldheid as in Antiogië in Pisidië. Hierdie verdeeldheid het ’n effek op die hele stad gehad, sodat party vir die Jode was en party vir die apostels. Maar die mense wat in opstand teen Paulus en Barnabas gekom het, het meer publieke status gehad en kon die leiers oorreed om op te tree teen hulle. Dit keer egter vir ’n geruime tyd nie vir Paulus en Barnabas om in die stad te bly nie. Hierdie keer skud hulle nie die stad se stof van hulle voete af nie.


Hulle het in vertroue op die Here, onbevrees aangehou met preek. En die Here het die boodskap van sy genade bevestig deur die tekens en wonders wat Hy Paulus-hulle laat doen het. Maar uiteindelik word die druk en bedreiging van aanranding en steniging te veel en hulle vlug na Listra, Derbe en die omgewing, twee stede in Likaonië, waar hulle hul werk voortgesit het.


Ek dink ons sou moontlik dieselfde opgetree het as Paulus se hoorders van destyds. Sy prediking sou miskien vir ons ook vreemd op die oor geval het. Ek meen, dit is ondenkbaar dat iemand uit die dood kon opstaan. Selfs die verhaal dat God die kruis uitgekies het om die wêreld met Homself te versoen, sou dalk vir ons ook nie sin gemaak het nie. Ons sou moontlik saam met baie van die Jode en heidene (Grieke) Paulus en Barnabas gespot en uitgelag het en ook ‘n klip of twee opgetel het om hulle te verjaag.


Vir talle mense was die kruisiging van Jesus ‘n skande, ‘n aanstoot en vernedering, want die kruis was die teken van God se vloek oor iemand (Deut. 21:23b). Vir die Jode was dit onmoontlik dat verlossing bewerkstellig kon word deur iemand wie die vloek van God gedra het – (As hulle maar net kon verstaan dat Christus juis vir húlle die vloek só moes dra sodat hulle vrygespreek kon word.)


Vir die Grieke was dit onsin (Hand. 17:32); Jesus se eie broers het aanstoot in Hom geneem en met Hom gespot (Joh. 7:3-5); Jesus se mense in Nasaret het aanstoot geneem en wou Hom stenig en van ‘n krans afgooi (Mark. 6:1-6); die godsdienstige leiers (Fariseërs) het aanstoot geneem omdat Hy hulle die waarheid vertel het (Matt. 15:8-12); baie van Jesus se volgelinge was afgeskrik oor die dieper dinge van die evangelie wat Hy gepreek het, en het Hom verlaat (Joh. 6:57-66). Daarteenoor kom Paulus en “verkondig Christus wat gekruisig is en vir dié wat deur God geroep is, Jode sowel as Grieke, is Christus die krag van God en die wysheid van God.”


Martin Luther skryf die volgende: “Ek het geen liefde gehad vir daardie heilige en regverdige God wat sondaars straf nie. Ek het Hom gehaat omdat Hy nie daarmee tevrede was om ons arme sondaars met die wet en die ellendes van die lewe die skrik op die lyf te jaag nie, en ... ons pynigings nog vererger met die evangelie ... Maar toe ek deur die Heilige Gees die boodskap werklik begin verstaan het – toe ek ingesien het hoe die regverdigmaking van sondaars voortvloei uit die genade van God deur die geloof ... het ek soos ‘n nuwe, weergebore mens gevoel ... Waarlik, Paulus se woorde in Rom 1:17 was vir my soos die poort na die Paradys.” Hierdie skokkend-blye boodskap dat God elke mens wat glo, uit genade vryspreek, nie uit goeie werke nie, het die wekroep van die Hervorming, vyf honderd jaar gelede, geword.


Gelukkig is ek en jy nie mense van Paulus se tyd nie. Gelukkig werk God so met Sy genade in elke mens, en ek sluit myself en jou hierby in, wat tóg hierdie “dwaasheid” glo dat Jesus die lewende Messias is en met ons hele lewe daaraan vasgryp. En dit is nie omdat ons eintlik so fancy is nie, dis net aan God te danke dat ek en jy dit ook glo en daarvoor kan ons Hom loof. Kom ons doen dit sommer nou: Dankie Here dat die dwaasheid van die evangelie ware wysheid geword het omdat ons deur U genade dit kan glo. Dankie dat ons nie ook in die koor van die spotters sing terwyl ons die hel tegemoet hardloop nie.


“Ons kan die Goddelike openbaring van Solus Christus net deur Sola Scriptura (Skrif) ontvang, en gelowiges ontvang God se genade (Sola Gratia) en die gawe van geloof (Sola Fide) sodat ons na Christus kan draai. Net so word die Vader verheerlik (Soli Deo Gloria) deur die werk van sy Seun” (Dr. Victor Kuligin).


Gebed: Dankie Here, ek glo met my hele wese die evangelie en daarom deur genade, ook geroep is om aan U te kan behoort. Hierdie onbeskryflike groot genade oorweldig my. “O Heilige Gees, my Heer, wat my in waarheid leer, vernuwe my gemoed deur U genade. Laat my ‘n getuie wees, ek wil vertel van al U wonderdade” (Liedboek 441:1). Amen.

コメント


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page