top of page

Gedagte vir Vandag

Dinsdag, 20 Junie 2023

Koos Espach


Eerste sendingreis: Barnabas en Saulus word uitgestuur (38)

Paulus en Barnabas in Antiogië in Pisidië (23)


Ek en jy is vry


Hand. 13:48-49 – “Toe die heidene dit hoor, was hulle baie bly oor die woord van die Here en het hulle dit toegejuig. Almal wat vir die ewige lewe bestem was, het gelowig geword. 49 Die woord van die Here het dwarsdeur die hele streek versprei.” (4)


Ek weet nie of dit dieselfde tendens is by ons lesers in ander dele van die wêreld nie, maar deesdae lyk dit of net slegte nuus die koerante en nuusberigte in Suid Afrika haal. Dit wek die indruk dat alles aan die ondergaan is, en nóg slegter nuus is dat die meeste mense dit begin glo. En dit maak dat ons hoop verloor. Ons weet egter daar is goeie dinge ook aan die gebeur. In werklikheid weet ons ook dat in die media se oë is goeie nuus nie nuus nie. Net so is dit met die woord van die Here. Nie almal wat die evangelie hoor, neem dit met blydskap aan nie. Inteendeel, ons kan altyd weerstand verwag. Maar, daar is nog baie mense wat, soos die heidene van Paulus se tyd, “baie bly word oor die woord van die Here en dit toejuig.” Die rede: Die lewende God van hierdie woord, skenk die ewige lewe en Hy bepaal ook aan wie Hy dit gee.


Miskien klink dit vir baie mense ongelooflik, maar dis waar. Neem maar net een hoofstuk uit God se woord: Romeine 8. Hierdie hoofstuk is al beskryf as die hart van Paulus se teologie en seker sy grootste oor die Heilige Gees en God se genade. Die goeie nuus, ja, God se woord is goeie nuus! Feitlik die hele hoofstuk bestaan uit waarhede wat ‘n mens in verwondering laat. Waar begin ons? Miskien by vers 9 waar Paulus sê die Heilige Gees is aan elkeen gegee wat bely dat hy of sy in Jesus glo. Of dalk vers 15 wat bevestig dat die Gees ons bevry van die slawerny van sonde. Kom ons begin waar Paulus begin het, by vers 1. Hier maak Paulus die beste nuus ooit aan die mensdom bekend: God het ons Christene se sonde afgeskryf. Ons gaan nie in die oordeel beland nie. Ek en jy wat in Jesus Christus glo, is vry! Duiselingwekkende woorde!


God is partydig. Hy het kant gekies: ons s’n! Ons is nou deel van God se huisgesin. “Dié wat Hy daartoe bestem het, het Hy ook geroep. En die wat Hy geroep het, het Hy ook vrygespreek. En dié wat Hy vrygespreek het, het Hy ook verheerlik” (Rom. 8:30). Die duiwel kan maar sy klagstate hemel toe neem oor ons sondes, Jesus sal sy pad versper. God het ons opgestapelde sondeskuld aan Sy Seun gestraf en Christus het gesterf daarvoor, volledig – en in die proses het Hy vryspraak vir ons bewerkstellig, sodat ons onskuldig voor God staan. Jesus se gehoorsaamheid red ons sondaars dus van die ewige verdoemenis en verwerf vir ons die ewige saligheid. God het ons klaar vrygespreek.

Sodra ons God se verlossingsplan begryp, dit werklik in die geloof aanneem en vir onsself toe-eien, bring dit ‘n innerlike sekuriteit, vreugde en dankbaarheid wat geen geld kan koop nie. Ons weet dan dat die voortgang en ontwikkeling van ons lewe veilig verpak is in God se ewige raadsplan. Hierdie vertroostende waarheid maak ons vry om die Here te dien op die enigste manier wat Hom behaag – in dankbare vrede en liefdesvertroue volgens Sy wil.


En nog ‘n brokkie goeie nuus is dat Paulus in vers 35 en 37 elke moontlike skeidsmuur soos gevaar, lyding, bose magte en selfs die dood, ons van die liefde van God kan skei nie. Ek en jy is nou meer as oorwinnaars in God se oë. En dis nie wat ek sê nie. God het Paulus dit deur Tertius laat neerskryf in Romeine 8 sodat ons dit met ons eie oë kan lees. En Hy doen dit, omdat Hy my en jou van ewigheid af liefhet en sal toesien dat ons in gelykvormigheid aan die beeld van Sy Seun, tot in ewigheid deel sal wees van Sy huisgesin! Al lyk dit partykeer so, God is nie passief en onbetrokke by ons lewe nie. Hy gee vir ons om. Die beste nuus is dat ek en jy deel is van Sy wenspan en daarvoor kan ons Hom prys “en Hom toejuig!” terwyl ons saam met sy Gees op die triomftog voort marsjeer, ten spyte van al die slegte nuus.


“Die ganse hemel wag om dié mense te help wat die wil van God ontdek en dit doen” (Robert Ashcroft).


Gebed: Hemel Vader, daar kom tye op my pelgrimspad van die lewe, wanneer ek oorweldig word deur die gedagte aan die verantwoordelikheid van Christen-wees. Daarom kom stel ek my lewe opnuut oop vir die invloed van U Gees. Maak my sensitief vir die influisterende stem van Hom sodat ek sal hoor wanneer Hy U wil aan my bekend maak, vir my die regte koers aandui en my bekwaam maak om U wil uit te voer. Amen.

 

Comentarios


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page