Gedagte vir Vandag
Maandag, 15 Mei 2023
Koos Espach
Eerste sendingreis: Barnabas en Saulus word uitgestuur (16)
Paulus en Barnabas in Antiogië in Pisidië (1)
Met my hele hart, my álles
Hand. 13:13-15 – “Paulus en sy reisgenote het met ‘n skip van Pafos af vertrek en by Perge in Pamfilië aangekom. Daar het Johannes hulle verlaat en na Jerusalem toe teruggegaan. 14 Maar hulle het die reis van Perge af voortgesit en in Antiogië in Pisidië gekom. Op die sabbatdag het hulle na die sinagoge toe gegaan en daar gaan sit. 15 Ná die voorlesing uit die wet en die profete het die raadslede van die sinagoge hulle laat weet: ‘Broers, as julle vir die volk ‘n woord van bemoediging het, praat maar.”
Paulus en sy reisgenote het met ’n skip van Pafos af vertrek en by Perge in Pamfilië aangekom waar Johannes Markus hulle verlaat en terugkeer na Jerusalem. Lukas verstrek nie die rede hiervoor nie, maar later sal dit blyk dat hy moontlik nie vir die moeilikhede van die reis kans gesien het nie (15:38). Die moeilikhede op hierdie reis was nie gering nie. In Pamfilië waar Paulus en sy reisgenote nou gereis het, was daar die uitlopers van die Taurusgebergte met baie bergstrome, wat dit vir die reisiger moeilik gemaak het. En om dit nog moeiliker te maak, was hierdie streek onveilig as gevolg van rowers.
Paulus en Barnabas het van Perge af noordwaarts gereis en in Antiogië in Pisidië gekom. Op die sabbat het hulle die offisiële godsdiensoefening van die Jode in die sinagoge bygewoon waar hulle Jode en godvresendes kon ontmoet en met hulle praat. Die leiers van die sinagoge wat vir die ordelike verloop van die erediens gesorg het, het die vreemde mans opgemerk en hulle gevra om ’n woord van bemoediging tot die volk te spreek, ’n woord wat vermaan en vertroos.
Paulus het in elke dorp die sinagoge besoek want daar sou hy die godvresendes en gelowiges vind wat reeds die agtergrond gehad het waarop die evangelie gebou is. Hier sit hulle in ‘n vreemde “kerk” en word gevra om die volk toe te spreek – “Broers, as julle vir die volk ‘n woord van bemoediging het, praat maar.” Terwyl ek hierdie vers gelees het, het ek gewonder waar sou ek begin as iemand in ‘n vreemde kerk wat ek op ‘n Sondag besoek, my sou vra om ‘n woord van bemoediging te spreek. Waar sou jy wat hier lees, begin?
Miskien by die tien gebooie. Die tien gebooie is nie so maklik om te onderhou nie. Baie keer weet ons nie eers lekker wat in die tien gebooie staan nie, wat nog te sê om dit orals in ons lewe toe te pas. Jesus het dit geweet en daarom kom som Hy die wet van God baie eenvoudig op: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die grootste en die eerste gebod. En die tweede, wat hiermee gelyk staan, is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. In hierdie twee gebooie is die hele wet en die profete saamgevat” (Matt. 22:37-40). Markus en Lukas voeg “en met al jou krag” ook by (Mark. 12:30; Luk. 10:27).
Wat ‘n wonderlike Jesus om dit van ons te verwag om “die Here ons God lief te hê met ons hele hart en met ons hele siel en met ons hele verstand en al ons kragte.” God het ons immers geskep volgens Sy beeld, Sy verteenwoordiger, en om dié rede besit Hy ons (Gen. 1:26). Hy is dus inderdaad dit werd, ja duisend maal werd, dat alles in my en jou Hom sal liefhê met ons álles.
Maar ai tog, ons is eerder geneig om die “hele” te verdeel in stuksgewys – om stuksgewys iets van ons te gee, in plaas van ons “hele self!” Ons gun Hom met flentertjies van ons tyd: Sondae ‘n uur vir kerk; gou-gou bid wanneer ek iets nodig het; net gou ‘n stukkie lees uit die Bybel om te hoor wat Hy te sê het net so voor ek gaan slaap, (indien ek na my besige dag dalk tyd kry daarvoor); Hom nader trek in gebed wanneer dit swaar gaan want dan dink ons mos anders aan God as wanneer dit goed gaan. Ons gewetens word daagliks gekonfronteer met hierdie keuse voor die altaar: God, of ’n paar korreltjies, flentertjies wat êrens oorgebly het wat ons nie kon gebruik nie?
Die betekenis van die “hele hart en met ons hele siel en met ons hele verstand en al ons kragte” impliseer dat ons God sal liefhê met ‘n bewuste gevoel, nie net in ons harte nie, maar in ons daaglikse handel en wandel én met ons denke en ál ons kragte. Lees gerus Deuteronomium 6 waar die volk (en ons) gemaan word om die Woord selfs by ons kinders in te skerp, daaroor te praat in ons huise, wanneer ons op pad is, gaan slaap en opstaan – áltyd! En dit met ywer te doen, nie uit gewoonte nie! En sonder verskonings – maar Here, ek het ander belangrike dinge ook om te doen …! Ek moet nog …, ek wil nog …, ek gaan nog …, dan sal ek meer tyd gee aan U, eendag. God se kalender bestaan nie vir eers eendag nie, dis nóú, vandag, élke dag!
God het met ons hele lewe te doen, daarom behoort ons Hom met ons hele lewe te vertrou en Hom met ywer dien. Wanneer ek en jy ons 100% aan God oorgee, verloor ons niks van onsself nie. Inteendeel, ons ontdek 100% onsself by God. Kom ons leef “Godbewus” en Hy sal ons deur sy Gees openbaar wat dit regtig beteken! Ons allesomvattende liefde tot God is 100% die evangelie in aksie!
“As ek kan leer om God liewer te hê as my aardse geliefde, sal ek my geliefde hier op aarde nog liewer kan hê as nou” (CS Lewis).
Gebed: Hemelse Vader, my enigste begeerte is om aan U my hele hart, my begeertes en my siel te gee terwyl ek op U vertrou vir my kragte daarvoor. Amen.
Comments