top of page

Gedagte vir Vandag

Woensdag, 19 April 2023

Koos Espach


Eerste sendingreis: Barnabas en Saulus word uitgestuur (3)

Barnabas en Saulus preek op Siprus (1)


Hou met alles vas aan God


Hand. 13:5 – “... Daar in Salamis het hulle die woord van God in die Joodse sinagoges verkondig. Hulle het Johannes (Markus) by hulle gehad om hulle te help.” (4)


Vergelyk ook Heb. 4:12b en 14 – “Die woord van God is skerper as enige swaard met twee snykante … 14 Terwyl ons dan nou ‘n groot Hoëpriester het wat reeds deur die hemele gegaan het, Jesus, die Seun van God, laat ons vashou aan die geloof wat ons bely.”


Die Woord van God is ook só kragtig dat dit jou hart oopvlek met ’n tweekant-swaard. Die Griekse woord vir mes of swaard beteken letterlik ’n tweemond-swaard, want dit vreet alles voor hom op (Barnes). Dit verorber alles, soos ‘n leeu ’n bok se vleis van die been afskeur. So is die Woord van God ’n mes wat tot binne die mens inglip om dit wat daar binne is, oop te vlek. Die Woord van God kry dit reg om die motiewe van die mens, die ware rede waarom ons dinge doen en nie doen nie, aan die lig te bring, selfs ons grootste vrese.


Meeste van ons het iéts waarvoor ons bang is. Die meeste is bang vir hulle oudag; baie het Suid-Afrika verlaat omdat hulle die toekoms hier vrees. Ons mag maar daardie bang-wees-ding, ons eie maak. Dit is menslik dat ons soms bang is, al is ons Christene. Maar dit is nie waaraan ons moet vashou nie. As ons dit doen, sê Paulus is ons die bejammerenswaardigste van alle mense (1Kor. 15:19).


Tydens die hooggety van Covid-19, is daar ‘n blits opname aan veral jongmense geloods om uit te vind wat hulle die meeste bekommer. Die top kwellinge was die volgende: Ek is bang my familie raak siek; ek is bang iemand naby my gaan dood; ek is bang vir die toekoms; ek is bang om siek te word; gaan ek skool kan klaarmaak? Gaan ek slaag met ál die dreigemente teen skole wat nie wil sluit tydens die pandemie nie; ouers wat nie werk het nie; ek is bang vir die nuwe normaal. En tog, as ons hierdie lysie van ergste vrese oor vyf jaar verder, weer sou naslaan, sal ons ontdek dat bitter min vrese gerealiseer het.


Ons moet stadig hierdeur lees, want dit vertel ’n baie groot storie. ’n Storie van bang vir wat môre gaan gebeur. Daar is soveel onsekerheid by die jeug. Dit is ook nie net die jongmense se wêreld wat so lyk nie, ons grootmense se wêreld lyk ook so. Die meeste is bang. Die meeste is onseker. Niemand kan sommer sê hoe môre gaan werk nie. Ons mense is nie lekker hiervoor gebou nie. Ons wil weet hoe môre lyk. Ons wil beplan. Ons wil nie onverhoeds betrap word nie. Alles is so deurmekaar. Waaraan kan ons vashou? Waarvoor is ons nóg bang? Wat vrees ons steeds? Wat nóg maak ons onseker?


Daar is baie gelowiges, Godskinders, Jesusvolgelinge wat met hierdie dinge sukkel, skryf Barend Vos. Ons sukkel om oor positiewe dinge te praat. Maar gelukkig weet ons Jesusvolgelinge, dat hoop nie maar, soos die spreekwoord lui: “hoop op die beste”, is nie. By ons is hoop per slot van rekening, ‘n Persoon! Jesus Christus is ons Lewende Hoop. Ek en jy kan nou minder bang wees. Ons kan met albei hande vashou aan God want te midde van ons vrees, word ons deur God se liefde omsluit! Ons het weer hoop. Hoop is soos ‘n venster wat ons wyd kan oopmaak en voor die oop venster, God wat hoop is, kan sien!


Daar is nie eintlik iets in hierdie wêreld waarop ons kan vertrou nie. Ons kan slegs op God vertrou. Ons bely dat ons God vertrou en daaraan moet ons met albei hande styf vashou. Ons moet vashou aan die wete dat Sy Seun vir ons aan die kruis gesterf het. “Hy het reeds deur die hemele gegaan, laat ons vashou aan die geloof wat ons bely.” "Moenie bang wees nie," is die Here se trooswoord wat van geslag tot geslag aangegee word en wat selfs oor die dood en die graf heen reik. Daarom kan ons met sekerheid sê dat ons eendag wanneer ons die onbetroubare wêreld verlaat, die hemel kan instap.


Met alles in ons moet ons vashou aan die wete dat God altyd daar sal wees vir ons. Ook hier waar ons nog in die wêreld lewe en onseker is, kan ons beslis weet dat God daar is en ons al die pad sal beskerm. Die Here sê 366 keer in die Bybel: “Moenie bang wees nie.” Minstens een keer elke dag vir ‘n hele jaar, is ons angs getemper. Omdat ek en jy wéét dat God by ons is, kan ek en jy vandag bely: “God is my redder; ek vertrou op Hom, ek is nie meer bang nie. Die Here my God is my krag en my beskerming; Hy is my redder” (Jes. 12:2).


“Omdat geen mens uitgesluit is om tot God te roep nie, staan die hekke van verlossing oop vir almal. Daar is niks wat ons kan verhinder om in te gaan nie, behalwe ons eie ongeloof” (Johannes Calvyn).


Gebed: Hemel Vader, vandag wil ek al my vrese voor U voete kom neerlê. U weet reeds van elkeen van hulle. Maar, ek vertrou op U, ek is nie meer bang nie. Ek is geseënd, omdat U my hoop is. O Here-van-ons-hoop, leer ons om die vensters van hooploosheid wyd oop te gooi, sodat ons U kan sien. Amen.


Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page