Gedagte vir Vandag
Vrydag, 14 April 2023
Koos Espach
Eerste sendingreis: Barnabas en Saulus word uitgestuur (3)
Barnabas en Saulus preek op Siprus (1)
Waar sit ek en jy?
Hand. 13:4-5 – “So is Barnabas en Saulus deur die Heilige Gees uitgestuur. Hulle het na Seleukië toe gegaan en daarvandaan na Siprus toe oorgevaar 5 en in Salamis aangekom. Daar het hulle die woord van God in die Joodse sinagoges verkondig. Hulle het Johannes by hulle gehad om hulle te help.”
Alhoewel die kerk in Antiogië Barnabas en Saulus met handoplegging afgesonder het om die evangelie te gaan verkondig, benadruk Lukas dat hulle deur die Heilige Gees uitgestuur is. Oral waar hulle sou gaan, sou hulle as gesante van die Gees gaan. Op hulle eerste skof van hulle reis gaan hulle na die hawe van Seleukië, ongeveer 25km van Antiogië af, en vandaar na Salamis, ‘n hawestad aan die oostekant van Siprus. (Die hawe is 300 v.C. opgerig en nog steeds die hawe van die huidige Turkse stad Antakya). Lukas merk verder op dat hulle Johannes Markus (later die skrywer van “Die Evangelie volgens Markus”), ook op hierdie reis saamgeneem het. Hoewel hy nie deur die Gees geroep is en nie deur die gemeente afgevaardig is nie, het hy saamgegaan om met die prediking van die evangelie te help.
Hulle het dadelik begin om die Woord van God (die evangelie), in die sinagoges van die Jode te verkondig. Twee redes kan hiervoor aangevoer word: Volgens Romeine 1:16 en 2:9-10 beskou Paulus die evangelie as eerstens vir die Jood en ook vir die Griek. Die Jode in die verstrooiing buite Palestina moes ook die evangelie van Christus hoor, om te aanvaar of van die hand te wys (vgl. Hand. 13:46), en in die sinagoges tref hulle gewoonlik ook die godvresendes aan, wat die mees vatbares vir die evangelie was.
Iemand het gesê die kerk is nie ‘n museum vir heiliges nie, maar ‘n hospitaal vir sondaars; die kerk is daar ter wille van almal wat nog nie deel is van ‘n kerk nie; ‘n kerk mag nooit ‘n plek word waar gelowiges hulle afsluit van alles en almal daarbuite nie. Nou die vraag: Wie is die kerk? Rick Warren gee die maklike antwoord: Ek en jy wat in Jesus Christus glo! Die kerk is nie die leraar of kerkraad nie, dit is een groot familie waar elke gelowige ‘n volwaardige familielid is – “Almal wat Jesus Christus aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word” (Joh. 1:12).
Die kerk in Antiogië in Sirië het besef dat hulle as kerk die boodskap van Jesus se verlossing nie net vir hulleself kon hou nie. Die Heilige Gees het hulle gelei om hulle twee mees dinamiese leiers, Barnabas en Saulus/Paulus af te staan aan die sendingveld. Net so moet ek en jy besef, dat ons die kerk is. As ons nie ‘n verskil kan maak nie, sal niemand anders dit doen nie. Ek en jy moet op die pad van die Heilige Gees na die wêreld begin stap, die wêreld waar ons leef en werk. Dit is ons verantwoordelikheid om mekaar op die regte spoor te hou. As ons weet van iemand wat geestelik twyfel, is dit eintlik ons gelowiges se plig om hom of haar deel te maak van ons kerkfamilie. Jakobus sê: “My broers (en susters), as een van julle van die waarheid afdwaal en iemand sou hom (haar) terugbring, weet dan dat hy wat ‘n sondaar van sy (haar) dwaalweg terugbring, hom (haar) uit die dood red ...” (Jak. 5:19-20).
God het die kerk op aarde geskep. Daarom is dit noodsaaklik om ‘n gesonde kerklewe te hê. Die verskil tussen ‘n kerkganger en ‘n kerklidmaat lê in ons toewyding. Ons lees, kerkgangers kyk van die kantlyn toe en lidmate raak betrokke. Kerkgangers is verbruikers en lidmate is bydraers. Ons moet behoort, en nie net glo nie. Rick Warren sê in sy boek, “die Doelgerigte Lewe”, ons Christene se lewe is meer as net ‘n verbintenis tot Christus. Dit sluit ‘n verbintenis tot ander mense in. Ons word Christene deur ons aan Christus toe te wy, maar ons word lidmate van ‘n kerk deur onsself aan ‘n bepaalde groep gelowiges toe te wy. Om aan Christus toegewy te wees, bring verlossing mee; om toegewy tot ‘n bepaalde groep gelowiges te wees, bring gemeenskap in Christus mee.
As ek en jy die kerk is, is dit nodig om betrokke te raak. Iemand sê eendag vir my hy gaan nie kerk toe nie want daar is te veel skynheiliges. Sondae sit hulle met hulle skynheilige gesiggies in die voorste gestoeltes van die kerk maar deur die week verander daardie vroom kerktaal in duiweltaal. Dis seker waar, maar daar is plek vir hom ook. “God het ons immers almal uit genade gered. God het ons wat dood was as gevolg van ons oortredings, saam met Christus uit die dood opgewek ...” (Ef. 2:5-6).
In die wêreld is daar baie sitters. Christus wil graag hê ons moet “kerk-sitters” wees wat betrokke is. Maar baie is nie altyd gewillig om voorgesê te word waar hulle moet sit nie. Die “draad-sitters” is hulle wat met die een been in die wêreld en die ander in die hemel wil wees; die “ver-sitters” bly eerder weg wanneer daar iets van hulle gevra word; die “af-sitters” is daardie ouens wat gelowiges weghou van Jesus vanweë hulle skerp tonge en kritiese oë, dié wat konsuis nie deel van die “skynheiliges” wil wees nie; die “stoep-sitters” wat gerieflik net wil sit en nie in beweging wil kom nie; “aan-sitters” steek met hulle vurige tonge aan die brand en saai verwoesting; en dan die “be-sitters”: hulle wat die ewige lewe besit en wat met vaste beginsels saam met God wandel, die oë gevestig op Jesus, ons Verlosser en Leidsman. Waar sit jy?
“God kies en roep sy kerk om sy Storie aan die wêreld te vertel. Die storie van Sy dood wat ons lewe geword het. Ons is bedienaars van die versoening; ons is die lig vir die nasies” (Ockert Meyer).
Gebed: Here Jesus, dankie, op grond van U oorwinning kan ek ook in die gawes van die Heilige Gees deel. Maak van my ‘n “be-sitter” asseblief. Amen.
コメント